Oudleraars aan die woord . . .

Daniël Louw (1976 – 1978)

Vir altemit!

Vir my was dit ’n geweldige verandering vanaf Wynberg-gemeente met die uitermatige kompleksiteit van ministers in Bishopscourt aan die een kant tot padwerkers in Philippikamp op die Kaapse vlakte, na Stellenberg met ’n redelik homogene groep meestal jongmense. Ek was maar 32 jaar oud en as ek reg onthou, was die gemiddelde ouderdom van lidmate in daardie stadium so 33, 34 jaar. Een Sondag moes ek 19 kinders doop.  Ek het elke ouerpaar afsonderlik drie keer gaan besoek om vir die doop voor te berei!

Alles in Stellenberg het glad verloop en ek het soms gevoel soos ’n spaarwiel in ’n Mercedes-Benz 500. Ek moet daar wees, maar net, soos die oom op Ceres gesê het: “Vir altemit!” Net vir ingeval en noodgeval.

Tog het ek gou uitgevind dat selfs al is ons jonk, is ons broos en het ons mekaar nodig.

Huisbesoek was vir my belangrik. Een aand, teen die late, stap ek af in Katzenellenbogensingel om huisbesoek te gaan doen. Ek lui die klokkie en toe die vrou van die huis oopmaak, raak sy onbedaarlik aan die huil toe sy die ‘predikantjie’ sien.  Haar man was op die grens en sy het gedink ek kom bring die doodstyding.

Verlede jaar loop ek ’n lidmaat uit Stellenberg in die Spar op Stellenbosch raak.  Hy keer my voor en sê dat hy destyds so geskok oor my was.  Ek het die basaar met tekkies aan geopen, want ek het pas van die tennisbaan af gekom.  Hy kon sy oë nie glo nie.

Ek en ds. Visser, my medeleraar asook die gemeente se eerste leraar, het op die oog af radikaal van mekaar verskil.  Hy was altyd in wit en swart geklee en hier kom ’n ou met tekkies aan – soms ook sommer kaalvoet soos die “verflenterde kaalvoet klonkie wat groente – evangelie – verkoop in die reën”.  Tog het ons lekker saamgewerk en mekaar aangevul.

Liefie, sy vrou, het my altyd aan ’n skoenlapper op ’n geel papawer laat dink.  Sy was ’n toegewyde, regte predikantsvrou.  Sy het my laat belowe dat as sy voor oom Joos gaan, en hy trou gou weer, ek hom met ’n sweep sal slaan. Daar was juis ’n oom in Stellenberg wat drie weke na sy vrou se dood weer getrou het.  Vir tannie Liefie was dit ’n bitter pil.  Genadiglik het sy oom Joos oorleef!

Net so terloops.  Omdat ds. Visser langs die kerk gewoon het, het hy een besondere Saterdag waarop hy ’n huwelik moes voltrek, eers ’n bietjie gaan skuins lê.  Die koster (oom Schreuder) gaan roep hom later en hy is gou op die kansel.  Hy was egter nog so ’n bietjie verdwaas en, met die paartjie voor hom, val hy weg met die doopformulier.   Hy besef dadelik sy fout en slaan oor na die huweliksformulier.  Toe hul in die konsistorie kom om die register te teken, kom die bruid se ma na hom.  Sy was woedend en sê: “Hoe kon jy ons só verneder het.  Dit is net ek en my dogter wat geweet het sy is swanger!”

Ek het self ook ’n slag sleg oorgekom. Die pastorie in Constantialaan was in aanbou.  Ek en my vrou moes ingaan stad toe om gordynmateriaal te gaan uitsoek.  Dit was ’n Vrydag en ek moes later die dag ’n huwelik in Durbanville voltrek.  Dit was so kwart voor sewe toe ons by die huis kom.  Ek moes eers gou ’n gloeilampie in ’n kamer indraai.  My vrou kom vyf oor sewe  ingestorm en sê: “Jy het al om seweuur  ’n troue in Durbanville gehad!”  Soos ek op die leer staan, begin ek uittrek.  Vyf en twintig minute later staan ek op Durbanville moederkerk se kansel.  Dit is ’n spogtroue en die orrel speel. Toe die bruid inkom, snik sy soos sy huil.  Ek tooi die evangelie rondom liefde, kerslig en sjampanje.  Maar niks kon die ontstelde bruid oor my laatkommery laat bedaar nie.  Jare later loop ek haar en haar man in Welgelegen-gemeente (Stellenbosch) waar ek lidmaat was, raak.  Ons kon toe lekker oor die episode lag, want sy sê toe: “Ek het betyds geleer om in die huwelik te huil, want net trane help jou om met ’n koppige man saam te leef.”  Die egpaar is steeds gelukkig getroud!

Nou ja, begin Februarie 1978 is ek na die Kweekskool.  En hier het ‘Altemit’ sy ‘Moses’ teëgekom en ook sy ‘Heiland’ leer ken.  Die kuratorium was ’n harde baas.  Ek tree in 2005 af, maar moes weens omstandighede tot 2015 aanbly.  Ek is steeds navorser aan die Fakulteit Teologie en buitengewone professor by die Universiteit van die Vrystaat, asook Potchefstroom.

Ons woon tans in die aftreeoord Paradyskloofvillas in Stellenbosch. Maar hier het ek nie net my ‘Moses’ teëgekom nie, maar ook my ‘Goliat’.

Ek werk hier in die tuin van die aftreeoord en koel dan af in die swembad.  Ek is van die min inwoners wat genadiglik nog kan in en uit.  Toe ek eenkeer van vakansie terugkom, is daar ’n formele klag teen my by die trustees.  Die klag: Ek swem met my vuil, stink, sweetlyf in hul swembad!  Ek weet nie waar die antie aan my geruik het nie, maar ’n mens het genade in ’n aftreeoord nodig!

Gelukkig help Paulus my: Ons versprei ’n reuk van die lewe tot die lewe. So, ek tref voorbereidings vir die Vaderhuis.  Ek hoop net ek sal nog kan gaan duik in Openbaring se “see van glas”, soos hier by Franskraal waar ons nou in afsondering wag op inenting.

Nico Louw (1980 – 1981)

Nico Louw saam met sy seun, Jakkie. Hy is ’n bekende Afrikaanse sanger.

 

Dit was my besondere voorreg om vir een jaar, 1980, predikant te kon wees van die gemeente Stellenberg.  Ons gesin het ingestap in ‘n splinternuwe huis en kon nog die finale afronding self kies.

Met my eerste erediens het die leierouderling, dr. Helmut Weich, my ingewag met die woorde: “Dankie, nou kan ek uiteindelik die kleed van die man met die meeste kinders, ses, oorhandig aan hierdie nuwe dominee met sewe kinders.”

Di. Joos Visser en Kobus Koch het ons met groot liefde en sorg gedra en die humor van kerkwees, met ds. Visser aan die stuur, het nie agtergebly nie.  Die oorskakeling van die ou moedergemeente in Oudtshoorn waar ons tien jaar was, wat hoofsaaklik uit ouer mense en hoërskoolkinders (drie skoolkoshuise) bestaan het, na hierdie nuwe moderne stadsgemeente, was nie so maklik nie.  Ek het baie gou besef die mense wat voor my sit, is hoofsaaklik professionele mense – hoe en wat moes ek vir hulle preek?  Die Here het vir my ’n woord gegee.  My intreepreek was geskoei op Johannes die Doper se intreepreek.  Toe gevra is wie hy is, was sy antwoord: “Ek is ‘n stem – niks meer nie.”

En dit was my groot taak en groot voorreg om elke keer die een of ander verrassing uit God se mond oor te dra en ek sal die nederige en opregte waardering van Stellenberg se mense nooit vergeet nie.

Ek beskou hierdie een jaar se bediening as ‘n groot geskenk en ‘n geseënde oorskakeling na Kenridge-gemeente.  Stellenberg was ’n brug na my volgende en laaste taak, 25 jaar in ’n gemeente wat van 560 lidmate tot 6 000 gegroei het.

Mag Stellenberg ‘n lig van oorwinning vir almal wat daar in hierdie donker tye skuil, wees.

Bremer Gericke (1981 – 2017)

Stellenberg: Meer as ’n mens

In Stellenberg het ons baie saam gelag en dikwels saam gehuil.  Ons het gebid en beplan en gewerk, daar was uitdagings en teleurstellings en goeie stories.  Stories – daar is soveel stories.  Ons gesin het meer as drie dekades in Stellenberg gewerk en geleef en ons is dankbaar dat die veelkleurige Stellenberg-stories deel van ons lewensverhaal is.

Amper 40 jaar gelede is daar besluit: ons bly een gemeente al was dit ongehoord vir daardie tyd.  En ’n paar jaar later: ons gaan oor alle grense heen uitreik.  Dit was altyd moeilik om ’n ruimte vir kritiese denke  te skep in ’n omgewing waar die meerderheid mense primêr konvensioneel dink en glo (vergelyk Jesus se lering en lewe).  Tog het onder andere die akkommodering van diversiteit gevolg, die erkenning van alternatiewe spiritualiteite en oriëntasies, die uitreik na gemeenskappe.  Dit het sommige mense se lewens wesenlik verander.

Dit was en is moontlik, want waar daar mense met liefde is, daar is God.  So was Stellenberg nog altyd meer as een mens, ook meer as die baie mense saam.  Maar, hoe meer mense minder kan word sodat God meer kan word, hoe meer kan God God wees.  Dit is my verjaardagwens vir die 50-jarige Stellenberg.  Dat God meer word en ons minder, die konteks van Johannes 3:30.  Wat dit in die praktyk beteken is eenvoudig . . . of is dit nie?

Bremer, saam met dogters Florette en Greta, by die gesin se geliefde en bekende geel Datsun. Hier word die vuurwa vir die gemeente-rally wat in 2008 aangebied is, versier en voorberei.

 

Carel van Wyk (1984 – 2004)

Carel en Philna van Wyk in 1987 saam met klein Carel, hulle oudste seun.

 

Dankbaarheid en heimwee! Dis die twee woorde wat by my opkom as ek aan Stellenberg-gemeente terugdink.   In 1983 het ek saam met Bremer die jeugwerk behartig en vanaf 1984 was ek en Philna voltyds predikantspaar, tot einde Junie 2004.  Met ’n interessante veelparty-standplaasruilery het ons toe na Suider-Paarl-gemeente, onder die Taalmonument, verskuif.

Tydens ons 21 jaar bedieningstyd in Stellenberg is al drie ons seuns gebore.  Hulle al drie was in Laerskool Eversdal en die oudste twee in Hoërskool Stellenberg.  Carel is ’n elektroniese ingenieur, getroud met Lindie en hulle babadogtertjie was pas een maand oud.  Neels is getroud met Dalyn en hulle woon in Amerika, waar hy ’n hoërskoolonderwyser is en hulle babaseuntjie sal DV in Augustus gebore word.  Ons nalatige lammetjie, Nico, is ongetroud en werk as hortoloog by Babylonstoren.

Ons was baie, baie gelukkig in Stellenberg.  In ons bedieningstyd het die gemeente ’n geweldige groeifase wat lidmate  én kerkbywoning betref, beleef.  Ons het gegroei van ’n driepredikant-gemeente na sewe voltydse en twee deeltydse leraars.  Ek self het deur die loop van 21 jaar saam met 12 kollegas oor die jare heen gearbei. Humor en kindertjies was volop. Ons het soms tot 18 babas per maand gedoop!

Volgende jaar, DV teen einde Junie, tree ek af en beplan ons om terug te gaan na Stellenberg – as lidmate! Ons kan nie wag nie!

 Christo Alheit (1985 – 1993)

Christo en Gesie Alheit

 

Die vreugde(s) van Stellenberg-gemeente

Dit was nogal moeilik om die beroep na Stellenberg in 1985 te oorweeg, want ons was dolgelukkig in die gemeente Tafelberg en ek was veral huiwerig om ds. Visser, wat die gemeente se eerste leraar was, op te volg.  Tog was dit mettertyd duidelik dat ons die skuif moet maak, en oom Vissie het dit makliker gemaak toe ooreengekom is dat hy sou aanhou om lidmate op hul verjaardae te besoek soos sy gewoonte was . . .  en ek kon in vrede huisbesoek doen.

Ons eerste vreugde in die gemeente was om te ontdek dat hier ’n klomp aktiewe lidmate is wat saamwerk, saam bid en saam planne maak om as gemeente te groei in meer as net getalle.  Baie van hulle het ons gehelp om met nuwe idees, vol kerke en  baie jeugaktiwiteite maklik en gemaklik die skuif na ’n makrogemeente te kon maak.

Ons ander vreugde was die span predikante wat wonderlike  vriende geword het en toegewyd was aan mekaar en ons roeping – daar was goeie samewerking tusen ons vyf, wat later ses geword het.  Ons het opreg probeer om saam na die Here te luister oor wat sy plan met ons en die gemeente is.  Veral Woensdae se saamwees was besonders.  En vrolik!!  Ons huishulp, Bettie, wat reeds sedert ons gesin se eerste dag in ons heel eerste gemeente deel van ons gesin was, het oor dié Woensdae baie te sê gehad. Die deel wat haar beïndruk het, was as sy sien ons is almal op ons knieë besig om te bid. Nogal lank, het sy gedink.  Soms het ons geklink soos ’n basaar.  Nogal lawaaierig en vrolik, het Bettie gereken.  En tussendeur het ons smaaklik geëet en tee gedrink.  Dan weer het sy gedink dis seker ons eerste versnaperinge van die week!

’n Ander vreugde was Bremer en die jeugwerk.  Vol kerke saans en rumoerige deurnagte in die sale, met Bremer wat ’n paar keer deur die aand by ons in die eertydse pastorie op die kerkterrein inloer, om te sien wat daar te ete is en wat die kriekettelling op die TV is.

Dit was vir ons as predikante lekker om te deel in ’n ander vreugde van Stellenberg:  die besluit om nie verder af te stig nie, maar die kleinsaal by te voeg vir meer eredienste en meer predikante, wat later jare dalk net kon verminder sonder om die gemeente te ontbind.  En die vreugde om ander gemeentes wat sukkel, finansieel te ondersteun, asook met EE3- betrokkenheid.  Stellenberg het ’n uitreikgemeente geword!!

Ek vermoed ek is die oudste oudpredikant van die gemeente wat nog lewe.  En die enigste wat eers ’n predikant in Stellenberg was en toe ’n lidmaat.  Soms was ek ook ouderling en het toe eers geleer hoe moeilik dit is om na ’n vol dag se werk by die sinode, deur my wyk te stap.  Dit het my vol bewondering gelaat vir baie  lidmate wat dit oor baie jare heen gewillig gedoen het.

Die laaste vreugde van Stellenberg het ek daarna beleef.  My vrou, Adrienne, is in 2001 oorlede.  Ek het in 2002 afgetree, na Hermanus verhuis en vir 10 jaar namens die sinode gedien as brugpredikant in vakante gemeentes.  Toe is ek in 2015 getroud met Gesie du Plessis, wie se man, Gert, die laaste leierdiaken van my wyk in Eversdal was.  Dat dit wonderlik is om met iemand wat saam met ons in Stellenberg was, getroud te wees is gewis en het baie voordele – soos wanneer sy betyds ’n Stellenberger wat ons teëkom, se naam fluister.  Of soos toe ons onlangs mekaar moes troos oor die hartverskeurende nuus van Erna Gericke.

Ons toer deesdae die land vol met ons karavaan en geniet die 21 kleinkinders in ons uitgebreide familie.  Ons het wel een groterige probleem:  Ons is albei vasbeslote om nie weer die langslewende van ’n gelukkige huwelik te wees nie!

Miskien lê daar nog een  vreugde voor – om eendag in die hemel ’n klomp Stellenbergers weer te sien, en vir ’n verandering almal se name te onthou.  Nie dat dit so belangrik kan wees as om saam by die Here te wees nie.

Aan Hom al die eer!!

Koosie Delport (1985 – 2008)

Die Delports met hulle aankoms in die gemeente.  Op die foto is  Marietjie, Koosie, Louise, Hermie en Johan.

 

As ons terugdink, besef ons hoe groot rol Stellenberg in ons lewens gespeel het.  Nie alleen was ek van 1985 tot 2008 predikant in Stellenberg nie, maar my pa was van 1963 tot 1969 predikant van Durbanville-gemeente toe die huidige Stellenberg-gebied nog onder Durbanville geval het.  En op 2 Augustus 1971, dieselfde dag waarop Stellenberg-gemeente gestig is, is ons oudste dogter, Hermie, in Uitenhage gebore. Die 50-jarige viering het dus vir ons dubbele betekenis.

Van die uitstaande herinneringe aan Stellenberg is die samewerking met die span kollegas.  Anders as baie ander makrogemeentes, het Stellenberg nooit werklik een leierpredikant gehad nie.  Ons was ’n span en het weekliks ’n paar uur saamgekom om te gesels en te lag, te beplan, te redeneer en mekaar reg te help wanneer nodig, asook om Bybel te lees en te bid.  Ons het ook jaarliks ’n paar dae weggebreek om meer intens aan kerksake en ons onderlinge verhoudinge aandag te gee.  Een jaar is ons Johannesburg toe en het toe ook by Beyers Naude besoek afgelê.  ’n Ander jaar is ons Stilbaai toe en ons het ook ’n keer die Weskus besoek.  Die plek waar ons egter meestal bymekaargekom het, was in Kleinmond.  Daar het Christo Alheit een aand in ’n restaurant vir die kelner gevra: “Watse werk dink jy doen hierdie groep manne?” Die kelner het ’n oomblik nagedink, en antwoord toe: “Government inspectors.”

Marietjie sê dat as sy aan Stellenberg dink, dink sy aan die wonderlike jeugbediening wat daar was toe ons kinders op skool was.  Die kinders en jongmense het die verskillende samekomste en kampe en toere geweldig geniet en dit het ’n positiewe invloed op hulle lewens gehad.

En dan onthou ons die omgee en die uitreik van lidmate na mekaar én na ander gemeentes en gemeenskappe – dit is wat ’n kerk werklik Kerk maak.

Die grootste verleentheid wat ek ooit beleef het, was die oggend in 2008 met my afskeidsboodskap.  So ’n kwartier voor die diens moes begin, het ek oorgestap kerkkantoor toe waar van die kerkraad bymekaargekom het.  Toe ek almal gegroet het, besef ek skielik dat my plaatjie met ’n paar valstande by die huis is, en nie in my mond nie.  Gelukkig was die pastorie net oorkant die straat en ek kon betyds die fout regstel – en toe darem met ’n mond vol tande afskeid neem.

Met ons as gesin gaan dit goed.  Hermie is in Durbanville, Louise in Duitsland en Johann werk tans tydelik in Doebai, terwyl sy huis in Engeland is.  Ons bly op Stilbaai.  Marietjie hou haar met vertaalwerk besig en ek lees en neem aan verskillende verenigings se aktiwiteite deel.

Ons bid Stellenberg seën toe vir die volgende 50 jaar!

Charlie Holtzkamp (1989 – 1996)

Charlie en Elmarie Holtzkamp besig met hulle gunstelingtydverdryf op Sondagmiddae – roomys eet.

 

In die meer as 14 jaar as lidmaat en predikant in Stellenberg, is daar vir my een woord wat uitstaan oor my tyd in die gemeente: Verhoudings!

Die broederskap tussen kollegas.  Vreugde en smart saam met die engele in die kerkkantoor.  Hegte verhoudings oor wyksgrense heen.  Die voorreg om vertrou te word met mense se diepste seer en leed en vreugdeshoogtepunte in my pastorale bediening. Gelowiges met oop harte en hande.  En dan natuurlik die geborgenheid wat ek ervaar het toe ek my stryd teen depressie openlik kon deel.

En bowenal is hoe my persoonlike verhouding met God binne hierdie verhoudings kon groei en verdiep. Die dinamika van die gemeenskap van gelowiges was vir my die ruimte waar ek kon ervaar “Ek sal saam met julle lewe, Ek sal julle God wees, en julle sal my volk wees”.

Levitikus 26:12 (Die Bybel vir almal)

Wat wil ’n mens meer van ’n gemeente vra as dat ’n gelowige wil ontdek dat die lewende God saam met ons lewe!?

 

Willem Malherbe (1990 – 2008)

Willem en Hildegarde Malherbe

 

Om Stellenberg te onthou

Ek is ’n redelike alleenloper.  Toe ek nog ingenieur was, was dit nie ’n probleem nie, maar vir ’n predikant is dit nie die ideale persoonlikheid nie.  As ek vooraf kon kies, sou ek waarskynlik ’n eenman-gemeente gekies het – en dit sou ’n fout gewees het.  Maar toe bevind ek my in Stellenberg tussen vyf ander – later nog meer – predikante.  Daar het ek die waarde van ’n span ontdek.

Enige beroep het aspekte waarvan mens nie hou nie, maar in hierdie span kon elkeen ’n goeie balans tussen sy voor- en afkeure vind.  So het ek die kans gekry om by sendingwerk en interkerklike projekte betrokke te raak, wat in daardie jare baie prominensie in die kerke-wêreld geniet het en vir my ’n prioriteit geword het.  Ek sal altyd dankbaar wees dat Stellenberg dit vir my moontlik gemaak het.

Stellenberg was (is) ’n besonderse gemeente wat natuurlik sê dat daar besonderse mense is.  Dis hulle wat die gemeente maak.  Dis hulle wat ons bediening die moeite werd gemaak het (en sommiges natuurlik soms nie).  Daar is baie gemeentelede wat vriende geword het en steeds is.  Ons het ook ’n hele klompie stapmaats daar leer ken, saam met wie ons gereeld voetslaanpaaie aangepak het. Maar die beste vriendskappe wat daaruit voortgespruit het, is met twee oudkollegas wat ná aftrede steeds van ons beste vriende is.  Ons was die drie oudstes, dalk die dat ons paaie nog saamloop.

Ná aftrede het ons in Bettysbaai gaan woon.  Nou in die Covid-era is dit ’n heerlike plek om te wees; baie ruimte en vars lug, min mense en dus ’n lae risiko vir infeksie.  Die afgelope tien jaar het ek en Hildegarde bykans 5 000 kilometer op die verskillende camino-roetes in Europa gestap.  Dit was ’n groot teleurstelling toe ons beplande 2020-stap gekanselleer moes word.  Nou bly ons maar gesond in die seelug en hoop ons kry weer ’n kans om te gaan stap voordat ons te oud word.  Verveeld is ons nooit nie: daar is nog te veel interessante dinge om te ontdek en te beleef.

Ek en Hildegarde het net mooi herinneringe aan Stellenberg, maar dis lekker om afgetree te wees!

Braam Hanekom (1993 – 2004)

Die Hanekoms met hulle aankoms in die gemeente: Braam, Mariette, Chris en Marietjie. Klein Marietjie is nou self ’n predikant.

 

Ek voel ongelooflik dankbaar as ek terugdink oor my betrokkenheid by Stellenberg die afgelope paar dekades, eers as predikant en later as lidmaat.  As mense vir my sou vra wat vir my uitstaan van die gemeente, is dit die volgende:

  • Ons kernbelydenis en waardes.  Mag ons dit nooit vergeet nie.
  • Die uitsonderlike mense wat ek oor jare in die gemeente ontmoet het.  Dit is Stellenberg se grootste rykdom en bate.
  • Dit sluit die kantoorpersoneel in.  Van die beste wat ek ooit ervaar het.
  • Hoe ons te midde van diversiteit eenheid kon behou.  Die voorbeeld is oor jare deur die predikantespan gestel.  Ons kon verskil, maar in diep verbondenheid lief gebly vir mekaar.
  • Ons kon nog altyd bly lag en lekker lag.  Ook vir onsself.  Ek dra bitter baie lekker stories met my saam.
  • Ons was nog nooit bang om te vernuwe en grense oor te steek nie.

My lewe het wye draaie gegooi, maar Stellenberg was altyd vir my en my gesin ’n veilige hawe waar daar mense was wat vir ons lief was en  omgegee het.

Aan Jesus Christus al die eer. Hy hou self sy kerk in stand.

 

Anriëtte de Ridder (2003 – 2016)

’n Hele boek vol oor Stellenberg se jeugbediening

Ek het op 26-jarige ouderdom as jeugleraar by Stellenberg-gemeente begin werk en ek en my man, Koos, het gou tuisgevoel in die gemeente.  Daarom dink ek met groot heimwee terug aan die 13 jare in die gemeente en dit voel asof ek eintlik ’n hele boek oor al my ervarings oor die jare heen, kan skryf.  Die titel van die boek sal “Annibrand” wees en die subtitel “dat elkeen Jesus sal ken en saam ’n verskil maak” – die jeugbediening se visie van daardie jare.

Die eerste hoofstuk sal ek aan kampe, waaroor ek soveel kan getuig, afstaan.  Belydeniskampe op Villiersdorp met die Tabernakel-gebedsreis, graad 8-kampe op Apostelbattery en tientalle ander kampe. Elke kamp het ’n eie tema en teks gehad en baie daarvan is steeds diep in my lewe verweef.  Tydens kampe het ek dikwels gesien hoe jongmense in die natuur, tussen ander gelowiges en deur die Woord, Jesus op ’n nuwe, persoonlike manier leer ken.

Ek sal natuurlik ook ’n hoofstuk aan uitreike afstaan. Die weeklikse besoeke aan die Delft-sopkombuis en die langer, verder uitreike na Calitzdorp, Laingsburg, Houtbaai, Calvinia en nog baie meer. Die ontsettende armoede en nood het ons almal geraak en ons geloof uitgedaag met roepingsvrae.  Ek onthou ook die kategese-uitreiknaweek toe al die groepies die Saterdag oraloor die Skiereiland diens gelewer het en daarna die dag met ’n foam party in die grootsaal afgesluit het. En wie sal ooit die 2010-sokkerwêreldbeker se uitreike en veeltalige eredienste kan vergeet?

Ek kan ook wonderlike stories oor leiers saam met wie ek oor die jare heen saam kon bedien, deel.   Kollegas, jeugwerkers, personeel, kategete, jeugkommissielede en diensjaarlede. Ek eer ook al die talle toegewyde en diensbare vrywilligers wat oor die jare hulle tyd en gawes met tieners gedeel het.  Dit was sowaar die Liggaam van Christus in aksie.

Aanbidding en gebed sal ook ’n hoofstuk in my boek wees, en veral die jeug-bands soos Loofstoof, Pryskombuis, Kamplamp en Plofstof, se name kom by my op. Tydens die jeugdiens en Woensdagaande se Midweek-byeenkomste het ek ervaar hoe musiek ’n ruimte vir jongmense, waarin hulle God kan ontmoet, skep.

Ten slotte sal my boek getuig van hoe God deur sy Gees in en deur die jeugbediening van Stellenberg werk.  Na 13 jaar in die gemeente, is ek deur die Wes-Kaapland Sinode beroep met opdrag: Jeug- en Familiebediening.  Ek, Koos en ons drie kinders het na Stellenbosch verhuis.  My werk behels nou dat ek die 226 gemeentes in ons sinodale streek toerus en begelei om jongmense se geloof te vorm. Daarvoor is ek beslis toegerus tydens my dienstermyn in Stellenberg-gemeente.

 

Peter Kotze (2016 – 2018)

Peter en Chané Kotze

 

Veels geluk Stellenberg-gemeente met julle 50-jarige viering!  Wanneer ek aan my bedieningstyd by die gemeente dink, word ek op nostalgiese wyse herinner aan ’n gemeente wat met die hart van God op reis is.  Daar was en is altyd drie woorde wat vir my uitstaan wanneer ek dink aan daardie tyd: liefde, diens en uitreik.

Stellenberg-gemeente se nalatenskap sal altyd gemeet word aan die baie mense na wie die gemeente buite sy grense uitegereik het en al die mense wat ’n liefdevolle tuiste in die gemeente self kon vind.  Daarmee laat Stellenberg ’n geweldige erfenis van die koninkryk van God!  Net so is die passie en opoffering van Stellenberg se lidmate meetbaar aan hoe wyd die invloed van die gemeente strek – nie net oor geografiese grense nie, maar juis oor selfs taal- en kultuurgrense heen.

Van my beste herinneringe sluit in die tyd wat ek in die jeugkantoor, saam met ’n span wat geesdriftig was oor Jesus, deurgebring het!  Ek onthou die woorde “Ek ruik koffie . . .” wat eenvoudig beteken het dat iemand lus geraak het vir ’n goeie, gebroude jeugkantoor-kafeïen-hupstootjie.  Ons uitreike saam was natuurlik altyd ’n hoogtepunt, met Leeu-Gamka se mense wat in die diepste winters diep in my hart gekruip het.

Na my dienstermyn by Stellenberg het ek my doktorale studie voltooi en al verskeie artikels in Suid-Afrika en oorsee gepubliseer.  Ek het ’n vryskutomroeper by Radio Tygerberg geraak, en ook by die Bron-gemeente se personeelkorps aangesluit.  Intussen het ons ’n seuntjie, Simon, ryker geword.  Hy sal in November een jaar oud wees.  As gevolg van hom verstaan ek vir die eerste keer in my lewe vader-kind-liefde en ek begryp skielik ’n dieper dimensie van God se liefde vir ons.  My passie vir uitreike en missionale bewegings is steeds daar en ons sien uit na dit wat God vorentoe ook vir ons beplan.

Dankie vir elkeen by Stellenberg-gemeente wat deel was van my lewenspad in Stellenberg – my voormalige medeleraars, elkeen in die kantoor en op die terrein en elke gemeentelid wat erns maak met hul geloof in Jesus Christus. Stellenberg-gemeente sal my altyd na aan die hart bly!  Baie seën vir die volgende 50 jaar!

Jeugwerk was ’n uitputtende bediening in die laat tagtigerjare. Ds. Bremer (regs) en ’n medekampeerder knip ’n uiltjie in die bussie op pad huis toe na ’n jeugnaweek.

 

En so lyk die groepie “government inspectors” waarna ds. Koosie Delport verwys het. Ds. Bremer Gericke op die inlasfoto was blykbaar die bestuurder van die voertuig.