Maryna Steenkamp het die afgelope twintig jaar die basaar se witolifanttafel bestuur. Maryna vertel dat sy in 1992 by die gemeente aangesluit het. Sy en haar kinders het uit die staanspoor gemaklik en tuis in die gemeente gevoel en die feit dat almal se behoeftes in ag geneem word, was vir hulle ’n pluspunt.
In 2001 het sy eers net as haar wyk se sameroeper vir die basaar betrokke geraak. Op daardie stadium het die konvenor vir die witoflifanttafel boonop uitgetree en het sy toe besluit om aan die diep kant in te spring en die leisels oor te neem. Sy beweer dat sy maar ’n groentjie op die gebied was, maar dat sy vinnig geleer het en die tafel het uiteindelik een van haar jaarlikse hoogtepunte geraak.
Die oudbibliotekaresse was vir 23 jaar die kinderbibliotekaresse by Durbanville se biblioteek. Sy het tien jaar gelede afgetree, maar vir stilsit is daar min tyd in haar lewe. Sy is reeds veertig jaar by die Voortrekker-beweging se Doordekraalkommando betrokke, deel van die Vriende van Durbanville Biblioteek-beweging en sy is ook by die bestuur van haar deeltitelkompleks betrokke.
Maryna sê dat sy nie werklik ’n voorliefde vir ou goed het nie en ook nie ’n versamelaar van sekere items is nie. Tog was dit vir haar elke jaar baie lekker om te sien wat mense vir die tafel skenk en te wonder wat elke skenking se storie is. Sommige items het mooi herinneringe en ander beland weer by ons nadat mense ’n nabye geliefde aan die dood moes afstaan. ’n Afgesnyde olieblik met vuil, afgetapte olie was een van die onaangenaamste vondse waarop hulle afgekom het en ’n boks met drie klein katjies seker die grootste verrassing wat hulle een jaar te beurt geval het.
“Die aanbied van die witolifanttafel is regtig harde werk,” sê Maryna. “Daar is letterlik duisende items wat individueel uitgepak, gesorteer en gemerk moet word. Deur die jare het ek en Gerda Walters (links op die foto), buurvrou en vriendin, ’n stelsel ontwikkel wat vir ons twee baie goed gewerk het. Gerda was absoluut onmisbaar in die vier dae wat basaardag voorafgegaan het. Op die groot dag self het ons ook ’n uitstekende span helpers gehad wat met die uitpak en aandra van die items na die tafels gehelp het en ook later die middag met die verkope gehelp het. Aan hulle elkeen is ek groot dank verskuldig.”
Maryna se raad aan haar opvolger is: “Geniet dit! Onthou net dit gaan meer tyd in beslag neem as waarop jy gereken het, maar dit is beslis die moeite werd.”
|Ons wil graag namens die basaarkomitee en ons lidmate ons opregte dank aan Maryna Steenkamp en haar span helpers vir hulle onbaatsugtige diens die afgelope twintig jaar, oordra. Ds. Callie Visagie, leraar verantwoordelik vir gemeentefeeste.