Noodkospakkies vir die Kersgety en Flesse vol lekkerte

Met ’n kombinasie van net drie niebederfbare produkte kan ’n maaltyd vir ’n gesin van ses opgetower word.  Ons beoog om noodkospakkies met produkte soos hieronder uiteengesit te versamel,        sodat ons gesinne tydens die Kersgety daarmee kan ondersteun.  Die noodpakkies sal veral uitgedeel word by die sopkombuise wat deur ons gemeente in Khayelitsha, Delft en Ravensmead ondersteun word.

Waaruit bestaan ’n noodkospakkie?  Verpak die volgende per pakkie:

  • Opsie 1: ’n pakkie sojamaalvleis + 500 g pasta + 1 pakkie tamatiepasta.
  • Opsie 2: ’n pakkie sojamaalvleis + 1 blikkie kerriegroente + 500 g rys.
  • Opsie 3: ’n pakkie sojamaalvleis + 1 blikkie ertjies + 500 g rys.

Gee asseblief die verpakte produkte by die kerkkantoor af, of plaas dit Sondae in die voorportaal van die kerk.

Flesse vol lekkerte

Ons wil gedurende die Kersgety graag ‘n tikkie vreugde in minder-bevoorregte gemeenskappe versprei.  Vir dié doel samel ons glas-flesse (leë mayonnaise-, koffie- en blatjangflesse, ens.) wat met   lekkers of koekies gevul is, in.  Bring die gevulde flesse saam na die Buitelugkerssangdiens op Sondag 29 November om 09:00 en plaas dit onder die groot Kersboom, of gee jou bydrae by die kerkkantoor af.  Ons vertrou dat dié gebaar glimlagte op heelwat gesiggies sal plaas.

Indien jy nie tyd het om self koekies te bak nie, bestel gerus koekies by 21 Cookies of Hope,  Mariaan Hattingh 079 880 0407.