“Die feesmark word vanjaar, vergeleke met die mark van 2019, op ’n kleiner skaal aangebied, maar ook terselfdertyd op ’n heelwat groter skaal as wat dit in 2020 bedryf is,” sê Karen Visagie, nuwe feesmarkorganiseerder.
“Ons kan nou met die verandering van die mark se uitleg 270 uitstallers akkommodeer, teenoor die ongeveer 180 uitstallers in 2020. Vanjaar word die kleinsaal, grootsaal, markplein, asook die saalgedeelte van die kerk met mekaar verbind en as uitstalruimtes benut. Die mark se ingang gaan na die voorportaal van die kerk verskuif. Daarvandaan sal besoekers deur die saalgedeelte gaan, dan deur ’n tonnel wat uit tente gevorm word beweeg en so in die markplein uitkom. Stalletjies gaan ook in die tonnel geplaas word. Vanuit die markplein beweeg klante deur die grootsaal (deli-area) en kleinsaal en uiteindelik tot in die ou kafeteria-area, waar die kasregisters geplaas sal word.
“Die restaurant word vanjaar deur kostrokke vervang. Daar gaan vier kostrokke op die perseel wees waar besoekers ’n verskeidenheid kossoorte kan aankoop. Genoeg tafels en sitplekke sal onder tentafdakke ingeruim word, sodat besoekers hul etes gerieflik kan geniet. Pizzas, vis-en-skyfies, calamari, hamburgers, worsbroodjies, bobotie en gevulde pannekoeke is alles op die kostrokke se spyskaart. Lekker koffie en koek sal vanuit die kerkkantoor se komiteekamer bedien word. Kosaankope kan direk by die kostrokke betaal word.
“Ons het baie moeite gedoen om ook nuwe uitstallers die geleentheid te gee om aan die mark deel te neem en ongeveer 40% van vanjaar se uitstallers stal hulle ware vir die eerste keer by Stellenberg-feesmark uit. Tydens die keuring van uitstallers het ons deurgaans gefokus op aspekte soos die kwaliteit van produkte, die verkoopprys, die algehele aanbieding van produkte en of produkte aanpas by die heersende mode- en verbruikerstendense.
“Ek is baie opgewonde oor die verskeidenheid koue vleise en kase wat in die deli-afdeling te koop gaan wees, asook die pragtige handgemaakte kostuumjuwele wat gekeur is. Besoekers kan ook pragtige linneservette en tafeldoeke te wagte wees.”
Die feesmark is vanjaar twee dae langer as in die verlede en begin reeds Maandag 18 Oktober en duur tot Saterdag 6 November. Soos in die verlede moedig ons kopers aan om hul aankope met krediet- en debietkaarte te betaal.
Nooi asseblief vriende en familie uit om die pragtige ware by die mark te kom bewonder. Dit is ons gemeente se grootste en enigste fondsinsamelingspoging vir dié jaar en ons is ook terdeë bewus daarvan dat uitstallers baie afhanklik is van die inkomste wat hulle op die mark genereer.