’n Pom-pon-spekboompie ter nagedagtenis

Kallie Vlok, ’n jare lange lidmaat van die gemeente en een van die flukse kwekers van die Kweek-vir- die-Here-span vertel dat hy onlangs na die radioprogram, Omgewingspraatjies, op die RSG-radiostasie geluister het, toe die hantering van ’n afgestorwene se as bespreek is.  Tot sy groot verbasing het hy verneem dat die strooi van ’n afgestorwe liggaam se as glad nie ’n omgewingsvriendelike daad is nie.  Dit is volgens wetenskaplikes en natuurkenners baie nadelig vir die see, asook vir die aarde.

Kallie vertel dat die kundiges op die radioprogram voorgestel het dat as nie in die natuur gestrooi moet word nie, maar liewer in ’n kissie gebêre, of begrawe moet word.

“Die inligting het my aan die dink gesit, sê Kallie, “en ek het toe ’n bykomende omgewingsvriendelike plan beraam, want die familie van ’n afgestorwe persoon het nie noodwendig die geld om ’n nissie in ’n gedenkmuur te koop, of ’n tuin waar hulle die as kan begrawe, nie.

“Ek het ’n derde voorstel.  Diegene wat belangstel, kan vir my ’n tuinpot van hul keuse, sonder ’n gat en met ’n deursnee van minimum 20 cm, bring.  Daarmee saam moet jy die as wat in ’n afbreekbare sakkie verpak is, aan my besorg.  Ek sal dan die as onderin die pot plaas en een van my pom-pon-spekboompies, gratis, saam met die as in die pot plant.

“’n Spekboom verg min aandag en indien die ontvanger van die boom my wenke volg, behoort die spekkie jare lank in die pot te floreer.  Indien daar fout gaan met die spekboom en die boompie agteruitgaan, is ek bereid om dit weer gratis te vervang.

“Volgens my hou die bewaring van ’n geliefde se as saam met ’n spekboom baie voordele in.  Dit is esteties, mooi, omgewingsvriendelik en kan ook saam met geliefdes verhuis (selfs oorsee), indien dit nodig sou wees.

“Solank as wat die Goeie Vader my spaar, is ek tot diens van almal wat my hulp as kweker en tuinier benodig.  Kontak my gerus by kallievlok07@gmail.com of 082 681 4686 indien jy van die spekboomdiens gebruik wil maak.”