’n Destydse foto van die Steyns, van links: Dirk, Rita, Ebeth, Ninon en Rista op die inlasfoto.
Rita Steyn, wat in 1970 reeds by die gemeente se administrasie betrokke geraak het, se voorwaardes vir die gesprek met Stellenberger was baie duidelik. Eerstens, geen foto’s nie – sy wil nie vir ’n foto poseer nie en daarom neem ons liewer ’n foto van haar meer as 100 vrolike tuinkabouters, wat sy ter wille van haar kleinkinders versamel het. Tweedens, sy sal vertel wat sy wel nog onthou, het sy gesê, maar haar skerp syferbrein het nie teleurgestel nie en sy kon baie staaltjies vertel.
Stellenberger het by Rita in haar gesellige blou huis in Legato-aftreeoord gaan kuier. Haar gunstelingkleur en ’n leeftyd vol herinneringe is oral in haar huis te bespeur. Soos Rista, haar jongste dogter wat tien jaar gelede oorlede is, se oorbelletjies wat teen die muur uitgestal word. “Ek kon dit nie tot niet maak nie,” sê Rita, “want sy sal altyd in my hart wees, toe plak ek dit maar hier teen die muur.” Rita vertel verder:
“Destyds toe ek en Steyntjie, soos almal my man genoem het – sy naam was eintlik Ebeth – in Stellenberg ingetrek het, was daar net vyf huise in Saldanhastraat waar ons gewoon het. Steyntjie het toe by die bure navraag gedoen of hier ’n kerk in die omgewing is en toe met ds. Visser gaan kennis maak. Ds. Visser het destyds naby die Stodels-kwekery gewoon en in daardie stadium is nog in Laerskool Kenridge se skoolsaal kerk gehou. Tydens die kennismaking vra ds. Visser toe vir Steyntjie of sy vrou nie dalk kan tik nie, want hy benodig ’n tikster wat sy briewe kan tik. En so het ek toe, met die tik van briewe, by die kerk begin werk. Later het ek grootliks met die geld gewerk en Steyntjie het die gemeente se boeke gedoen.
“Na die kerkgebou gebou is, het ek in die kantoor begin werk, maar is nooit amptelik met ’n brief aangestel nie. Ses jaar later het die werk te veel geraak vir my alleen en toe sê ds. Visser ek moet een van my vriendinne vra om te kom help. Ek vra toe vir Valerie Green. Haar jongste seuntjie was op daardie stadium drie jaar oud en hy het sommer daar by ons in die kantoor grootgeword. Valerie en haar man, Ivan, is ook steeds lidmate van die gemeente.
“In daardie dae het ons kerkraad uit 100 ouderlinge en 100 diakens bestaan. Die omgewing het as “Nappy Valley” bekend gestaan en ek onthou dat daar een Februariemaand 17 babas tydens die oggenddiens gedoop is.
“Ek kan nie onthou wat die bedrae was wat Sondae tydens die kollekte-opnames ingesamel is nie, maar ek onthou wel dat ons destyds weekliks met ses geldsakke vol geld bank toe gery het. Dan het ek en Alta, wat ook later by die kantoorpersoneel aangesluit het, dit gaan bank sonder om ooit onveilig te voel.
“Fondsinsamelings was natuurlik in daardie dae ’n groot deel van die gemeenteaktiwiteite omdat ons geld vir die bouery moes insamel. Ons het allerhande goed aangepak om geld in te samel, van breikompetisies tot een kompetisie waar al die lede van die Vrouediens een aand soos kinders moes aantrek – ek het nogal die aand die prys gewen. Ds. Visser, wat bekend gestaan het as een van die beste fondsinsamelaars van sy tyd, het die stoele in die saalkompleks ook ‘verkoop’. ’n Mens kon ’n stoel teen R12 elk koop.
“Ek dink nou baie terug aan die tye toe ons lekker saam gelag het. Saans na die basaar wanneer ek die geld gesit en tel het, het Charlie Holtzkamp pannekoeke gebring en Christo Alheit ’n bietjie rooiwyn en dan het ons baie lekker saam gelag en gesels.
“Ek onthou ook hoe my kinders Bremer Gericke se jeugbediening geniet het. Hulle het nooit gekla om saans na die byeenkomste te gaan nie en het smiddae na skool al begin beplan wat hulle die aand gaan aantrek. My drie kinders, Dirk, Ninon en Rista is hier gedoop en voorgestel. Nou ja – so het die verloop van die lewe ook daartoe gelei dat Bremer vir Rista begrawe het.
“Ek het baie in die gemeente en saam met die mense van die gemeente beleef. Ek het my geliefde man, Steyntjie, ook hier begrawe. Steyntjie het vir jare die gemeente se boeke behartig en na twee nieroorplantings en vyf en ’n halwe jaar op dialise-masjiene, het ds. Kobus Koch hom in 1998 begrawe. Ds. Koch het die dag so mooi van Steyntjie gepraat. Toe ek sestien jaar oud was het ek vir die Here gebid dat Hy vir my ’n goeie man, maar hy moet ook lank wees, sal stuur. En toe het Hy vir my werklik ’n baie goeie man gestuur.”
Rita vertel dat sy in 2000 by die kerkkantoor klaargemaak het. Dit was die jaar waartydens haar oudste kleinkind gebore is. ’n Groep van 25 Stellenbergers het ook daardie jaar saam met ds. Carel van Wyk na die Passiespel in Duitsland gaan kyk en met hul terugkeer, het sy by die kerkkantoor uitgetree.
“Nou ry ek smiddae my kleinkinders rond en na skool bly hulle soms hier by my. My een kleindogter bel my elke oggend om te hoor of Ouma nog leef,” skerts Rita.
Rita se kleurvolle tuin met nie minder nie as 100 kabouters wat sy vir haar kleinkinders gemaak het.