’n Honger vakansie wag op Karookinders

Deur: ds. Why Duvenhage

Dit is al die afgelope negentien jaar tradisie dat ons gedurende die Desemberskoolvakansie saam met minderbevoorregte kinders by die Apostelbattery gaan kampeer.  Ons het beplan om vanjaar die gebruik voort te sit, maar verskeie noodroepe uit die Karoo het my tot stilstand gedwing en laat besef dat die fondse daarvoor begroot, eerder gebruik moet word om ’n ernstige tekort aan kos in dele van die Karoo te voorkom.

Sekere gemeenskappe in die Karoo is baie swaar getref deur die doogte die afgelope jaar.  Boere se oeste het misluk en gevolglik is honderde seisoenwerkers al die afgelope jaar sonder werk en inkomste.  Die harde werklikheid is dat dorpe soos Calitzdorp, Leeu-Gamka en Zoar ’n groot voedselkrisis in die gesig staar.   Rolspelers in dié gemeenskappe, met wie ek gereeld kontak het, is baie besorg oor veral die kinders op die dorpe se voeding.  Gedurende skoolkwartale ontvang die kinders ten minste een maaltyd per dag by die skool, maar tydens die lang skoolvakansie wat voorlê, word voorsien dat duisende kinders waarskynlik vir dae aaneen nie ’n maaltyd gaan kry om te eet nie.

Ek glo dat ons as gelowiges, veral in die gees van Kersfees,  ’n verantwoordelikheid het om na dié weerlose mense uit te reik.  Jy kan betrokke raak  by die Karoo-kosprojek deur die volgende te doen:

  • Jy kan ’n elektroniese bydrae maak na die gemeente se rekening en net “Karookos” as verwysing gebruik.    Rekeningbesonderhede is: NGK Stellenberg, ABSA, tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005.
  • Jy kan ‘n bord kos borg @ R10 elk.  Kaartjies sal na die oggenddienste en ook op Kersdag in die voorportaal van die kerk te koop wees.
  • Jy kan ook die volgende produkte skenk: 5/10 kg broodmeel; 5 kg mieliemeel; hawermout; kookolie; blikkieskos soos bully beef en sardyne; rys; langlewemelk; soja-maalvleis; aanmaakkoeldrank; maalvleis; hoender en bevrore groente.  Daar sal ’n vrieskas by die kerk beskikbaar wees. Produkte kan saamgebring word na die Kerssangdiens, of Kersdienste, of deur die week by die kerkkantoor afgegee word.
  • Indien jy behulpsaam kan wees met die vervoer van produkte, kontak asb. vir ds. Why Duvenhage by 082 570 5931, of Milda Brits by milda@stellenberg.co.za.

Ons werk saam met betroubare medewerkers op die onderskeie dorpe wat ons behulpsaam sal wees met die verspreiding en voorbereiding van die kos.  Op elke dorp staan ’n kosspan gereed om elke tweede dag die maaltye voor te berei.  Ons hoop om gedurende die hele Desemberskoolvakansie al om die ander dag een voedsame maaltyd aan alle voorskoolse en laerskoolkinders te voorsien.”


En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”  Matteus 25:40