Ons groet vir Odette en Lindy

Foto: Odette Basson (links) en Lindy van Wyk de Vries (regs).

Twee staatmakers, Odette Basson en Lindy van Wyk de Vries, verlaat dié kwartaal die kerkkantoor se diens.

Odette Basson was sedert 2015 onder andere verantwoordelik vir die gemeente se lidmaatregister  – ’n kernfaset in die gemeenteadministrasie . Sy het seker gemaak dat die gemeente se databasis op datum bly deur alle lidmate se gegewens gereeld by te werk, asook om nuwe lidmate tot die databasis by te voeg. Dié besonderhede stel leraars in staat om ingelig en gerieflik met lidmate te kommunikeer en presies te weet wie amptelik lidmate van die gemeente is. Sy het ook alle doopaansoeke hanteer, asook kerkraadsbesluite noukeurig genotuleer en gereeld vuur gemaak onder kommissie- en bedieningsvoorsitters om die nodige terugvoerverslae betyds aan die uitvoerende bestuur te besorg.

Odette was in alle opsigte ’n gesoute raakvatter.  Gereelde besoekers aan die kerkkantoor en al haar kollegas sal haar egter bowenal vir haar liefde vir mense, kenmerkende sin vir humor en kwinkslae onthou.

Lindy van Wyk de Vries was sedert 2018 as administratiewe assistant in die kantoor verantwoordelik om leraars se dagboeke te organiseer en het hulle met ’n groot verskeidenheid administratiewe take bygestaan.

Lidmate betrokke by die omgeekombuis, kosprojek, kafeteria en vele ander getuienisaksies, sou al met Lindy kennis gemaak het. Sy was ook eerstehands betrokke by die organisering van ’n groot verskeidenheid gemeenteaktiwiteite soos die basaar, die kafeteria wat Sondae aangebied word, die omgeetrust se veiling en laaste, maar nie die minste nie – die feesmark.

Lindy se aangename geaardheid, haar kreatiwiteit, organisasievermoë en voorliefde vir kleurvolle en treffende oorbelle, sal almal in die kantoor bybly.

Ons beste wense vergesel vir Odette en Lindy – twee baie geliefde kollegas wat oor die jare heen vir baie van ons vriendinne geword het. Mag julle albei God se ryke seën op julle onderskeie lewenspaaie wat voorlê, ervaar.