Opgewek want Hy is opgewek!

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Ons het Paasfees gevier, maar die ou wêreld met sy ellendes, oorloë en korrupsie is nog hier. Dit is tog wel ʼn bietjie neerdrukkend, of hoe? Enige mens wat nie verward is oor ons wêreld nie, verstaan dalk net nie wat aangaan nie, of dalk is dit andersom: diegene wat nie verward is nie, is juis dié wat die beste verstaan omdat hulle die onsienlike gesien het.

Wat om ons aangaan is verskriklik, maar ons mag nie pessimisties raak nie. As ek al die pessimisme om my sien, knipoog ek in my verbeelding vir die slaaf van Elisa wat ons in 2 Konings 6 raakloop. Jy onthou mos hoe dié slaaf ʼn hele regtige leër gesien het, wat vir hom en Elisa met perde en strydwaens omring – kan jy aan ʼn beter rede dink om jou aan bedruktheid oor te gee en pessimismisties te raak? Toe vra hy vir Elisa: “. . . wat gaan ons nou maak?” Elisa het egter geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Toe bid Elisa: “’Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien’. Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”

Daardie slaaf het toe wel baie, maar nog nie alles gesien nie. As óns oë eers oopgaan vir die opwekking van Jesus, sien ons baie, baie meer as daardie slaaf. Dán raak ons opgewek, al sien ons nog allerlei neerdrukkende goed om ons heen. Dit is hoekom daar ʼn eeueoue tradisie in die kerk is om selfs in tye van vervolging, op Paassondag liedere met baie hallelujas in te sing. Dink maar aan die Paasliedere in ons eie liedboek – om maar net twee te noem: Lied 414 waar daar agt hallelujas in elke vers is, en Lied 411 met sy vyf hallelujas in elke vers. Daardie hallelujas galm soos die Paasfeesklokke dwarsdeur die geskiedenis heen! Immers, as ʼn mens se oë eenmaal oopgegaan het vir die betekenis van die opwekking van Jesus, borrel die opgewekte hallelujas uit jou hart uit.

Ek wil graag in die volgende paar bydraes vir jou help om iets raak te sien wat jou nog blyer as daardie slaaf – gaan maak; wat jou sommer tien hallelujas na mekaar sal laat uitroep.

Om dít reg te kry, moet ons begin by die woordjie “opgewek”. Die meeste van ons sê graag dat Jesus opgestaan het uit die dood. Dit is nie verkeerd nie, maar hier is die geheim: Die Bybel verkies meesal die woordjie opgewek. Ek kan byvoorbeeld nie help om so ʼn bietjie agter die hand te glimlag as ek Matteus se weergawe van Jesus se lydensaankondiging lees nie, want daarin korrigeer hy vir Markus. Kyk, Matteus het mos Markus, wat die eerste evangelie geskryf het, se boek voor hom gehad toe hy sy eie weergawe van Jesus se lewe skryf. Hy haal immers vir Markus meermale instemmend woordeliks aan. In Matteus 16:21 korrigeer hy egter vir Markus. In Markus 8:31 staan daar dat Jesus na Hy doodgemaak is, “drie dae later moet opstaan”. Matteus skryf egter dat Jesus op “die derde dag uit die dood opgewek moet word”.

Daar is ʼn verskil tussen die twee begrippe. Opstaan is iets wat jy self doen. Jy word bv. wakker in die oggend, daar is ou koffie in jou wat moet uit en vars koffie buite jou wat moet in; dus staan jy op uit die bed. Jy doen die opstanery self.  As jy ouer word, doen jy dit met kreune en steune, maar voor jy bedlêend raak, doen jy dit self. Opwek is iets wat Iemand Anders vir jou moet doen. Soos met Lasarus toe hy in die graf was. Jesus moes hom uit die dood opwek, daar was geen manier dat Lasarus dit self kon regkry nie. Hy het opgestaan nadat Jesus hom uit die dood opgewek het. Die opstanery kon Lasarus, ten spyte van die grafdoeke, self doen, maar die opwek moes Jesus vooraf vir hom doen. Net so moes God vir Jesus uit die dood opwek voor Jesus kon opstaan.

In die verskil tussen hierdie twee woorde skuil daar ʼn geweldige troos en blydskap, en ek brand om jou daarvan te vertel. Hier kom die eerste rede tot opgewektheid:

Toe Jesus daar morsdood in die graf lê, het God gekyk en gesê: Die rekening is nou afbetaal. Die skuld van ʼn ganse mensdom, van Adam af tot by die laaste babatjie wat ʼn nanosekonde voor die wederkoms gebore word, die ganse skuld van ʼn ganse mensdom is nou gans en al klaar betaal. Hier is die kwitansie, die bewys dat dit betaal is: Ek wek Jesus op uit die dood! Jesus se opwekking is vir julle die kwitansie, alles is afgehandel, klaar en klaar!

Dít, op sigself, is al ʼn belangrike rede om opgewek te wees oor Jesus se opwekking, maar (soos hulle in die advertensies sê) wag, daar is meer! Die opwekking is boonop die stempel van goedkeuring wat God plaas op die ander voordele wat Jesus vir ons verdien het – en dit is hierdie voordele wat ons baie rede gee om nog breër te glimlag. Om hierdie breër glimlag op ons gesig te kry, sal ons in die weke vorentoe vir ʼn wyle moet vertoef in die Johannes-evangelie se laaste drie hoofstukke. Om daardie hoofstukke goed te verstaan, moet ons egter nou kortliks ter inleiding iets snap oor Johannes se inleiding: “In die begin …”

Johannes was, volgens oorlewering, reeds ʼn ou man toe hy sy evangelie geskryf het. Hy het gevolglik baie tyd gehad om na te dink oor wat Jesus se lewe, dood, en wéér lewe tog kon beteken. Daarom vertel hy nie die verhaal van Jesus om blote feite aan ons oor te dra nie. Hy wil ons oë oopmaak sodat ons die koninkryk van God kan raaksien. Dit word van die eerste woorde af duidelik as hy skryf oor Jesus. “In die begin …” en “Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” Só begin sy evangelie – dieper as die ander drie. Let op:

Markus begin sy verhaal eers met die doop van Jesus.

Matteus wou op sy beurt ons oë vir iets anders oopmaak. Hy wou hê dat ons moet raaksien hoe Jesus die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, vervul. Daarom lig hy Jesus se geslagsregister vir ons uit – van Abraham af.

Lukas was ʼn Griek. Daarom begin hy nie, soos Matteus, by Abraham uit wie die Jode stam nie, maar by Adam uit wie al die nasies, ook die Grieke, gebore is, en hy eindig sy storie van Jesus met die opdrag om dissipels van al die nasies te maak.

Johannes, aan die anderkant, weet soos Matteus dat Jesus die beloftes aan Abraham se nageslag kom vervul het – en hy weet soos Lukas dat die ander nasies ook in Jesus se visier is; maar hy wil veral vir ons vertel dat Jesus nie net gekom het vir die Jode en Grieke nie, maar vir die ganse skepping. Hy jubel dus op ʼn bedekte wyse in sy evangelie reeds oor die nuwe hemel en aarde waarvan hy later in Openbaring getuig. Sonder om dit in soveel woorde te sê, wil hy hê dat ons nou al daaroor opgewek moet raak. Ons moet net leer om die onsienlike raak te sien. Daaroor, as die Here wil, oor twee weke meer.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss.  Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.