’n Uitreik word ’n roeping

Isabel Steenkamp is jare gelede as graad 9-leerder vir die eerste keer saam met die uitreikbediening na ’n uitreik op Calitzdorp.  Ek onthou dat sy vooraf baie bang en onseker was oor wat vir haar voorlê, maar op daardie uitreik in Juniemaand van haar graad 9-skooljaar het die mense van Calitzdorp haar hart gesteel en het God haar begin voorberei om een van sy dienaars in dié wêreld te word.

Na Isabel se eerste uitreik in Calitzdorp het sy nooit weer ’n uitreik na die dorp gemis nie.  Sy het ook waar sy tyd kon afknyp, saam met haar gesin die dorp besoek en vinnig die kinders van die minderbevoorregte gemeenskap leer ken.

Tydens ’n uitreik loop ek ’n dogtertjie in dié woonbuurt raak en vra vir haar wat die pop wat sy onder haar arm dra, se naam is.  Toe sy my antwoord: “Haar naam is I-sa-bel,” besef ek watter groot invloed ons Isabel Steenkamp in dié gemeenskap het en hoe ’n belangrike rolmodel sy vir die kinders van Calitzdorp geraak het.

Isabel het na skool onderwys, spesifiek grondslagfase, gaan studeer en verskeie kere ook in Calitzdorp by die laerskool gaan proef.  Sy het nooit Calitzdorp uit die oog verloor nie en na haar studies was daar toe boonop ’n vakature by die Laerskool Excelsior in Calitzdorp.  Haar aansoek was suksesvol en sedert 2019 hou sy voltyds daar skool en gaan ook voort met al haar uitreikwerk.  Sy is nou Stellenberg se skakelpersoon met die droogte- en voedselhulp wat ons sporadies aan die gemeenskap bied en ondersteun ons ook om verdere uitreike daar te reël.

Isabel se lewe is vir my ’n hedendaagse voorbeeld van iemand wat reeds op ’n jong ouderdom deur God geroep is.  Dink maar aan die talle Bybelse figure wat as jongmense met God se werk begin het.  Sy het God se roepstem gehoor en was gehoorsaam en getrou.

Isabel se hart het gebreek vir dit wat God se hart ook in die wêreld breek.  Waarvoor breek jou hart?