Twee van Stellenberg-gemeente se ouderlinge, Karen Visagie en Dirmü Gouws, het gaan hand bysit by die Mother Soup Project in Woodstock.
Karen vertel dat die Woodstock Brouery besluit het om hulle bierketels tydens die inperking in te span vir die kook van sop. Hulle het met die hulp van voedseltegnoloë, dieetkundiges en sjefs, ’n voedsame en smaaklike sop ontwikkel en word daar nou daagliks 7 000 liter sop in die bierketels gekook. Hulle het selfs al soveel as 14 000 liter sop op ’n dag gekook en het tydens die inperkingstyd al meer as ’n miljoen maaltye aan honger mense voorsien.
Verspreiding vind plaas in samewerking met die GCU Akademie en hulle poog om die mees kwesbare mense in die sameweling te bereik. Vrywilligers uit die gemeenskap word daagliks tussen 10:00 en 14:00 ingespan om groente te skil.
Ons gemeente lewer ook weekliks sop aan Khayelitsha, Delf, Ysterplaat en Kraaifontein. Indien jy by die dringende voedselnood betrokke wil raak, kan jy gerus oorweeg om weekliks ‘n pot sop by jou huis te kook en in bevrore formaat by die kerkkantoor af te gee. Stuur vir Anéne Nortier ’n WhatsApp-boodskap by 083 581 6930 indien jy wil help.
Indien jy by die sopprojek in Woodstock hulp wil aanbied, stuur ’n WhatsApp na 083 407 3972.