Gideon Murray is sedert Junie 2021 die gemeente se klankingenieur. Lidmate het dalk al die kalm donkerkopman agter die klankbord opgemerk. Bo en behalwe sy werk as klankingenieur, komponeer en vervaardig hy boonop musiek.
Hy is ’n talentvolle musikant wat bykans enige musiekinstrument kan bespeel, en in die snaar- en klawerinstrumentfamilie is daar letterlik nie ’n weergawe wat hy nie suksesvol kan tokkel nie.
Gideon vertel dat die musiek wat hy komponeer en vervaardig, gereeld in advertensies of TV-programme gebruik word. Ongeveer 300 van sy musiek- produksies is al suksesvol in plaaslike programme en advertensies benut.
“Ek het nou vir die eerste keer internasionale blootstelling ontvang toe een van my komposisies in die film Redeeming Love gebruik is. Dit is ’n film met ’n Christelike inslag en gebaseer op een van Francine Rivers se boeke. Ek is baie opgewonde oor die mylpaal en hoop dit kan vorentoe vir my nog geleenthede in die internasionale filmbedryf ontsluit. Ek vervaardig ook vir ander kunstenaars albums en my besigheid se naam is Katalyst Music Productions.”
Gideon is getroud en die pa van twee dogtertjies en ’n seuntjie, wie se ouderdomme van een tot sewe jaar wissel. Hy vertel dat sy vrou spesialiteitskoeke bak, wat soos kunswerke in hulle eie reg vertoon. Die kreatiewe egpaar woon saam met hulle kinders in Boston.
Ons is baie gelukkig om Gideon in ons midde te hê en wens hom alle voorspoed met veral sy musiekloopbaan toe.