Ontmoet vir Conrad Koorts . . .

Op die foto is Conrad, Esti, Liam en Wynand

 

Conrad Koorts is een van Stellenberg se nuwe kerkraadslede wat onlangs as ouderling bevestig is.  Stellenberg-weekliks het by hom ingeloer om hom beter te leer ken.

Conrad vertel dat hy en sy gesin sedert 2013 by die gemeente betrokke is.  Conrad het sy skoolloopbaan in die Strand aan die Laerskool Lochnerhof begin en uiteindelik in Caledon aan die Hoërskool Overberg gematrikuleer.  Daarna is hy universiteit toe om vir die graad B Comm aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.  Hy het ook ’n draai in Amerika gemaak waar hy ’n paar jaar gewerk het.

“Met my terugkeer na my geliefde en my land, is ek toe getroud,” sê Conrad.  “Ek het toe ook latere jare deeltyds begin studeer en ’n internasionale raadseksamen afgelê.  Om brood en botter op die tafel te sit, werk ek as ’n geregistreerde finansiële beplanner en is ook direkteur van die Firebird-groep.  Saam met my mede-eienaar van die besigheid het ons 200 mense wat regoor die land vir ons werk.  Die besigheid se missie is in kort: Creating something that matters.  My droom is om Suid-Afrikaners met die nodige kennis te bemagtig sodat hulle hul eie finansies beter kan bestuur en ons saam oor die langtermyn op dié manier die armoede-krisis in Suid-Afrika kan takel.

“In my vryetyd is ek baie lief daarvoor om te draf en geniet ook padwedlope en trail running.  Dis ook vir my kosbaar om saans saam met my gesin om die eetkamertafel te sit.  Die geselsies om die tafel is ’n instelling in ons gesin en dan geniet ons dit ook om saam te kamp of verkenningsuitstappies te onderneem.”

Op die vraag wat die Koortse van Stellenberg-gemeente geniet, sê Conrad sy jongste, Wynand, sal waarskynlik die lekker sjokoladekoek of kolwyntjies wat by die kafeteria bedien word, as een van sy hoogtepunte beskryf.   “Vir my is die wyse waarop elke gesin hulle plek binne die dinamiese liggaam van Stellenberg-gemeente kan vind, iets besonders.  Ons kan deur ons inskakeling by die gemeente ons verhouding met die Hemelse Vader verryk en saam met jou gesin elkeen se individuele geloofsreis onderneem.

“ Ek glo dat my toetrede tot die kerkraad ’n roeping is.  Oor hoe presies die Here my  in die rol wil gebruik, is ek nog nie seker nie, maar ek kan met eerlikheid sê dat ek graag leer, begrip ontwikkel en oop is om te luister na Hom sodat sy wil ook in my lewe geskied. Ek glo, nes in my besigheid, dat elke persoon op ’n unieke wyse deur die Here geskape is en dat ons as kinders van God se skepping van elkeen se uniekheid gebruik moet maak. Mag Hy ons elkeen in die rol gebruik wat Hy vir ons in gedagte het – dit is my gebed.