Deur: Ds. Marius Breytenbach
Sondag 5 April is die begin van die Groot Lydensweek in kerke wêreldwyd en is volgens tradisie gesetel in die Bybelteks waar Jesus Jerusalem binnekom vir die viering van die Joodse paasfees. Vir die Jode was dit ’n vreugdefees, want God het hul voorvaders eeue vantevore uit slawerny in Egipte bevry. Die hoogtepunt was gesinne en familie se samekoms op die Donderdag om die paasete saam te geniet. Na dié spesifieke maaltyd saam met sy dissipels, het Jesus se lyding in Getsemane dan ook begin en dit het opgeloop tot sy kruisiging op die Vrydag, sy sterwe en weer sy opstanding op Paassondag.
Die Groot Lydensweek bring ons jaarliks voor twee uiteenlopende emosies en belewenisse te staan. Aan die een kant die rou emosie van lyding wat ons in hierdie tyd met ons moet saamdra en aan die ander kant die versekering dat niks ons van die liefde en lewe wat Christus in ons wakker maak, kan skei nie.
Hierdie is ’n groot week wat vir ons as gelowiges voorlê. Normaalweg sou die skoolkwartaal reeds na ’n welverdiende vakansie begin het. Die tyd van isolasie weens die Covid-19-pandemie het ons wêreld tot stilstand geruk en binne ons eggo soveel vrese en onsekerhede. Nuusblaaie, kenners en ontleders probeer die hede en toekoms interpreteer, maar niemand weet wat werklik vir ons voorlê en hoe dit ons lewens gaan verander nie. Hierdie lydenstyd neem beslis vir ons ’n ander betekenis aan as in die verlede.
Mag die Groot Lydensweek tydens die inperking diep tot jou spreek. Beleef ook tydens die afsondering die werklikheid van lyding wat in jou en ander mense se lewens resoneer, maar op Paassondag die dankbaarheid van die lewe wat Jesus se opstanding aan ons skenk. Mag hierdie stilte vir ons elkeen tot groot seën wees.
“Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof.” (Liedboek 519)