Deur: Rudolph van Schoor
Paulus skryf van geloof, hoop en liefde. Hierdie woorde het vanjaar, nadat ek iemand aan die dood afgestaan het, vir my dieper betekenis gekry.
Verlies het ’n unieke betekenis vir elkeen van ons, want ons ervaar dit verskillend en elkeen se verlies is ook anders. Ons verloor mense, verhoudings, huwelike, beroepe, leefstyl, huise, gesondheid, kwaliteit van lewe as gevolg van kroniese siektes . . . die lys is oneindig lank.
Alhoewel die literatuur met goeie akademiese studies rakende verlies deurspek is en baie geestelikes en sielkundiges met dié kwessie stoei en raad gee, besef ek dat verlies deur elke persoon anders beleef word. Die meeste van ons is bekend met die vyf fases van die rouproses, asook die tipe geestelike vrae wat dit by ’n mens ontsluit en waarmee jy worstel en dat ’n mens ook met angs en depressie op die ervaring van verlies kan reageer.
Die gevoelens wat ek nou beleef en mense ook al in my spreekkamer so verwoord het, is dat dit moed kos om verlies te verwerk en te aanvaar. Veral indien ’n mens iemand aan die dood afstaan. ’n Mens besef nie voordat jy dit self beleef het, hoeveel moed dit verg om voort te gaan met die normale verloop van die lewe terwyl jy daagliks met die pyn van verlies moet saamleef nie. Dit verg selfs moed om gewoond te raak aan die idee dat die pyn met verloop van tyd meer draaglik sal raak en selfs later kan verdwyn – dié moed wat jy nodig het om die onbekende van ’n lewe sonder die geliefde in die oë te kyk.
Moed onstaan wanneer geloof, hoop en liefde ’n daaglikse keuse en dissipline word. Dit is waardes waarmee jy in hierdie wêreld leef en wat moontlik gemaak word deur die genade wat jy van die Here ontvang, asook ’n doelbewuste keuse wat ’n mens maak. Wanneer ek hieroor nadink, maak die Bybelboeke Romeine 8 en Hebreërs 11 dit vir my al hoe meer duidelik. Iets nuuts en onverwags word altyd te midde van verlies gebore en indien ons ontvanklik is daarvoor, is dit juis dié plek waar ons ’n dieper betekenis van die lewe ontdek – dit wat ons help om nuwe sin aan ons lewe te gee.
Wanneer geloof, hoop en liefde die waardes word wat jy kies en in jou lewe beoefen, help dit jou om met moed die beste vir jouself, jou gesin en gemeenskap te bied, te midde van die situasie waarin jy jou bevind. So kan ’n mens die verbittering en wroeging waarin baie mense vasval, systap. Die rou en nagevolge van die trauma is steeds daar, maar wanneer jy geloof, hoop en liefde kies, is dit die enjin wat jou lewe aandryf en lyk die uitkomste radikaal anders.
Indien jy dalk tans vasgevang is in ’n situasie waar jy weens verlies water trap en dit vir jou voel asof jy alleen op die oopsee dobber, wil ek jou aanmoedig om ’n terapeut of ’n leraar te nader. Beide die professies bied goeie begeleiers vir ons elkeen se unieke belewenis van verlies. Ek het ook geredeneer dat my ervarings privaat is en dus niemand anders se besigheid nie. Die realiteit is egter dat elkeen van ons, maak nie saak hoe beheersd ons voorkom nie, ’n storie het om te vertel en deur die storie met iemand te deel, ontvang ons die moed wat geloof, hoop en liefde na binne en buite in ons lewens aktiveer.
| Rudolph van Schoor is ’n lewensafrigter en traumaberader verbonde aan die Stellenberg Terapiesentrum.