Deur: Dr. Dirk Brand
In die 17de eeu het die pes, ook bekend as die Swart Dood, in dele van Europa verwoesting gesaai en die meeste families is daardeur getref. Jare lange oorloë het bygedra tot die verspreiding van die virus. Dit het uiteindelik in 1633 ook ’n klein dorpie in die suide van Beiere, Oberammergau, bereik, toe ’n geïnfekteerde man vir Kersfees teruggekeer het huis toe.
Die virus het vinnig versprei en baie sterftes in dié klein gemeenskap tot gevolg gehad. Die inwoners het toe ’n belofte aan God gemaak dat hulle elke tien jaar die lyding en kruisiging van Christus sal uitbeeld as hulle van die pes verlos word.
Die gemeenskap is verdere sterftes gespaar en hulle doen al vir bykans 400 jaar lank hul gelofte gestand. Die eerste opvoering het op ’n verhoog wat bo-oor die grafte van afgestorwenes gebou is, plaasgevind. Deesdae is ’n indrukwekkende teater met plek vir net meer as 5 000 mense die tuiste van die Passiespel.
Die deelname van die hele gemeenskap van Oberammergau aan die Passiespel oor eeue heen het baie mense se lewens verander en die kollig geplaas op die gebeure wat 2 000 jaar gelede, in Jerusalem, die wêreld verander het. Die aangrypende slottoneel wat die opstanding van Jesus uitbeeld, is ’n versterking van hoop. Vir die bykans 2 000 deelnemers, sowel as die duisende toeskouers, bied hierdie ervaring opnuut begrip vir die lewe en sterwe van Jesus. Dit daag ook mense uit om na te dink oor hul eie lewens te midde van die wêreld waarin hulle leef.
In Desember 2019 is ’n virus in Wuhan in China ontdek en die gevolg was ’n wêreldwye pandemie wat baie meer verwoesting as die pes in die Middeleeue saai. Covid-19 het die wêreld tot stilstand gebring. Die koronavirus maak, net soos die pes honderde jare gelede, geen onderskeid tussen slagoffers nie. Dit het lande en gemeenskappe gedwing om anders te werk, te leer en te ontspan en ook kerke moes anders begin funksioneer. Die enorme impak van Covid-19 blyk uit die verbysterende statistiek van infeksies en sterftes regoor die wêreld heen. Die ekonomiese gevolge van die inperkingsmaatreëls het verdere verwoesting gesaai en word deur die magsmisbruik en korrupsie van politici vererger. Bekamping van die pandemie deur die effektiewe ontwikkeling en gebruik van entstowwe is uiteraard noodsaaklik.
Die omvang van die Covid-19-pandemie het egter groter vrae oor die mens en die aarde na vore gebring. Die skadelike gevolge van klimaatsverandering, die voorkoms van massiewe ekonomiese en sosiale ongelykheid in die wêreld en diktature wat deur geweld en magsmisbruik verhoed dat mense in vreedsame demokratiese gemeenskappe kan lewe, is eksistensiële vrae wat opnuut tydens hierdie pandemie onder die soeklig gekom het.
Die pes in 1633 het die voortbestaan van die mense van Oberammergau en elders bedreig en vir hulle het die oplossing in ’n belofte aan God gelê. Hul geloof het hulle gelei tot ’n besluit om die Passiespel elke tien jaar uit te beeld om prakties gestalte aan hierdie belofte te gee. Dit het vir hulle opnuut hoop gebring. Vandag, bykans 400 jaar later, het ons nie ’n nuwe Passiespel nodig om die pandemie te oorwin nie, maar het ons waarskynlik ook die geloof van dié klein gemeenskap aan die voetheuwels van die Alpe nodig om tot aksie oor te gaan om die groot uitdagings wat die mens en die aarde beïnvloed, te kan oorwin.
Ons gelofte aan God sal moet sigbaar wees in die besluite van regerings, sakelui, kerke en gewone burgers om ’n volhoubare samelewing op ’n konstruktiewe manier te herbou. Dit is ’n geloofsdaad wat nuwe denke vereis oor ’n inklusiewe gemeenskap wat op menswaardigheid en vryheid gebou word, asook ’n wêreld wat in harmonie met die natuurlike omgewing funksioneer om ’n volhoubare toekoms te kan skep. So ’n gelofte wat prakties uitgeleef word, sal opnuut hoop skep, veral in die troebel waters wat die Covid-19 pandemie veroorsaak het.
| Dirk Brand is leierouderling van die gemeente.