Ontmoet vir Erhard Teubes

Op die foto is Erhard saam met Míscha (links) en Sophí (regs).

Daar is nie minder nie as ses nuwe ouderlinge tot die kerkraad verkies. Ons is dankbaar dat lidmate bereidwillig is om by die gemeente se leierskap betrokke te raak en stel graag vir Erhard Teubes, verkies tot die strategiekommissie, aan lesers voor.

Erhard vertel dat hy op ’n plaas naby Hopefield grootgeword het en in Hoërskool Hopefield skoolgegaan het.  Deesdae hou hy die pot aan die kook deur sagteware te ontwikkel en in sy vrye tyd ontwikkel hy boonop hernubare energiestelsels.  Erhard is ook lief daarvoor om staptogte in die natuur aan te pak en hy en sy gesin span graag in Plettenbergbaai uit.  “Die natuurskoon daar is onverbeterlik en daar is genoeg vir almal in die gesin om te doen,” sê Erhard.

Erhard, sy vrou, Jacqueline en hul twee dogters is sedert 2015 lidmate van Stellenberg.  “Ons voel baie tuis in die gemeente,” sê Erhard en dit is vir ons lekker dat daar soveel moontlikhede of geleenthede is waarby ons betrokke kan raak.  Die feit dat die gemeente ook baie moeite doen om vir verskillende ouderdomsgroepe se behoeftes voorsiening te maak, is vir ons kosbaar.”

Erhard verduidelik dat hy sy rol by die strategiekommissie as ’n geleentheid sien om ’n ander tipe stelsel of sisteem – nie ’n energie- of sagtewarestelsel nie – aan die gang te kry.  Hy sou graag wou toesien dat sisteme daargestel word sodat elke lidmaat betrokke kan raak by praktiese dienslewering in en deur die kerk en sodoende ’n verskil in die samelewing maak.

“Ek voel baie bevoorreg om die Here ook in die nuwe rol waartoe ek verkies is te kan dien.”