Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan gesels daaroor om passievol te lewe op verskillende vlakke van ons lewe. Vandag staan ons stil by die tema van: Om passievol te lewe voor God.
Teks: Psalm 104
Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan
3en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
GEDAGTE
Dit kan gebeur dat ons so vasgeval is in ’n deurmekaar wêreld dat ons sukkel om vir God raak te sien. Ons raak nie meer opgewonde oor God nie. En dan help dit om doelbewus terug te staan en vir God as die Almagtige Skeppergod raak te sien – van die kleinste babatjie tot die grootste walvis. ’n Mens staan in verwondering oor hierdie Skeppergod en ons het amper nie genoeg woorde om sy lof te besing nie. Psalm 104 is een van die Skeppingspsalms en help ons om God as Skepper te loof. Die Psalmdigter getuig: “Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort” (v 24).
Hoe passievol is jy nog oor God? Ons kan so passievol raak oor rugby, ons kinders, of ons land. Maar as dit by die Here kom dan taan hierdie passie. Dis amper asof ons terughoudend raak. Gereserveerd raak. Die enigste reasksie op God se grootheid, Jesus se verlossing aan die kruis, op die Heilige Gees se werk, is ’n passievolle reaksie. Om voluit en met oorgawe te leef voor Hom.
Mag dit jou voorneme wees in die nuwe jaar om passievol te wees oor ons groot God. Om passievol in jou aanbidding van Jesus Christus te wees. Kom ons wees passievol in ons lofprysing en aanbidding. Ons dien so ’n groot en magtige God. Mag jou verwondering oor Hom nooit taan nie.
GEBED
Grote God aan U die eer. Heerlik is waar U regeer. Hemels is U majesteit. Heilig U geregtigheid. Amen