Ons sing ons eie belydenislied

Deur: Ds. Johan Visser

Die sing van geestelike liedere is nie ’n nuwe verskynsel nie. Regdeur die Ou en Nuwe Testament word liedere soos die Psalms gebruik om stories te deel oor ’n God wat saam met ons reis. Lofsange van Maria, Sagaria of die blye engelelied wat getuienis lewer oor die grootheid van God kom regdeur die Bybel voor. Dit dien as ’n vorm van kommunikasie waardeur die evangelie van generasie tot generasie, van land tot land en van kerk tot kerk versprei is.

In elke era in die geskiedenis behoort daar kerkliedere te wees wat nuut is vir daardie tyd – liedere wat die tydlose boodskap op ’n nuwe en kreatiewe wyse kan verklank. Deur die assosiasie wat musiek by die aanhoorder oproep, kan hy die teenwoordigheid van God beleef en die Woord van God hoor. Musiek het die  vermoë om die innerlike in beweging te bring. Daarmee ingedagte, het ons dit goedgedink om saam met ons nuwe embleem, wat ’n vars uitdrukking van ons gemeentebelydenis is,  ook iets van die hartklop van ons getuienis en belydenis in musiektaal weer te gee. Hierdie woorde met melodie moet ons opnuut  herinner aan ons identiteit in Christus en ons geloof dat Jesus ons verlosser leef. Ons glo dit nie net nie, maar streef ook daarna om dit uit te leef. Mag die Gees van God ons in beweging bring oor grense heen.

Belydenislied se woorde:

Vers 1

Here ons staan voor U

Here ons wag op U

Pre-koor (Herhaal)

Nader aan God

Nader aan mekaar

Verskil te maak

Voortdurend vernuwe

Koor (Herhaal)

Oor grense heen

Ons glo en ons streef

Ons glo en ons leef

Einde

Jesus, ons Verlosser leef