Deur: Dr. Theo Swart
Parowvallei-Oos-gemeente is naby Tygerberg Hospitaal in ’n arm gemeenskap geleë, met min hulpbronne en nog minder finansies. Tog is ons baie ryk aan genade. Dis ’n inklusiewe gemeente, almal is welkom en meer as ’n derde van die lidmate is nie van ligte gelaat nie en lyk nie soos wat ’n mens tradisionele NG Kerk-lidmate sou beskryf nie.
’n Mens sou maklik kon sê dat Afrika na ons deure gekom het. Ons het ’n swart dominee, ’n mengelmoes lidmate, onder andere van Franse afkoms en het ook al ons eerste baba, wie se ouers uit Zimbabwe kom en by ons lidmate geword het, gedoop. Eredienste en alle ander aanbiedings word dus afwisselend in Afrikaans en Engels aangebied sodat elkeen ten minste 50% van wat gebeur, verstaan. Hier word lidmate gesien as familie en almal doen en vier alles saam. Kerkgangers word soos ou vriende met ’n drukkie verwelkom en ’n spesiale kruisie word aan eerste besoekers uitgedeel. Ons kerkgebou, wat ’n bymekaarkomplek vir die hele gemeenskap is, is in ’n uitstekende toestand en motiveer ook sommer almal rondom die kerk om hulle eie huise ’n bietjie mooier te maak en op te knap.
Vanweë die klem op nabyheid, fisiese kontak en groot betrokkenheid by die breër gemeenskap, het Covid-19 ons gemeente se unieke saamwees, maar veral ons omgee in die gemeenskap, hard getref. Verskeie projekte moes tydens die grendeltyd sneuwel. Veral ons bekendste en gewildste projek, die Care Coffee Corner, wat een maal per kwartaal op ’n Vrydag van vyf- tot agtuur soggens – winter of somer, reën of donkerte – aangebied was, is veral deur die pandemie-ingeperking in die wiele gery. Ons kon dus nou al minstens drie keer nie meer sowat 300 gratis koppies koffie, beskuit en Christelike literatuur op die kerk se straathoek uitdeel nie. Ons Nurses Sunday moes ook virtueel aangebied word. Ook die tiende Comrades-diens (wat altyd een week voor die Comrades plaasvind) en deur meer as 400 mense bygewoon word, is uitgestel tot 2021 en ons vakansieprogram vir kinders van 6 to 12 jaar moes ook afgestel word.
Ons geregistreerde niewinsgewindeorganisasie, met die akroniem PERCUP as naam, waarmee ons sonder ’n kerklike konnotasie, in die gemeenskap werk, het swaar onder die kwarantyn gely!
Ons finansies het egter, genadiglik, konstant gebly en nie ’n ventilator nodig gehad nie. Die bydrae van Stellenberg, vir my werk by Edelweiss, het hier ook baie gehelp. Baie dankie aan Stellenberg-gemeente!
Met die skielike aanbreek van die grendeltyd moes ons natuurlik dadelik aanpas by die nuwe situasie en het deur die genade daarin geslaag om ons grense selfs verder te verskuif. Deur middel van ’n Facebookbladsy en ’n WhatsApp-groep wat vir die uitsaai van Sondae se preke ingespan is, is daar nou bykans 200 mense wat na Sondae se preke luister, teenoor die ongeveer 100 weeklikse kerkgangers voor die virus. Ons lidmate het nie baie data tot hulle beskikking nie en daarom word slegs die klankbaan, sonder beeld, beskikbaar gestel – ook omdat hulle dominee nou nie eintlik ’n TV-gesig het nie . . . volgens berigte. Die Care Coffee Corner, wat voorheen op nielidmate gemik was, is virtueel ook na ons eie gemeentelede geneem en hulle kon dan saam met my koffie drink via ’n skakel op WhatsApp. Die reaksie op ons kuiers was baie positief.
Ons beplan om teen 6 September weer met eredienste te begin. Gelukkig is dit vir ons makliker om net die toegelate 50 lidmate per diens in die kerk te ontvang, as vir groter en makrogemeentes wat kerkgangers tot 50 per diens moet beperk. Ons tannies bedink ook alweer allerlei planne vir woekerprojekte en ons hoop om binnekort weer heerlike pasteie aan ons ondersteuners te verskaf!
Covid-19 kon ons nie keer om ons roeping na te kom nie!
Saam met Jesus na sy nuwe Wêreld. | Together with Jesus to His new World.
As jy meer van ons gemeente wil weet, gaan besoek gerus ons webwerf http://parowvallei-oos.co.za/ of Facebookblad, of kontak Theo Swart by tswart@netactive.co.za.