Oor die afgelope 50 jaar is daar werklik net een woord wat Stellenberg-gemeente se finansies kan omskryf en dit is volkome dankbaarheid. Wanneer ‘n mens terugblaai in die geskiedenis, was die onderliggende kommer oor waar die geld vandaan gaan kom, en of dit genoeg sou wees om die beoogde uitgawes te dek, altyd die ondertoon van alle finansiële verslaggewing, maar uiteindelik is die sorg van die Here vir sy kerk keer op keer bewys.
In 1988 was die gemeente se totale inkomste R740 000. Lidmate het in daardie stadium gemiddeld R17 per maand tot die dankofferfonds bygedra. Dit het ‘n styging van 16% teenoor die vorige jaar getoon, wat die finansiële beamptes onrustig gelaat het, aangesien die boukoste van die kleinsaal steeds gedelg moes word en die gemeente nog ’n allemintige bedrag van R265 000 op die saal geskuld het.
Te midde en ten spyte van die kerkraad se kommer oor die gemeente se stadig groeiende inkomste en die groot som uitgawes, is 40% van die gemeente se inkomste deurgaans na buite aangewend – Stellenbergers bly altyd getrou aan hulle roeping.
In 1994, ses jaar later, het lidmate se maandelikse bydraes tot gemiddeld R39 per maand gestyg. Uitgawes van ongeveer R2 miljoen is vir die jaar voorsien. Op daardie tydstip was die grootste persentasie van die totale bydraes deur lidmate se maandelikse bydraes en het ‘n bedrag van R 1 154 639 beloop met bankkollektes wat R159 426 van die totale bydraes uitgemaak het en die tiendemaandinsameling R273 187.
In 1996 word Stellenbergers sommer direk en streng deur die finansiële verslaggewer aangespreek. “Stellenberg se gemiddelde bydrae per lidmaat is R44 per maand. Vergelyk dit met die Ring van Durbanville se gemiddelde bydrae per lidmaat (insluitend gemeentes waar lidmate finansieel swaar kry soos Kraaifontein) van R40 per maand. Hoe lyk dit Stellenberg?” [Dit lyk asof die goeie gewers hulle darem nie vir die trant van beriggewing vererg het nie, maar eerder hulle sokkies opgetrek het, want die bydraes het nie opgedroog nie. Red.]
In 2005 getuig die verslaggewer met dankbaarheid dat die gemeente se geldsake ‘n bron van groot dankbaarheid is. Terwyl baie gemeentes in daardie stadium binne die NG Kerk-familie ernstige finansiële nood beleef het, kon Stellenberg met groot dankbaarheid oor die toe afgelope jaar heen kyk. Lidmate het R5,2 miljoen gedurende die boekjaar tot die gemeente se bedrywighede bygedra. Bydraes is saamgestel uit debietorders (36%), bydraes wat in koeverte ingegee is (25%), bankkollektes (14%), basaar (2%) en feesmark (7%). Bo en behalwe voorafgaande inkomste het lidmate in die boekjaar sowat R1,25 miljoen tot geoormerkte projekte soos Tehilla (sleutelprojek) en geloofsoffers bygedra.
In 2008 word berig dat die gemeente se inkomste in 2005 groei van 32% getoon het en die volgende boekjaar (2006 tot 2007) se groei was toe slegs 5%. “Oor die afgelope jare kon verskeie inisiatiewe en uitreikprojekte aangepak word, tot groot seën ook vir die gemeente. Uiteraard plaas die konserwatiewe inkomstegroei druk op hierdie inisiatiewe. Die kerkraad moet ’n balans handhaaf tussen dit wat ons glo ons primêre verantwoordelikheid is (ons werk na buite) en besteding binne die gemeente, wat tot opbou van die gemeente is,” lui die verslaggewing. Daar word berig dat alhoewel die bankkollektes die voorafgaande jare goeie groei getoon het, het die gewone dankoffers, asook die tiendemaandinsameling steeds die grootste voedingsaar tot die gemeente se inkomste gebly. Dit gee wel die indruk dat sommige lidmate se dankofferpatroon wel begin verander het deurdat hulle begin verkies om hul bydraes deur bankkollektes te gee. Maandelikse bydraes het in daardie stadium soos volg daarna uitgesien:
• Debietorders/aftrekorders/elektroniese oorbetalings: 699 gesinne dra op dié wyse by.
• Koeverte: 1 134 koeverte word uitgedeel, slegs 225 word terugontvang.
[Dit is belangrik om te onthou dat die wêreld in 2008 deur ‘n internasionale finansiële krisis getref is, wat uiteraard ook ‘n groot impak op Suid-Afrikaners se finansies gehad het en nie die kerk onaangeraak gelaat het nie. Red.]
In 2019 (elf jaar later) skryf Danie Claassen, voorsitter van die gemeente se finanskommissie, soos volg:
“Die begrote uitgawes vir die huidige boekjaar beloop ongeveer R10,7 miljoen. Uitgawes val breedweg in drie kategorieë – uitbou (fokus na buite), opbou (fokus binne die gemeente) en ondersteuning (administrasie en eiendomme).
Die uitgawebegroting word befonds deur die volgende bronne van inkomste : Bankkollekte (11%), Jaarlikse dankoffers (17%), Maandelikse dankoffer (47%), Fondsinsamelings (19%) en Huurinkomste (6%).
Uit bogenoemde samestelling van inkomste is dit duidelik dat die gemeente se hoofbron van inkomste steeds maandelikse dankoffers is. Die gemeente spring egter nie die impak van die negatiewe ekonomiese omstandighede vry nie en daarom het die kerkraad besluit om nie vanjaar te begroot vir ’n inflasionêre verhoging in inkomste nie – die gevolg was dat die bedieninge hulle uitgawes met tussen 2% en 5% moes sny.”
’n Jaar later in 2020 het die koronaviruspandemie die wêreld getref en uiteraard was die impak op die gemeente se finansies ook ingrypend. Deur die baie bekwame finansiële bestuur van die finansieskommissie het Stellenberg-gemeente die finansiële aanslag van die virus oorleef. Personeel se salarisse is aanvanklik met 40% en later met 20% besnoei en alle bedienings se uitgawes is drasties ingekort, wat tot gevolg gehad het dat slegs noodsaaklike dienste soos voedingsprojekte voortgegaan het, maar geen poste is besnoei nie.
Dit is met groot dankbaarheid teenoor bekwame lidmate soos Danie Claassen, Marius Saayman, Johannes van der Merwe en Johannes Steyn dat ons oor die afgelope 50 jaar se finansiële bestuur kan terugkyk. Kommissielede se toewyding en kundigheid en bowenal die sorgsame hand van ons Hemelse Vader het Stellenberg-gemeente 50 jaar lank behoed.