Johan Visser en Blanco Barnard
Ds. Johan Visser is opgewonde om ’n nuwe bedieningsmetode, naamlik werkbesoeke, aan lidmate bekend te stel. “Werkbesoeke bied bo en behalwe huisbesoeke, aan ons as leraars ’n bykomende geleentheid om kontak met lidmate te maak,” sê Johan. “In die eerste rondte van dié nuwe bediening wil ons graag lidmate wat hul eie ondernemings bedryf, besoek. Ons plaas dan ook graag ’n foto van die besoek op ons gemeente se sosialemediaplatforms om sodoende ’n bietjie blootstelling aan die ondernemings te bied.
“Met die uitdagings wat die Covid-19-pandemie veral aan die eienaars van besighede gestel het, wil ons graag op dié manier ’n hand van ondersteuning en ontferming aan besigheidseienaars in ons gemeente uitreik. Indien jy nie jou eie besigheid het nie, maar behoefte daartoe het dat ’n leraar jou werkplek besoek, is jy steeds welkom om so ’n versoek aan enige leraar in die leraarspan te rig.
“Uit vorige ervarings het ek beleef dat daar iets besonders gebeur wanneer ’n mens saam met ’n lidmaat op die markplein bid. Jy is dan op daardie persoon se tuisveld en saam met hom/haar op die plek waar die spreekwoordelike tekkie die teer slaan. Oor die jare heen het ek beleef dat opbouende gesprekke oor die lief en leed van die lewe, werksuitdagings en die spanning en ekonomiese uitdagings wat aan gesinne en broodwinners gestel word, tydens sulke besoeke plaasvind.
“Dit is vir my as leraar ook belangrik om self te sien waarmee my lidmate hulle daagliks besig hou en watter uitdagings hulle daagliks moet bestuur. Ons raak so vinnig verwyder van mekaar en uit voeling met die uitdagings wat medegelowiges moet hanteer. Hierdie ervarings, of uitdagings waarmee lidmate te doen kry, het dan uiteindelik ’n direkte invloed op ons prediking en bedieningstyle.
“Dit is vir my heerlik om saam met ’n besigheid se span te bid en ’n kort Bybelstudie saam met hulle te doen. Ek het al by gesprekke betrokke geraak waar gemoedere hoog geloop het en ek moes help om vure dood te slaan, maar dan is dit vir my ’n besondere seën om agterna te hoor dat na my besoek die besigheid se personeel nou op Maandagoggende saam bid vir die week wat voorlê en ook vir mekaar.”