Die bouery wat sedert einde November rondom die kerkkantoor woel is nie sonder goeie rede nie. Die eindresultaat van al die gekap en breek is dat die kerkkantoor heelwat verklein is om plek te maak vir ’n splinternuwe koffiewinkel wat die hele omgewing sal bedien.
Die eienaars van die koffiewinkel, Jessica Vice en Lionel van Rensburg, hoop om hulle deure in Maartmaand vir die publiek te open. Jessica vertel dat sy 11 jaar ondervinding in die restaurantbedryf het en dat sy en Lionel baie opgewonde is om dié nuwe projek van stapel te stuur. Hulle is opgewonde en dankbaar dat hulle die perseel kan benut aangesien hulle oortuig is dat dit die ideale ruimte vir ’n koffiewinkel bied.
Jessica sê dat ontbyt en ligte etes by die koffiewinkel beskikbaar sal wees. Hulle sal in soveel moontlik klante se behoeftes probeer voorsien en seker maak dat selfs vegetariërs en veganiste nie teleurgestel huis toe gaan nie. Daar sal ook ’n paar bekostigbare opsies soos lekker botterbroodjies en muffins op die spyskaart wees vir diegene wat nie die hand te diep in die sak wil steek nie.
Die koffiewinkel funksioneer heeltemal onafhanklik van die gemeente. Die gemeente ontvang slegs ’n huurinkomste vir die verhuring van die perseel. Coffee and Crumbs sal weeksdae vanaf 07:00 tot 17:00 en ook Saterdae en Sondae vanaf 08:00 tot 13:00 oop wees. Ondersteun gerus dié twee entoesiastiese entrepreneurs.