’n Pad met geestesgesondheid

Deur: Dr. Stephan le Roux

Elke mens se gesondheid is sekerlik sy of haar kosbaarste besitting.  Hoe ouer ’n mens word, hoe meer raak jy bewus van hierdie waarheid en hoe sterker word jou ingesteldheid om dit te koester.  Mag ons ons gesondheid nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.  Dit wat ek en jy nou het, kan môre totaal en soms ontstellend anders lyk.

Ek wil met hierdie artikel die soeklig spesifiek op geestesgesondheid as een dimensie van gesondheid laat val.  Die doel hiermee is om begrip, deernis en sensitiwiteit vir geestesgesondheid te kweek en die stigma wat daaraan kleef, af te breek.  Hopelik ontlok dit ook debat, want die neiging bestaan om hierdie onderwerp óf te vermy, óf op ’n negatiewe wyse te hanteer.   Ek wil ook die begeerte uitspreek dat hierdie skrywe aan mense wat uitdagings in dié verband ervaar, hetsy persoonlik of in hul eie familie- of vriendekring, hoop sal gee.  Ek skryf na aanleiding van jare se werk in hierdie veld en veral uit my persoonlike ervaring in my eie familiekring.

Die negatiewe konnotasie wat in die verlede aan geestesgesondheid gekoppel is, spruit hoofsaaklik uit onkunde en gepaardgaande ongevoeligheid by mense.  Ongelukkig het die media ook dikwels hiertoe bygedra.   Gelukkig is daar vandag meer kennis en begrip en soveel beter mediese en sielkundige ondersteuning aan mense wat met psigiatriese siektes moet saamleef en worstel.  Uitdagings in hierdie verband is algemeen.  Een van die handboeke op my rak oor geestesgesondheid, verwys byvoorbeeld na depressie as “the common cold of mental illnesses”.  Wêreldwyd kom depressie by 6-10% van die bevolking voor, met Suid-Afrika wat dieselfde patroon toon.  Volgens SADAG is 25% van alle werknemers in Suid-Afrika tans met depressie gediagnoseer.  Dit is voorwaar ’n baie moeilike en uitdagende diagnose om te aanvaar en te beheer.  Die fokus in die behandeling van geestesgesondheid is nie genesing nie, maar eerder die bestuur van die siektetoestand, want dit verdwyn, of genees, nooit heeltemal nie.  Met ’n verstandige benadering kan dit beheer word, maar die skaduwee van die siekte volg jou altyd.

Van die tipiese simptome wat ervaar word deur ’n persoon met ’n depressiewe gemoedstoestand, is eet- en slaapversteurings, irritasie, verlies aan selfvertroue en die vermoë om besluite te neem, ’n algemene gebrek aan lewensvreugde, ’n lae gemoed, selfdoodgedagtes en/of -pogings. Iemand het onlangs met my gedeel daar is net geen “joy” meer in die lewe nie.  Ten beste kan ’n mens leer om met die toestand vrede te maak.  Advies, of ’n opmerking soos “ruk jou reg”,  is teenproduktief en onsensitief.  Depressie moet ook nie as ’n swakheid beskou word nie.  Dit kan immers enige iemand tref en is ’n siektetoestand wat, soos enige ander chroniese siektetoestand, ’n ingrypende uitwerking op ’n individu se lewe kan hê.

My eie ervaring om ’n huis met my kind wat aan ’n geestessiekte ly, te deel, het my dikwels al laat dink aan een van my boeke met die titel “Where does a mother go to resign?”.  Die onsekerheid en onvoorspelbaarheid in terme van gemoed en gedrag en die reaksie op behandeling, stel soms bomenslike eise aan ’n ouer en ook aan die pasiënt.  Die onsekerheid oor wanneer en of hy gaan stabiliseer, of hy die situasie sal kan aanvaar en verantwoordelikheid daarvoor sal kan neem, het ons as ouers menige dae moedeloos en met baie onbeantwoorde vrae gelaat.

Insig ten opsigte van die diagnose en samewerking tydens behandeling, stel verdere eise.  Ook die aanvaarding van so ’n diagnose kan vir baie ouers moeilik wees.  Die meeste ouers koester drome en ideale vir hul kinders, onder andere dat hulle die ouerhuis sal verlaat en onafhanklik moet kan funksioneer.  In ons geval moes ons ons drome in soverre dit  ons kind betref,  herdefinieer.  Ons moes aanvaar dat onafhanklikheid nie ’n natuurlike gegewe is nie en onsekerheid bestaan steeds of dit ooit enigsens ’n moontlikheid sal wees.

Gelukkig is dit ook so dat depressie en ander geestesgesondheidsiektes oor die algemeen behandelbaar is. Heelwat mense slaag daarin om goeie lewenskwaliteit te ervaar, suksesvol in hul loopbane te wees en ’n sinvolle lewe te lei.  Die aanvaarding dat professionele hulp benodig word, is egter die eerste stap in die behartiging van die situasie.

Medikasie wat deur ’n professionele persoon voorgeskryf word, het gewis ’n plek in die hantering van depressie en ander psigiatriese siektes en behoort  nooit  teenoor geloof gestel te word nie.  Meer hieroor later.  Die uitdaging betreffende medikasie is om die regte medikasie en geskikte dosis vir elke individu te bepaal.  Vanweë die uitdagings wat dit aan die pasiënt en ook sy/haar familie kan stel, is opname in ’n kliniek (moet asseblief nie na ’n gestig, of inrigting verwys nie) vir mediese en sielkundige ondersteuning en begeleiding soms nodig.

Uiteraard moet die gebruik van medikasie ook met berading gekombineer word sodat die pasiënt sy/haar siektetoestand kan aanvaar, verstaan en lewensvaardighede aanleer om die siekte te bestuur.  Ongetwyfeld is die nie maklik nie en verg dit geweldig baie van mense wat sulke siektetoestande moet verduur, om bloot net oukei te kan voel, of om doodgewoon alledaagse dagtake te kan verrig.  Begrip en ondersteuning van familie en vriende, gerugsteun deur insette van die hulpverlenende professies, is bepalende faktore in die suksesvolle uitkoms van so ’n situasie.

Ek is daarvan oortuig dat geloof in God en die beskerming van ’n mens se gesondheid onlosmaaklik deel van mekaar behoort te wees.  My praktyk- en persoonlike ervaring is dat geloof die individu bemagtig om sy unieke uitdagings te kan hanteer.  Dieselfde beginsel geld vir die familie wat nodig het om bemoedig te word om die eise wat gestel word, suksesvol te benader . Geloof is egter nie ’n wonderkuur of voorskrif vir genesing nie.

Ek wil afsluit met ’n paar riglyne wat ’n verskil maak in die hantering van probleme met geestesgesondheid:

  • Ons het almal die verantwoordelikheid om die stigma rakende geestesgesondheid af te breek en met liefde en deernis na mense wat elke dag die uitdagings die hoof moet bied, uit te reik. Daar is geen stigma verbonde aan diabetes, of kanker, of enige ander fisieke siekte nie.  En so is geestesgesondheidsiektes ook net nóg ’n uitdaging wat enigeen van ons se pad kan kruis.
  • Die aanvaarding van die siektetoestand en om vrede daarmee te maak, asook die voltydse en verantwoordelike bestuur van die situasie, is krities belangrik in die herstelproses.  Dieselfde beginsel geld vir die familie.
  • Die uitreik na en aanvaarding van hulp van familie en die helpende professies, is ’n teken van waagmoed en karakter.
  • Koester jou gesondheid. Gereelde oefening, genoeg rus en slaap is belangrik vir ons fisieke en psigiese gesondheid.  Uiteindelik vorm al die dimensies van gesondheid ’n geheel wat interafhanklik van mekaar is en behels dit soveel meer as net die fisieke.
  • Dit is geestelik opbouend om met ’n dankbaarheidsjoernaal te begin waarin jy daagliks drie aspekte waarvoor jy dankbaar is (onder andere jou gesondheid), kan neerpen om sodoende self te ervaar hoe dit jou gemoed en algemene belewenis van elke dag beïnvloed. Dit is terapeuties om veral in moeilike tye hierna terug te verwys.
  • Soek die dinge wat sin aan jou lewe gee. Die ontdekking hiervan sal jou op ’n natuurlike wyse aanspoor om voluit te lewe en is ook jou sleutel tot gelukkig wees.  Die beginsel geld ook vir ouer volwassenes, want die grootste uitdaging vir mense wat afgetree het, is om steeds sin en betekenis in die lewe te ervaar – om ’n rede te hê om soggens op te staan.
  • Emosionele volwassenheid impliseer onder andere dat jy die vermoë aanleer om onsekerheid te kan aanvaar. Dit is ook per slot van rekening in wese wat ons Christelike geloof impliseer.

Ek sal graag my persoonlike en professionele ervaring met enige iemand wat ’n behoefte aan hulp, of ondersteuning het, deel. Neem gerus die vrymoedigheid om my te kontak.

| Dr. Stephan le Roux 083 234 9973 stephan.leroux@outlook.com.   Stephan le Roux en sy gesin is jare lange lidmate van die gemeente en hy dien ook op ons diensverhoudinge-bediening.