Ons fokus vir 2023: Behoort | Bewoon | Bewerk | Bewaar

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Die jaar 2022 sal altyd in Stellenberg-gemeente se annale as ’n jaar van groot veranderinge aangeteken word. Die Covid-19-pandemie het mense oor ’n periode van drie jaar in nuwe lewensritmes gedwing en die kerk moes in alle opsigte weer van voor af sy gemeenteaktiwiteite soos groepe, kategese en eredienste begin herbou en opbou.

Dit het ons gedwing om ons gemeente se bedieningstruktuur en -strategie weer opnuut te evalueer sodat ons op ’n relevante wyse met mense ’n geestelike en ondersteunende pad kan stap. Ons is veral baie dankbaar vir die groot aantal mense wat ons met ons aanlyn bediening in die vorm van eredienste, daaglikse dagstukkies en Bybelskoolsessies kon bereik.

Bo en behalwe die uitdagings van die pandemie, was daar in 2022 groot personeelwisseling. Twee predikante, die koster, finansiële bestuurder en ontvangsdame, wat almal lang jare diens by die gemeente gelewer het, het afgetree en verskeie nuwe personeel is gewerf en aangestel. Ons gaan 2023 dus met splinternuwe toevoegings tot ons predikante- en personeelspan in. Gaan loer gerus elders in die Stellenberger hoe ons nuwe leraars en ook nuwe kerkraadslede lyk.

Al die skuiwe en nuwe uitdagings het daartoe aanleiding gegee dat ons kerkraad ten opsigte van die gemeente se bedieningsmodel die volgende fokuspunte vir 2023 geïdentifiseer het:

  • Ons wil by minder – maar wel meer gefokus by projekte en programme betrokke wees.
  • Ons wil binne die gemeente se makrosamestelling meer geïntegreerd saamwerk om die ryke diversiteit van mense en gawes in die gemeente te vier.
  • Ons wil graag meer lidmate by ons programme en projekte betrek.
  • Ons wil herbesin oor die aanwending van ons finansiële bronne.

In 2023 gaan die fokus van ons uitreik of bediening na binne die gemeente, geskied volgens die volgende vier temas en gemeentewaardes.  Dit word ook visueel op ons almanak vir 2023 uitgebeeld:

  • Ons behoort (nader aan God)
  • Ons bewoon (nader aan mekaar)
  • Ons bewaar (maak ’n verskil in die wêreld)
  • Ons bewerk (voortdurend vernuwe).

Met die oog op die gemeente se uitreik na buite, is die fokus in 2023 op die volgende projekte in naby- en vergeleë gemeenskappe gerig:

  • Wat nabygeleë gemeenskappe betref, sal ons in die komende jaar by MES, die organisasie wat hawelose mense bedien, asook die gemeenskap van Klipheuwel, betrokke wees. Ds. Marius Schoombie verwys ook in ’n ander artikel in die Stellenberger hoe die jongvolwassenegroep o.a. in Klipheuwel betrokke is. Die gemeente se kosprojek ondersteun ook gesinne en voedingsprojekte in ons nabye omgewing.
  • Betrokkenheid by plekke en gemeenskappe verder weg van ons sal Calitzdorp, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes insluit. Ons het deur middel van jeuguitreike ’n jare lange verbintenis met dié Karoodorpe ontwikkel.  Met Vosburg-gemeente het ons ook ’n besondere verbintenis en ons beoog om weer in 2023 saam met hulle ’n basaar aan te bied.

Al hierdie aksies en beplanning is net moontlik deur getroue lidmate se meelewing en finansiële ondersteuning.  Ons is baie dankbaar daarvoor.  Die gemeente se begroting kan soos volg eenvoudig verduidelik word.  Ons begin elke finansiële jaar met ’n begroting wat van binne die gemeente verhaal word deur Sondagkollektes, maandelikse dankoffers en tiendemaandbydraes wat lidmate vanaf Oktobermaand gee. Van buite die gemeente word die inkomste dan gedeeltelik deur die feesmarkinkomste aangevul.  Lees gerus meer oor ons geslaagde feesmark in ’n ander artikel in die Stellenberger. Ons streef altyd daarna  om ’n derde van ons inkomste buite die gemeente se grense aan te wend.

Oorweeg asseblief om maandeliks deur middel van ’n debietorder by te dra tot die projekte en werk van die gemeente en ook om jou bestaande debietorder jaarliks te verhoog. Kyk gerus na die grafiese uiteensetting van hoe ons tiendemaandinsameling vorder. Lidmate dra ook nog in Desember en Januarie by tot die insameling. Indien jy graag by enige van ons programme en projekte betrokke wil raak, is jy baie welkom om met enige een van die predikante kontak te maak.

Bydraes kan in die tiendemaanddankofferkoevert geplaas word, elektronies oorbetaal word ( ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005).

of met SnapScan gegee word.  Gebruik tiendemaand as verwysing.

Ons is opreg dankbaar vir elkeen se meelewing en toewyding wat van Stellenberg-gemeente ’n ruimte maak waar ons saam in geloof kan uitreik, groei en omgee.

Mag die Here ons in 2023 inspireer om ons gemeentewaardes uit te leef deur waarlik daarna te streef om te behoort, te bewoon, te bewaar en te bewerk.