’n Passievolle versamelaar

Theodore Marais is ’n jare lange lidmaat van die gemeente en het nou op 52-jarige ouderdom, al ’n indrukwekkende versameling van 753 modelmotortjies bymekaargemaak.  Stellenberger het besluit om meer oor dié versameling te wete te kom.

Theo was 32 jaar lank ’n inwoner van Alta du Toit Nasorg, maar woon die afgelope paar jaar by sy ouers, Johan en Theola Marais,  in D’Urbanvale.  Theola, sy ma, vertel dat die versamelgier Theo op ’n jong ouderdom beetgepak het en die eerste Matchbox-motortjie wat hy aangeskaf het, was ’n Mini Minor.  “Theo is meer as ’n versamelaar,” sê sy, “want motors is werklik sy hele lewe.  Motors is al waaroor hy gesels en waarin hy belangstel.

“Hy dra altyd hemde met sakke sodat hy sy nuutste vonds saam met hom in sy hempsak kan dra.  Die nuutste aankope word dan saans as hy gaan slaap, op die bedkassie uitgestal, of soms slaap hulle saam in die bed in die pajamahemp se sak.  Ons onthou dat ons ’n foto van hom geneem het op eenjarige ouderdom, pas nadat by begin loop het, met ’n karretjie in sy hand en sedertdien het hy nog altyd ’n karretjie in die hand.  Sy vyftigste verjaarsdagviering se tema was natuurlik ook motors.

“Theo kan self motor bestuur, al het hy nooit ’n bestuursles gehad nie en hy het sy susters ook geleer bestuur. Hy het uit die aard van die saak nie ’n motorlisensie nie, maar hy het homself geleer bestuur deur sy pa dop te hou.  Hy trek graag ons motor in en uit die motorhuis en op vriende se jagplaas kan hy baie lekker met die bakkie rondry.  Hy spandeer ook baie tyd aan elektroniese motorwedrenspeletjies wat hy op sy Xbox speel.

“Die aankoop van motors bly problematies, want hy het reeds meer modelle as wat tans in die winkels beskikbaar is.  Hy het vir jare by twee winkels in die Kaap aankope gedoen, maar hulle het ongelukkig gesluit  en gewoonlik het die ander winkels nie die modelle wat hy in die nuutste tyskrifte sien, in voorraad nie.  Dit neem gewoonlik baie lank voordat hy iets kry waarvan hy hou.  Die motortjies word gewoonlik by Toys R’Us, Checkers, Pick n Pay, of by motorskoue aangekoop.  Sy waardevolste motors is dié wat sy swaer vir hom oorsee aangekoop het.

“Wat die versameling werd is, weet ons glad nie.  Theo hanteer sy motors konstant en hou dit nie in die oorspronklike verpakking nie, wat die waarde daarvan blykbaar verminder.  Uitstalruimte raak nou ’n probleem en hy sal op ’n stadium daaraan moet begin dink om die tweedehandse mark te betree.”

Versamelaars vervul ’n belangrike funksie in die bewaring van ons verlede, veral in die oordrewe verbruikerskultuur waarin ons ons tans bevind.  Deur middel van so ’n versameling kan ons weer herroep, of die jonger generasie kan sien, hoe motors twintig, of dertig jaar gelede gelyk het.  Die waarde kan ontmoontlik in rand en sent gemeet word, want dit is veel meer as geld werd.  Dankie, Theodore, vir die stukkie geskiedenis wat jy met soveel sorg en toewyding tot ons almal se beskikking stel. Red.