Om Jesus se hande te wees . . .

Deur: Anéne Nortier

Die markpleinarea op ons kerkperseel was een van die ruimtes waar ons as lidmate ’n stuk samesyn en omgee vir mekaar kon beleef.  Dis waar ons gekuier het en die geleentheid gehad het om uit te vind hoe dit met mekaar gaan.  Die saamkuiers was ons wel nie die afgelope paar maande beskore nie, maar in dieselfde ruimte het ’n nuwe vorm van omgee en opregte diensbaarheid op ’n baie besondere wyse ontvou.

Sedert 21 April is daar ongeveer 1 800 brode, byna 2 000 blokke bevrore sop en ’n paar ton groente in die markplein ontvang en weer vandaar na diegene wat dit broodnodig het, versprei.  Ds. Why Duvenhage spandeer baie tyd in verskillende gemeenskappe om te bepaal waar die nood die grootste is, watter bestaande aksies ondersteuning benodig en stel vas waar mense nog glad nie gehelp word nie.  Hy doen ook gereeld opvolgwerk in die verskillende gemeenskappe en sien dikwels  so weer nuwe nood raak en dan pas ons weer verspreidingspunte daarby aan.  Ek het in dié tyd geleer dat nood geen kleur-, taal- en kultuurgrense ken nie.   Honger word dieselfde deur alle mense beleef en daarom help ons waar ons kan, vir solank as wat ons kan.

Ons het ongeveer 50 sopkokers wat weekliks ongelooflike werk doen deur sop by hulle huise te kook en in bevrore formaat by die markplein af te lewer.  Ons het ook helpers wat van die sop by sekere punte oplaai en die aflewering daarvan behartig.  Ons lewer tans weekliks sop aan drie groot sopkombuise, wat veral kinders bedien, in Wesbank naby Delft, Ravensmead in Parow en in Khayelitsha.  Gelyklopend word sop, brood en groente (indien beskikbaar) ook weekliks by minstens 350 gesinne in Ysterplaat afgelewer en ons ondersteun ook Kraaifontein Moedergemeente se kosprojek aan gesinne in hulle eie gemeente.

Die uitdeel van die kos is die laaste stap in die hulpverleningsproses en sou onmoontlik gewees het sonder lidmate se barmhartige harte.  Baie dankie aan elke persoon wat ’n bydrae lewer tot die hande-en-rande-fonds waaruit aankope gedoen kan word, asook al die skenkings van groente, vrugte, hoender en ander produkte wat ons op ’n gereelde basis ontvang.  Ons is dankbaar vir al die  gewillige hande wat  die hearty mix-sopmengselpakkies in voedsame potte sop omtower, of hand bysit wanneer kospakkies gepak moet word – ek is seker dat dit is wat Jesus self in ons deurmekaar wêreld sou doen.  Wanneer die ontvanger van ’n brood en ’n blok sop huilend sê: Thank You Lord! besef ’n mens dat ons sy hande hier op aarde móét wees – dit bly ons grootste opdrag.