Reeds die afgelope 26 jaar al is Marguerite Bester vir die hartklop van die gemeente, naamlik die finansiële bestuur, verantwoordelik. Sy het in Mei 1995 by Stellenberg-gemeente begin werk nadat sy 15 jaar by die NG kerk Rondebosch werksaam was. By Rondebosch-gemeente het sy nou saam met ds. Hannes Theron, nou leraar by NG kerk Helderberg en dr. Ernst van der Walt gewerk.
Marguerite vertel dat Stellenberg-gemeente se begroting in daardie jare R1,2 miljoen beloop het teenoor die R10 miljoen deesdae en die kerkraad het uit nie minder nie as 260 lede bestaan. Toe sy by die gemeente ingeval het, was di. Bremer Gericke, Jacques van Rensburg, Carel van Wyk, Braam Hanekom en Charlie Holtzkamp die leraars hier.
“Die aanpassing om vanaf Rondebosch-gemeente oor te skuif na Stellenberg-gemeente wat op daardie stadium al ’n makrogemeente was, was nogal moeilik,” sê Marguerite. “Dinge het heeltemal anders gewerk in ’n groot gemeente teenoor die kleiner opset waaraan ek gewoond was. Aanvanklik is ek aangestel as ’n sogenaamde saakgeslastigde. Dis ’n kerkterm wat verwys na die amp van die persoon wat die finansiële en kantoorbestuur van ’n gemeente behartig. Uiteindelik het die hoeveelheid werk te veel geraak en het ds. Callie Visagie die administrasie en bestuur van personeelsake en eiendomme by my oorgeneem en ek het voortgegaan om die finansiële bestuur, asook die kerkraadadministrasie te behartig.
“My kinders was jonk toe ek by Stellenberg-gemeente begin werk het en het nog dikwels baie van my aandag geverg en dit op sigself het sy eie uitdagings gebied. Hulle was 15, 13, 5 en 3 jaar oud toe ek in 1995 by Stellenberg begin werk het. Dit voel nou soos meer as ’n leeftyd gelede en vandag is hulle al 41, 39, 31 en 29 jaar oud. Drie van my kinders woon nog in die omgewing en my jongste dogter en haar gesin woon in Secunda. Sy het ’n rooikopseuntjie wat sy ouma se hart gesteel het.”
Marguerite sê dat sy nooit oor die jare bekommerd was dat die gemeente se spreekwoordelike finansiële skip gaan sink nie. Sy vertel daar was dikwels tye dat planne beraam moes word en proaktief opgetree is, soos veral die afgelope jaar tydens die Covid-19-pandemie ervaar is, maar in samewerking met baie kundige mense op die kerk se finansiële kommissie, is altyd goeie finansiële bestuur toegepas en kon die skip altyd drywend gehou word.
“Ek en Danie Claasen, voorsitter van die finansiële kommissie, werk al 25 jaar saam en ek en Marius Saayman net ’n paar jaar korter. Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ek die afgelope jare van hulle, asook van ds. Callie Visagie, saam met wie ek ook sedert 1997 werk, ontvang het.
“Dit is altyd vir my verblydend om te sien hoe lidmate deurlopend betrokke by die gemeente se werksaamhede bly en hulle bereidwilligheid om te verander en aan te pas, deur byvoorbeeld tydens die Covid-19-inperking bydraes slegs elektronies oor te betaal, of om van hulpmiddels soos SnapScan gebruik te maak. Die feesmark was jaarliks vir my ’n baie opwindende periode. Ek het reikhalsend uitgesien om die daaglikse omset van die mark te bekyk en uiteindelik die eindtotale met dié van vorige jare te vergelyk. Ek was ook keer op keer verras met die jaarlikse styging in omset wat die mark getoon het.”
Marguerite sê dat sy beslis die mense saam met wie sy gewerk het, die meeste gaan mis. Sy het immers saam met di. Charlie Holtzkamp, Jacques van Rensburg, Braam Hanekom, Carel van Wyk, Koosie Delport, Willem Malherbe, Anriëtte de Ridder, Bremer Gericke, Peter Kotze, Why Duvenhage, Marius Breytenbach, Hanno Ackerman en René Potgieter gewerk. Die leraars was of is steeds almal verantwoordelik vir bepaalde kommissies se begrotings en finansiële bestuur, wat beteken dat elkeen van hulle uiteindelik in Marguerite se kantoor beland het.
“Al hierdie mense, asook my ander kollegas, het soos my eie familie geword. Wanneer ek finaal aftree, sal ek steeds graag by die gemeente se projekte betrokke wil bly en ek gaan beslis meer tyd maak om by my rooikopkleinseun te gaan kuier.”