Pinkster 2024: Jy is wat jy lief het

“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”  2 Korintiërs 3:18 

Met Pinkster vier ons elke jaar die uitstorting van die Gees – God self wat in ons kom woon om ons lewens te rig en te lei, wat ons vorm om meer en meer soos Christus te wees. Die Gees wat in ons kom woon is ’n eenmalige gebeurtenis, maar die Gees werk nie eenmalig nie. Die Gees vorm ons elke dag om meer en meer aan die beeld van Christus gelyk te word. 

Die vraag is: Hoe vorm die Gees ons? 

Dít is die vraag waarmee ons hierdie Pinkster besig gaan wees.  

Die sleutel tot hierdie vraag, lê in die hart. Ons leer ons kinders dat ons “ons hartjies vir Jesus moet gee” en sê dat, wanneer ons glo, die Here “in ons hart kom bly”.  Maar dit gebeur so maklik dat ons die Here uit ons harte skuif na ons koppe toe en iets van ons geloof maak waaroor ons op die regte manier moet dink of glo, eerder as iets waarvoor ons ons harte moet gee. Daar is niks fout met mooi denke oor God nie, maar dit is waarvoor jy jou hart gee, wat jou vorm. 

So waarvoor gee jy jou hart? Wat gebeur wanneer die Gees in ons harte bly? 

Kom hierdie Pinksterreeks saam op reis en ontdek wat alles ons harte vorm en hoe die Gees ons harte vorm om meer en meer soos Christus te wees. 

Die reeks word baseer op ’n merkwaardige boek van James K.A. Smith met die naam You are what you love. Vir ’n kort inleiding tot die tema van die reeks, kyk gerus die video hier onder:  

Die week se temas is: 

Sondag 12 Mei om 18:00 in die kerk – Hoe vorm die Gees ons? 

Maandag 13 Mei om 18:30 in die kerk – Waarvoor gee jy jou hart? 

Dinsdag -14 Mei om 18:30 in die kerk –  (Her)vorm? 

Woensdag 15 Mei om 18:30 in die kerk – Van watter storie vorm ek ’n deel? 

Donderdag 16 Mei om 18:30 in die kerk – Watter gewoontes help ons vorm? 

Sondag 19 Mei om 09:00 in die kerk – Jy is wat jy liefhet (nagmaal) 

Onthou ook dat die Kinderpinksterreeks op Sondag 12 Mei om 18:00 in die kleinsaal begin.  Kinderpinkster is vanaf Maandag 14 Mei tot Donderdag 16 Mei elke aand om 18:30 in die kleinsaal.  Oggendpinkster is vanaf 13 tot 17 Mei om 10:00 in die kerk.

Ons gaan saans na die Aandpinksterdiens saam sop eet in die markplein.