In die April-uitgawe van die Stellenberger het Sanet Hattingh vir ons van haar en manlief, Theuns, se inperking in Kraków, Pole, vertel. Theuns werk tans in Pole en Sanet het aan die begin van Maart gaan kuier. Die kuier het met die landwye inperkingsmaatreëls, wat onverwags eers in Pole en toe in Suid-Afrika ingestel is, eensklaps van ’n sprokieskuier in ’n effense nagmerrie verander. Die twee is toe vir 40 dae in ’n hotelkamer, met net ’n ketel en ’n piepklein kroegyskassie toegerus, en alle restaurante in die omgewing gesluit, vasgevang.
Sanet het daarom maar besluit om haar te verbeel sy is in ’n storieboek en leef die sprokiesverhaal van Raponsie uit. Sy vertel:
“Die sprokie ondergaan toe skielik nóg ’n gedaanteverwisseling toe ek skielik produktief moet raak en aanlyn begin skoolhou,” vertel Sanet.
“’n Magdom nuwe inligting via Teams en Zoom het my skielik oorweldig en die volgende uitdaging was om dringend ’n skootrekenaar te bekom. Ek het nie myne ingepak vir die vinnige kuiertjie nie en Theuns se rekenaar gee toe ook die gees. Toe begin die pynlike proses om ’n rekenaar gekoop te kry. Al die winkels was gesluit en ons enigste uitweg was aanlyn aankope op Poolse webwerwe, waar ’n mens geen woord kan verstaan nie!
“Toe die skootrekenaar uiteindelik arriveer, was ek behoorlik in ekstase en van daar af was die aanlyn onderwys aansienlik makliker. Met gratis handboeke om af te laai en ’n wonderlike vakspan wat almal kliphard saamwerk om die lesse vir ons leerders voor te berei, was ons vining reg vir aksie.
“Die 40 dae van inperking in die beknopte kamertjie was maar ’n grootse uitdaging. Ons is gelukkig gesoute kampeerders en kon ons kampeervaardighede inspan om die konstante ongerief te verduur.
“Intussen het ons darem ’n paar kosbare oomblikke saam met Stellenberg-gemeente gedeel. Ons het nagmaal saam met Why se mannegebedsgroep om 06:00 een oggend via WhatsApp bygewoon en die eredienste op YouTube is vir ons kosbaar.
“Intussen is Theuns se projek afgehandel en kon ons na Katowice verhuis waar ons nou in ’n lieflike woonstel met ’n kombuis, ’n regte stoof, groot yskas en ’n rusbank, woon. Dié artikels voel nou soos luukshede.
“Inperking word hier ook geleidelik opgehef en ons mag nou buite gaan stap (enige tyd van die dag!). Dis boonop lente en daar is die pragtigste blomme oral waar ’n mens kyk! Twee maande gelede was al die bome net ’n klomp kaal, bruin takke en nou is dit oortrek met kleur. Waar jy ook al jou kop draai, sien ’n mens net wit, pienk en pers bloeisels en ’n klomp skakerings van groen en so ’n amperse geel. Hier is so baie pragtige parke en woude naby die stad en almal stap, ry fiets, rolskaats en swem selfs daar. ’n Mens waardeer die vryheid om in die natuur te mag wees soveel meer nadat jy so lank binnenshuis vasgekluister was.
“Intussen wag ons geduldig vir die landsgrense om te open en ’n vliegtuig wat ons sal huis toe neem. Ons pak die lewe nou dag vir dag aan . . .”
|Theuns en Sanet Hattingh is lidmate van Stellenberg-gemeente en woon in Briffantstraat. Sanet hou skool by Hoërskool Stellenberg.