Projek Samaritaan – sop beveg honger

Deur: Ds. Why Duvenhage

Ons het reeds op verskeie platforms breedvoerig met lidmate gekommunikeer rakende Projek Samaritaan, wat op die kerkraad se inisiatief van stapel gestuur  is.  Die projek wil nood van watter aard ook al, insluitend nood gekoppel aan die Covid-19-pandemie, op verskeie maniere, soos deur middel van die entrepreneursprojek en die familienetwerk, aanpak.  Volledige  inligting oor hierdie aksies is op ons webwerf beskikbaar.

Die grootste komponent van Projek Samaritaan bly steeds voedselhulp.  Ek is baie dankbaar vir die sterk span helpers wat by die kosprojek betrokke is, want die nood is werklik enorm.

Ons is ook dankbaar vir die 30 persone wat weekliks help sop kook.  Volgens Anéne Nortier, wat met die koördinering van die sopkokers behulpsaam is, voorsien baie van dié mense die sopbestanddele uit hulle eie sakke. Nog helpers sal báie welkom wees, sodat sopkokers soms ’n ruskans gegun kan word.

Ons voorsien twee sopkombuise in Khayelitsha van sop, wat dit dan aan kinders daar bedien. Sopkombuise in Ravensmead en Wesbank ontvang ook sop.  Aan gesinne in Ysterplaat en Ruyterwacht verskaf ons  bevrore sop in 2 liter-roomysbakke.  Sover dit vir ons moontlik is, gee ons ook aan ongeveer 90 gesinne ’n kospakkie saam met die sop en as ons enige ander skenkings sou ontvang, word dit uitgedeel.  Ons het byvoorbeeld onlangs 430 kg hoenderborsies wat deur een van ons lidmate geskenk is, aan gesinne in Ysterplaat en ander gebiede uitgedeel. Ook is ’n ongelooflike groot skenking groente en vrugte vanuit die Koue Bokkeveld ontvang, wat ons ook kon versprei .

Ek het die afgelope week die Kannaland-distrik, waarnatoe ons voorheen jaarliks uitgereik het, besoek.  Op Zoar het ek Henk en Netta Barry se sopkombuis, waar hulle twee keer per week sop vir tussen 400 en 500 kinders kook, besoek.  Van die Koue Bokkeveld se groenteskenking en die hoenderskenking is ook vir hulle gegee.

Op Calitzdorp het ek veral die verafgeleë plase saam met Isabel Steenkamp, ’n plaaslike onderwyseres, besoek.  Daardie kinders woon baie ver van die skool af en dit is daarom  vir hulle moeilik om die voedingskemas wat by die skole aangebied word, te bereik. Ons kon daar ook verligting met kos bied.  Isabel besoek die verafgeleë plase weekliks om hulle met kosvoorrade te ondersteun.

Nood bly nood en solank daar nood is, hoop ek dat ons in staat sal wees om te help.  Ons bedien alle honger mense, ongeag kultuur en nasionaliteit en probeer werklik, veral op aanbeveling van ons medewerkers in die gemeenskappe, om die mense wat nie op ander plekke hulp ontvang nie, te bereik en te ondersteun.