Outeniekwa-pelgrimstog – Stap nader aan God en nader aan mekaar

Deur: Ds. Marius Schoombie

” Gelukkig is mense  wie se krag in U lê!   Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes” ~ Psalm 84:6

Ons hele lewe is ’n reis saam met God, nader aan God. In enige verhouding gebeur dit so maklik dat ons verby mekaar begin leef – wanneer die lewe te besig raak, of wanneer ons in gewoonte verval en amper op “autopilot” begin leef. Ons besef dan dat ons die roetine moet breek en weer doelbewus nader aan mekaar moet beweeg. Dieselfde is waar vir ons verhouding met God. Soms is dit nodig om ons af te sonder en intensioneel weer nader aan God te beweeg. Psalm 84 sê dit so mooi: Pelgrimstogte leef in die gedagtes van dié wie se krag in God lê. ’n Pelgrimstog is juis dit – ’n intensionele reis (saam met ander) wat jou nader aan God (en nader aan mekaar) bring. Selfs Jesus het somtyds, saam met sy dissipels, teen ’n berg opgeklim om in afsondering tyd met God deur te bring.

Tydens die Oktobervakansie het ’n groep stappers van Stellenberg-gemeente en die Klipheuwel-gemeenskap saam ’n pelgrimstog in die Outeniekwaberge aangepak. Vir drie dae en vier nagte het hierdie twee gemeenskappe saam gereis – nader aan God. Hierdie reis het ons ook nader aan mekaar gebring.

Vir die meeste van die groep was dit die eerste keer dat hulle só staptog aangedurf het. Dit was nie ’n maklike stapervaring nie: ’n klomp uitdagings, seer bene en moeë lywe, koue storte en ure se stap in die reën. ’n Ander groep wat ’n dag vroeër begin het, moes selfs terugdraai omdat die pad te moeilik geraak het. Maar pelgrimstogte is nie veronderstel om maklik te wees nie. En dit is juis hierdie uitdagings wat hierdie twee verskillende gemeenskappe nader aan mekaar gebring het en ons almal weer ons afhanklikheid van God laat besef het.

Een van die stappers van Klipheuwel, Thuto, getuig op ’n besonderse manier hiervan in ’n boodskap aan die groep na die staptog:

“Guys what I want to share is Jesus made a way to change me that week. He turned fear into faith, hate into love, poverty into plenty, darkness into light, suffering into healing. Our God I thank you. Honestly it was my first time to see the Beautiful Nature so also thank you for all of this His Name is the Highest!

’n Ander stapper van Stellenberg, Angelique, sou op dag twee van die pelgrimstog opmerk:

“Ek sou hierdie nooit uit my eie uit doen nie. Ek beleef nog altyd die Here in die natuur en is so dankbaar dat ons hierdie geleentheid gekry het. Wat dit vir my nog meer spesiaal maak, is dat ons dit saam met mense uit ’n ander gemeenskap kan doen. Dit is vir my so lekker om meer van ander kulture te leer en nuwe mense te ontmoet en saam met mense wat anders as ek is te stap. Ek dink dit is so nodig in Suid-Afrika en dit maak my bubble soveel groter.”

Een van Stellenberg-gemeente se medewerkers, wat in Klipheuwel met die jeug werk, het ook na die tyd opgemerk:

“The hike, for me, was great time with God. Got to know people better as we walked. We do  have weakness and strength, in me and you. But when we  are together we strengthen each other as ONE as we TEAM up with JESUS, GOD FATHER, HOLY SPIRIT .

I also learnt we hear God better when we walk in nature and time to listen and watch and look around at what God is doing in nature – peace, calmness, his love and grace and to be alive is greatest gift that we often don’t take time to talk about.

Thanks to Stellenberg Church for Organizing and sponsorship towards this hike.”

Daar is so baie dinge wat gemeenskappe uitmekaar hou in ons land, wat veroorsaak dat ons verby mekaar leef en verby God leef. Hierdie pelgrimstog was ’n oomblik van hoop vir eenheid in ons land. Ons hoop om meer sulke geleenthede te skep waar Stellenberg en Klipheuwel saam kan beweeg: nader aan God, nader aan mekaar, saam ’n verskil kan maak en saam vernuwe kan word.

Na hierdie staptog, leef die pelgrimstogte ook in ons gedagtes.