Ons kyk terug en vorentoe

Deur: Ds. René Potgieter

Wanneer die jaar einde se kant toe staan, is ’n mens geneig om terug te kyk op die jaar wat verby is. Ons kyk egter ook vooruit, na die vakansieseisoen en die nuwe jaar wat voorlê. So dit is ’n dubbele proses: terugkyk en vorentoe kyk. Dis baie soos ’n rit met jou motor. Ons het ’n groot voorruit waardeur ons vorentoe kyk en ’n klein truspieël waarin ons kan terugkyk. Die truspieël laat ons sien waar ons vandaan kom, en die voorruit waarheen ons op pad is. Ons het albei nodig, maar in die regte balans: te veel terugkyk kan tot ’n ongeluk lei; te min terugkyk kan veroorsaak dat jy vergeet waar jy vandaan kom.

Ons as gemeente kyk ons ook saam terug oor die jaar en ons harte is gevul met dankbaarheid. Ons kon ervaar dat die Here deur hierdie jaar saam met ons geloop het. Tree vir tree soos ons die jaar aangepak het, het God se genade en liefde ons gelei en gedra. Ons het saam gewandel volgens die temas van behoort, bewoon, bewerk en bewaar. Saam het ons ons geloofsreis aangepak en by verskeie roetemerkers gestop. Saam het ons geestelik nader aan God en mekaar gegroei. Saam het ons tydens die basaar en feesmark feesgevier. Saam het ons hande uitgesteek na hulle wat platgeslaan is deur die lewe.

Wanneer ons terugkyk moet ons ook erken dat daar soms uitdagings was. Ons is bewus van gemeentelede wat verlies op verskeie terreine ervaar het en ons het medelye met hulle. Dus, as ons terugkyk oor die jaar heen is daar ook seer en onbeantwoorde vrae. Maar, tog te midde van hierdie uitdagings kan ons God se hand van genade in ons lewens sien.

Met opgewonde harte kyk ons as gemeente ook vooruit en sien daarna uit om saam die nuwe jaar in te stap. Ons droom oor die nuwe jaar en om die nuwe jaar op die regte manier in te gaan.  Om werklik ’n gehoorsame gemeente te wees, sal ons God se wysheid nodig hê. Dis ’n gawe wat God aan mense gee om die regte keuses te maak, onderskeidingsvermoë aan die dag te lê en hande uit te steek na mekaar. As gemeente vertrou ons die Here om ook saam met ons te stap en ons in die nuwe jaar te lei. Saam kan ons uitsien na nuwe roetemerkers wat ons gaan bereik.  Ons  verwag ook om weer met ’n ander gemeente te skakel vir ’n heerlike kontreikuier.

Wat verlang jy van die jaar wat voorlê? Sukses, gesondheid, rykdom? Moses vra in Psalm 90 dat God hom sal leer om sy dae so te gebruik dat hy wysheid sal bekom. Dit sal goed wees as jy hierdie gebed jou eie maak vir die nuwe jaar wat voor jou lê. Ek deel die gebed van Jaco Thom met jou vir die nuwe jaar.

God
Hier aan die begin van die nuwe jaar wil ons geborgenheid en troos by U kom soek.
Daar is so baie dinge wat ons nie weet nie,
so baie dinge wat vir ons nuut sal wees in die nuwe jaar,
dinge wat op ons wag.
Dankie dat Ú weet wat dit is, Here.
Dankie dat U voor ons uitgaan, en agter ons aankom.
Dankie dat u liefde en trou ons omring,
dat U ons bewaar,
dat ons skuiling by U kan vind,
troos daarin kan vind dat U die Almagtige is,
dat U van ewigheid tot ewigheid God is.
Dankie dat U vanjaar opnuut weer u ewige arms oopmaak om ons te versorg.
Dankie dat ons rus kan vind by u altare, Here van die Leërskare.
Wil U ons dan in hierdie jaar toevou in u liefde,
ons geloof versterk deur u Gees en
ons hoop gee deur u Woord.
Amen.