Deur: Ds. Schalk van Wyk
Die van ons wat ouer is, sal nog die begrip Christelik-nasionaal onthou. Daar ver in die ou Transvaal, daar onder in die mielies by groen doringboom (waar ek grootgeword het sonder om ooit die legendariese Sarie Marais te ontmoet) was Christelik-nasionaal net so ʼn belangrike geloofsbelydenis as die een wat Sondag vir Sondag in die kerk opgeklink het. Dit was egter nie net die ou Transvalers, wie se harte deur die Anglo-Boereoorlog teen die Engelse verhard is, wat so gepraat het nie. Al was dit minder vurig het die mense hier in die Kaap net so lustig meegepraat in die “Christelik-nasionaal” spreekkoor.
In so ʼn kombinasie van ’n byvoeglike naamwoord + naamwoord, is die naamwoord die belangrike komponent, die taak van die byvoeglike naamwoord is hom net effens te verander. Dit is soos om te praat van ʼn wit kar. Die “wit”-gedeelte van hierdie kombinasie kan nie bestaan sonder die kar nie, die wit is immers bykomstig, die kar is die belangrike komponent. Jy gaan nie na ʼn handelaar toe om ʼn wit te koop nie, jy gaan koop ʼn kar en kan dan kan jy kies of dit die wit of die rooi een moet wees. As daar nie ʼn witte beskikbaar is nie, sal die rooie werk – of ʼn silwer een dalk ook, solank dit net ʼn kar is. Met Christelik-nasionaal is die Christelik ook so ʼn bykomstigheid. Vir sommige mense is dit dalk ʼn belangrike bykomstigheid, maar steeds bly dit ʼn bykomstigheid.
Die insig dat ons politiek vir alle praktiese doeleindes die Christelik geïgnoreer het en bloot nasionaal was, het daarvoor gesorg dat hierdie woordkombinasie al hoe meer uit toegewyde Christene en ander denkende mense se gesprekke begin verdwyn het. Dankie tog daarvoor!
Dit val my op dat die Christelik-nasionaal debat tans in Amerika net so vurig gevoer word as destyds by ons. Ook in die VSA is daar denkers wat begryp dat die Christelik net ʼn plakkertjie is wat die afgod “Nasionaal” by die grootste aantal gelowiges wil aanvaarbaar maak. Een van die boeke wat hierdie waarheid snap kom uit die pen van ʼn vrou wat ʼn treetjie wegstaan van die kerk. Sy is Katherine Stewart en het haar boek betitel: The Power Worshippers, inside the dangerous rise of religious nationalism. Dié mense aanbid mag, meen sy. Dalk is sy reg; dalk is mag die dieper waarheid van nasionalisme. Ek vermoed egter dat die mag-afgod bloot net in diens staan van die Nasie-afgod. Dit is altyd moeilik om afgode van mekaar te ontstrengel. Dit voel my hulle is soos twee kabels wat jy netjies langs mekaar in ʼn boks gebêre het. As jy weer die boks oopmaak, is die twee so verstrengel dat jy ʼn outydse matroos moet soek om die knope los te maak.
Hoe dit ook al sy, kom ons bedink kortliks die afgod Nasionalisme want hy kry dwars oor die wêreld tans ʼn nuwe vastrapplek. Hy het immers ook sy vinger in die Israel-Gaza- oorlogpastei.
Israel moet in hierdie konflik oordrewe optree omdat die meeste van hulle nie meer bid nie. Ongeveer die helfte kan en wil nie meer sê: “mag God ons beskerm”, nie. Hulle glo immers nie meer in ʼn lewende God nie. Dít is volgens Vladimir Minkov, wat ʼn blog skryf vir “The Times of Israel”. Hulle bid nie meer tot God nie, maar vestig hulle vertroue volkome op die politiek en die weermag. Vuurpyle vlieg vinniger as gebede. Die politiek en die weermag word afgode, maar hulle sit aan die regterhand van die Almagtige Nasie.
Ons het verlede week nagedink oor hoe ʼn afgod gevorm word. Die proses, so het ek geskrywe, begin altyd met ‘n behoefte. In hierdie geval hoofsaaklik die behoefte om ‘n plek te hê waar ons kinders veilig en voorspoedig kan lewe. Die tweede stap is dan om iets te neem wat ʼn goeie en mooie deel van god se skepping is. In hierdie geval die nasie en die land waarin die nasie woon. Om vir jou volk en jou mense; om vir jou kultuur en jou land se grense; om vir jou taal lief te wees – dit is nie verkeerd nie. Al hierdie dinge is kosbare gawes van die Here en is deel van God se natuurlike orde in ons wêreld. Mense het hierdie goed nodig as hulle wil floreer net soos Namakwaland se veldblomme reën nodig het om mense te laat oeeh en aaah!. As jy egter van die nasie iets wil maak wat beskermend sy vleuels oor jou en jou kinders sprei, moet jy hom losmaak uit die plek wat die Skepper aan hom gegee het. Hy moet dan, by wyse van spreke, nie maar net nog ‘n boom, al is dit die mooiste boom, in die bos wees nie. Hy moet uit die bos gehaal word. Daarna moet jy hom begin vorm gee. ʼn Nasie is immers ‘n groot onoorsigtelike klomp mense. Dit is mense met verskillende idees, leefstyle, aksente ensovoorts. Dit is soos ʼn afgekapte boom met ʼn klomp takke en blare. Om van hom ‘n afgod te maak moet jy die dele afkap wat onvanpas is, jy moet eksklusief in plaas van inklusief wees. In die ou Suid-Afrika toe ek nog kind was, is lang besprekings gevoer oor wat ‘n wáre Afrikaner is. Ek moes glad op ʼn slag ons skool as spreker gaan verteenwoordig op ʼn jeugkongres waar “Wat is ʼn Ware Afrikaner?” die onderwerp was. Een van die volwasse sprekers was ʼn gesiene professor (hy het darem nie van Stellenbosch afgekom nie, prys die Heer!) wat vir ons duidelik gemaak het dat ʼn ware Afrikanerkind nie ʼn denimbroek dra of kougom kou nie. Die afgekapte boom kry die vorm wat die hoëpriesters van die afgodsdienaars daaraan toeken.
Vervolgens ken mense dan aan hierdie afgod al hoe meer mag toe. ʼn Sterk, goed gedefinieerde nasie sal ons kinders beskerm teen al die gevare van die wêreld daarbuite. Mense glo eers, en wéét later dat hulle voortbestaan afhang van hulle nasionalisme. In die VSA word die Make America Great Again (MAGA)-beweging al hoe meer voorskriftelik oor hoe ʼn ware Amerikaner dink en optree. In Israel is tot die Hooggeregshof al betrek by besluite oor wat ʼn ware Jood is.
Toe Bob Goudzwaard destyds oor nasionalisme as afgod skryf in die boek Idols of Our Time, het hy as voorbeeld van hoe nasionalisme ʼn afgod word, Afrikaner nasionalisme gekies. Hy skryf toe oor ʼn tempel wat ons hier in Suid-Afrika op ʼn koppie buite Pretoria vir ons afgod gebou het. In die tempel, wat bekend staan as die Voortrekker Monument, is daar ʼn altaar vir die afgod waarop geskryf is, “Ons vir jou, Suid-Afrika”. Eisj!
Dink egter ʼn bietjie daaroor na. Dit lyk na ʼn subtiele verskil, maar is in der waarheid ʼn wesenlike verskuiwing wat in een of ander vorm altyd by afgodskepping plaasvind. Eers is die afgod daar vir ons: Suid-Afrika vir ons. Voor jy jou kom kry, is jy daar vir die afgod: Ons vir jou, Suid-Afrika. En dan sing jy vir hom ʼn loflied: “Ons sal lewe, ons sal sterwe…”
Dan, voor jy jou oë uitvee, moet jou seun regtig sterwe op die grens om Suid-Afrika te beskerm. Moes die afgod nie eintlik my kind beskerm nie, nou moet my kind die afgod beskerm? Dit is tipies van ʼn afgod. Jy het hom gehuur om jou kinders te bewaak, nou eis hy dat jy jou kinders vir hom offer.
Die punt van die skrywe is nie om ons oorlede afgod, nasionalisme, se lyk vir oulaas ʼn skop in die ribbes te gee nie. Die punt is om vir u te wys hoe maklik en vinnig iets moois en goeds tot ʼn afgod kan word wat die plek van die Here in ons lewe inneem. Die een van wie jy jou heil verwag, word jou God of afgod, het Luther tydens een van sy wonderbare tafelgesprekke gesê. Wat ʼn diepe geestelike insig het hy nie gehad nie!
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss. Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.