Pinkster fokus op die ritmes van die lewe

Deur: ds. Johan Visser

Tom Smith skryf in sy boek Raw Spirituality  daar is sekere ritmes aan die hart van ons verhouding met Jesus, wat ons lewens as kinders van God, orden. Hierdie ritmes gee aan ons ’n duidelike visie vir ons lewenspad, helderheid oor ons roeping, asook oor ons daaglikse kontak met God, mekaar en alle ander mense, waarsonder ons lewe leeg en doelloos sal wees. Ons benodig hierdie ritmes omdat dit ons ook help om iewers te behoort.

Ek gaan tydens my aanbieding van die komende Pinksterreeks swaar leun op Tom Smith se handleiding Rythm of life, omdat ek glo elke gelowige kan baie waarde uit die ontginning van hierdie ritmes put.

Die handleiding sal aan Pinkstergangers – as medereisigers tydens Pinkster – beskikbaar gestel word. Ek wil vra dat lidmate in die Pinkstertyd  daagliks moet stilword en die Lectio Divina-metode, wat in die handleiding omskryf word, sal benut om hulle eie, individuele ritmes saam met Jesus te orden en te beoefen.  Die Bybel moet gelees en gehoor word en die Lectio Divina-metode is ’n ou luistermetode van die vroeë kerk, wat ons steeds kan help om die Bybel te “hoor”.  Gebruik asseblief die handleiding om saam met my in die teks van die dag te wandel en die beskikbare vrae te bestudeer.

Die handleiding kan HIER, of op die gemeente se webwerf, afgelaai word en harde kopieë sal ook tydens Pinkster in die kerk se voorportaal beskikbaar wees.  In die handleiding word ag ritmes van ’n mens se geestelike lewe aangeraak.  Die ritmes word soos volg uiteengesit:

  • Watter beeld het ek van God en myself?
  • Hoe lyk my ontmoetings met God?
  • Wie is my reisgenote?
  • Wat is die unieke bydrae wat ek kan lewer?
  • Hoe kan ek tot seën vir my gemeenskap wees?
  • Hoe gebruik ek my tyd en hulpbronne?
  • Wie, wat tans uitgesluit is, verwag God van my om in te sluit.
  • In watter deel van my lewe benodig ek heling?

Ek is opgewonde oor die Pinksterreeks en die voorreg om dit met julle, my medereisigers, op elkeen van ons se geloofspad, te deel.  Die Pinksterreeks begin op Sondag 29 Mei om 09:00 in die kerk.  Die familie- en meditatiewe dienste skakel dan ook by dié Pinksterdiens in.  Vanaf Maandag 30 Mei tot 2 Junie word Pinksterdienste om 19:00 in die kerk aangebied met Kinderpinkster in dieselfde tydgleuf in die kleinsaal.  Oggendpinkster is vanaf 30 Mei tot 3 Junie om 10:00 in die kerk.  Die Pinksterreeks word op Sondag 5 Junie om 09:00 met die Pinksterfees en die viering van die nagmaal afgesluit.

 

| Handleiding vir Pinksterreeks