Mia van der Merwe beoog om in 2024 haar praktiese jaar in die gemeente af te lê en was ook die afgelope skoolvakansie deel van een van die uitreikspanne. Sy het grootgeword in die gemeente en Stellenberger het by die amper-dominee gaan inloer om haar beter te leer ken.
Mia is tans besig met haar vyfde studiejaar in teologie (MDiv). Sy was ’n leerder van Hoërskool Durbanville en vertel dat die jaarlikse interskole die enigste tyd in die jaar was wanneer sy rugby gekyk het. Mia deel dat sy graag gesels en dat sy sommer maklik met ’n Margheritapizza en ’n koffiekoekie omgekoop kan word. Haar gunstelingkleur is pienk en haar hartsbegeerte is om eendag ’n “pug” met die naam Lily, te hê.
Het jy uit die staanspoor geweet jy wil teologie studeer, of wanneer het dit vir jou duidelik geword? Vertel so bietjie van die proses om by die keuse uit te kom.
Ek wou aanvanklik ’n loopbaan as aktrise in Hollywood aandurf. My pa het egter voorgestel dat ek eers gaan studeer voordat ek my Hollywood-droom najaag. Aanvanklik het ek geen idee gehad wat om te studeer nie, totdat ek eendag in graad 9 by die skool ’n baie duidelike belewenis gehad het waarin Jesus vir my gesê het ek moet vir Hom gaan werk. Ek was eers lekker hardkoppig en wou niks weet van hierdie roeping wat ek ontvang het nie. Met verloop van tyd het ek egter besef dat Hollywood nie regtig vir my is nie en dat my hart eerder by mense in nood lê en om mense van Jesus se liefde te vertel.
Watter deel van jou studie interesseer jou die meeste?
Praktiese teologie is vir my die interessantste. Ek is ’n baie energieke persoon en hou nie baie van stilsit nie. My gunstelingmodule van praktiese teologie is die module wat handel oor gemeenskapsontwikkeling. Ek het ’n passie om mense in nood, op ’n volhoubare wyse te help.
Sou jy graag eendag ’n gemeenteleraar wou wees, of het jy ander ideale vir jouself?
As dit is wat die Here vir my bestem, sal ek dit baie geniet om ’n gemeenteleraar te wees. Ek het ook ’n hunkering daarna om by ’n niewinsgewinde-organsisasie wat mense bemagtig en ophef, te werk, maar alles sal afhang van hoe die Here se plan vir my lewe lyk.
Jy het grootgeword in Stellenberg-gemeente. Het jy reeds op skool van die gemeente se uitreike meegemaak?
Ek onthou my eerste uitreik was in 2010. Ek was ’n graad 4-dogtertjie wat saam met my ouers en my broer en sy kategesegroep gaan uitreik het. In daardie jare het al die kategesegroepe kwartaalliks uitreike na verskillende organisasies onderneem. My eerste uitreik na die Karoo was in 2018 na Calitzdorp en sover nog elke jaar daarna.
Wat het vir jou uitgestaan van vanjaar se uitreike?
Die liefde wat ons van die kinders in Calitzdorp ontvang het, asook die verhoudings wat ons met die Hope-sentrum in Calitzdorp kon vestig.
’n Mens sien waarskynlik daagliks iets op ’n uitreik wat jou hart breek – wat het jou die meeste geraak?
Wat my definitief die meeste geraak het, is hoe die gemeenskap, ten spyte van hulle moeilike omstandighede, daarin slaag om gelukkig te wees. Dit breek my hart dat die kinders in die middel van die winter in die koue Klein-Karoo met kortbroekies en plakkies rondloop en dan steeds aan ons liefde betoon. Ek dink ons kan almal daarna streef om ten spyte van ons omstandighede aan ander liefde te bewys.
Was daar bakens van hoop wat jy tydens die uitreik waargeneem het?
Een so ’n baken was definitief die gesprek wat ons met gemeenskapslede en -leiers gehad het het oor die toekoms van Calitzdorp. Dit was ’n ruimte waar ons gedagtes en idees kon uitruil.
Indien jy ’n wens kon wens – met die versekering dat dit waar sal word – wat sou jy graag in Calitzdorp wou verander?
Behalwe vir die algemene verligting van armoede, sou my wens vir die mense van Calitzdorp wees dat hulle in hulself moet begin glo. Baie van die kinders in Calitzdorp verlaat skool reeds in die laerskool bloot omdat hulle nie glo hulle is goed genoeg om verder skool te gaan nie. Dit veroorsaak natuurlik ’n bose kringloop van armoede. My grootste wens sal wees dat hulle sal besef dat God hulle na sy beeld geskape het en dat Hy aan elkeen van hulle ’n unieke talent gegee het.
Watter waarde kan so ’n uitreik vir ander gelowiges inhou?
Die uitreik is uitdagend, maar lekker. Dit is juis wanneer ons uit ons gemaksone gedruk word, dat ons vir God op nuwe maniere ervaar.
Ons weet daar blink ’n ring aan jou ringvinger. Vertel ons so ’n bietjie meer van julle twee se toekomsplanne.
Ek en my verloofde, Joshua Oliver, beplan om teen die einde van volgende jaar te trou. Joshua werk by Momentum. Hy is ’n boekwurm, lief vir animasierolprente en branderplank ry. Ek is opgewonde om my lewe met dié spesiale mens wat ’n hart van goud het, te deel. Hy inspireer my daagliks en help my om nader aan God te beweeg.
Behalwe vir jou verloofde, wie is nog belangrike mense in jou lewe en hoekom is jou verhouding met hulle vir jou kosbaar?
Die belangrike mense in my lewe, behalwe my verloofde, is my familie, Joshua se familie, my vriende en vriendinne. Elkeen van die verhoudings dra op ’n unieke manier by tot my vorming en elke persoon ondersteun my. Ek is so dankbaar dat Jesus elkeen van hierdie mense in my lewe geplaas het.
Hoe dink jy voel jongmense deesdae oor die kerk?
Ek is seker dat baie jongmense tuis in die kerk voel en dit as ’n ruimte beleef waar hulle met al hulle seer en pyn na God toe kan kom, maar ongelukkig is daar ook jongmense wat nie dieselfde ervaring het nie.
Is jongmense meer geneig om by charismatiese kerke betrokke te raak, of is dit nie jou ervaring nie?
Ek dink dit is definitief so en dit het baie daarmee te doen dat jongmense na plekke en kerke gaan waar hulle vriende is.
Dink jy daar is ’n leemte in die kerk se bediening aan jongmense?
Daar sal altyd iewers ’n leemte in enige kerk se bediening aan jongmense wees, maar Stellenberg-gemeente skep werklik ruimtes waar jongmense nader aan God en mekaar kan groei.