Opknappingswerk aan ons liturgiese ruimte gedurende die vakansie:

Iemand het eenkeer die volgende gesê: “Die gebou wen altyd”.

Ons weet mos goed hoe enige spasie en ruimte ons kan vashou of miskien ons ervaring belemmer. Ons is tans in die proses om nuut en vars te dink oor die gemeente se verskillende ruimtes en hoe dit ons help tot ‘n ontmoeting met God. Neem dus kennis dat ons gedurende hierdie komende vakansie gebruik gaan maak om as ‘n eerste fase stelselmatig kosmetiese veranderinge aan te bring binne die hoof kerkgebou se liturgiese ruimte. Dienste sal nogsteeds voort gaan binne die kerkgebou binne een van die onderskeie helftes.

Die teoloog Thomas Long skryf die volgende: “…(E)very church with vital worship—large or small, formal or informal—has a moment, a space when the congregation becomes aware that it is not alone but in the presence of mystery.”

Die liturgie van die erediens word die ruimte. Die liturgie en per implikasie die erediens is dus ’n ruimte van afwagting; afwagting op die Een wat verander en afwagting op die verandering.

Die erediens is die gemeente se polsslag. Die weeklikse samekoms is krities vir ons lidmate se aanpassing, groei en transformasie, gegrondves op ons geloof in Jesus Christus. Die erediens help ons ook om iets van die misterie van God en Jesus te beleef en dat dit die bron van ons verandering is.

So word die erediens nie bloot ’n sosiale aangeleentheid waarheen ons lukraak gaan nie, maar eerder ’n ontmoeting met die lewende Here, in die lewe van ander gelowiges. Hierdie ontmoeting maak dit onmoontlik om op dieselfde manier te bly voortleef. Dit bring sodoende nuwe lewe in gelowiges en maak dat gelowiges die erediens nodig het vir hul lewens in dieselfde mate waarop hulle nodig het om ’n gereelde polsslag te hê.

Dankie vir elkeen se saam ontmoet, saam reis, saam vier en saam aanbid.

Ds Johan Visser