Deur: *Kayla Swart
In die Junie-Julie-skoolvakansie was ons gretig om met breë glimlagte en waaiende handjies in Leeu-Gamka, ’n dorpie net voor Beaufort-Wes, verwelkom te word. Dié dorpie lê so na aan my hart. Ek kan getuig dat die jaarlikse uitreik vir so baie van ons spanlede een van die hoogtepunte van die jaar is. Ons span het gebars van opgewondenheid.
Hierdie jaar het ons vir die eerste keer die skoppies en grafies afgestof en ons groen vingers uitgehaal en saam met die gemeenskapslede en die Leeu-Gamka Munisipaliteit tuingemaak. Dit was ’n prettige projek wat al die kindertjies met groot ywer aangepak het. Plantjies is een vir een aangedra, gaatjies gegrou en beenmeel gretig ingespit.
Die kinderbediening was op almal in die dorp se lippe. Liedjies is deur daardie klein lyfies uitgebulder. Die dansies en bewegings is met oorgawe uitgevoer en die geesdrif in die area waar die jongspan bymekaargekom het, was ongelooflik. Die tienerbediening was `n hoogtepunt! Nuwe vriendskappe is gesmee en ou vriendskapsbande hernu. Gesprekke oor hoop en die toekoms het ons opgewonde gemaak. Saam het ons hande geneem, ons hoofde gebuig en brood gebreek.
Tussen al die glimlagte, geselsies, speletjies, gebede, hare vleg, verhoudings bou en stories deel, was dit die pure eenvoud, wat immers so sterk van God se liefde getuig, wat die hardste tot almal gespreek het. Groot dade, woorde van fluweel, gekleurde ligte en rookmasjiene gaan tot niet, maar die Skepper openbaar Homself in die klein dingetjies. In die eenvoudige dinge – die dinge wat ons in ons alledaagse lewens te gereeld miskyk.
Ek dink baie van ons spanlede sal getuig dat woorde nooit werklik al die ervaringe en emosies wat beleef is, kan verwoord nie. Maar as ek die uitreik in een woord moes beskryf, sou dit die woord “heilig” wees. Daar was so ’n stille gedruis om ons vandat die bussie se wiele die teerpad getref het, daarna soos ons deur die gemeenskap beweeg het en steeds tot ons terug in die koue Kaap gekom het. Sy teenwoordigheid was so warm en naby aan ons harte.
Ons is nou terug by die huis, skool en werk. Ons is weer in ons bekende roetines en die lewe hardloop weer volstoom met ons weg. Ons soek God nou weer op ’n Sondag tussen die rook en die ligte, terwyl Hy steeds met die klein dingetjies besig is.
Die vraag is: Wat nou? Na die uitreik – wat nou? Ons hoop om hierdie vraag, en alles wat ons op die uitreik beleef het, lewend te hou. Mag ons nooit ophou om te vra nie: “Wat nou?”
*Kayla is 19 jaar oud en het in die gemeente grootgeword. Sy studeer tans voltyds en is baie betrokke by die jeugbediening as ’n voorsanger vir Plofstof, asook by die ontwerp van grafiese materiaal vir die jeugbediening.