Deur: Karen Cilliers
Ek glo dat ek een van die gelukkigste mense op aarde is. Ek het grootgeword in ’n huis waar my ouers ons vier kinders met baie liefde grootgemaak het en vir ons wonderlike geleenthede gebied het.
Ons was ’n baie sportiewe gesin en al vier kinders het provinsiale kleure in een of ander sportsoort verwerf. Ek en my suster beide in netbal. Ons hele gesin het ook graag tennis gespeel. Ek het tot in my dertigs netbal en aksienetbal gespeel en afgerig. Enige sportaktiwiteit was altyd vir my lekker.
Ek het my man, Nickey, tydens ons studentejare op Stellenbosch ontmoet en ons is in 1988 getroud. Vir die eerste paar jaar na ons troue het ek nog ernstig netbal gespeel en ons eersteling, Nicolaas, is eers in 1994 gebore. Kort daarna het Charl sy opwagting gemaak en met Henri se aankoms in 1998, was ons voltallig. In 1999, toe Henri een jaar oud was, is ek met die sogenaamde oumenssiekte, Parkinson’s, gediagnoseer.
Parkinson se siekte is ’n breinafwyking wat veroorsaak dat ’n mens geleidelik spierbeheer verloor. Dit gebeur wanneer die selle in jou brein wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van dopamien, begin doodgaan. Dit tas jou vermoë om te beweeg en selfs te praat aan, aangesien die brein nie meer vinnig genoeg kan reageer nie. Dit kan natuurlik ook jou gemoed, gedrag en denke beïnvloed. Daar is medikasie beskikbaar wat die simptome verlig, maar die medikasie het weer slegte newe-effekte, soos onder andere diskinese, wat na die onwillekeurige beweging van ’n mens se ledemate verwys.
Met die diagnose was my kinders vyf, vier en een jaar oud. Van die eerste gedagtes wat by my opgekom het, was hoe die siekte hulle gaan raak en of hulle nie skaam sal raak wanneer hulle ma snaakse bewegings maak nie. Gelukkig kon ek dit aanvanklik regkry om net aan te gaan met my lewe en ek dink nie my kinders het agtergekom ek is siek, of “anders” nie.
My toestand het uiteraard mettertyd agteruitgegaan en veral die laaste paar jaar voor ek ’n operasie ter verligting van die simptome sou ondergaan, was moeilik. Die medikasie wat ek toe gebruik het, het ’n rukkie geneem om in te skop nadat ek dit gedrink het. Tot dan kon ek omtrent niks aanpak of uitrig nie, want in daardie tydgreep gaan boodskappe glad nie deur na die brein toe nie. Dit was veral ’n probleem in die oggend as ek wakker geword het. Boonop kon ek snags net so twee tot drie uur slaap en opstaantyd soggens moes Nickey my help aantrek. Dus het elke oggend en dag ’n uitdaging geraak. Gelukkig het ek toe reeds lankal besluit dat ’n mens twee keuses het – jy kan lag, of jy kan huil. Ek kies elke keer lag, so ons lag baie!
Mense se reaksie oor my bewerige ledemate en diskinese was ook baie snaaks, maar ek het besef hulle bedoel net goed en wil in die meeste gevalle bloot help. Ek moes gewoond raak aan mense wat my aanstaar, vra of ek nie koud kry nie en of ek nie dalk die toilet wil gebruik nie. As die diskinese erg was, was ek soos die spreekwoordelike bull in a China shop — die tandarts en die haarkapster moes letterlik met ’n moving target werk.
Ek het al meer baie begin sukkel om gewone bewegings uit te voer en in 2015 het ons besluit dat ek ’n diepbreinstimulasie-operasie (DBS) moes ondergaan. Ek was verskriklik bang daarvoor, aangesien die neuroloog ons vir bykans twee ure besig gehou het net om te verduidelik wat alles tydens die operasie kan verkeerd loop en dat daar geen waarborg op sukses was nie. Tydens die operasie word elektrodes chirurgies deur ’n neurochirurg in die brein ingeplant en die elektrodes stimuleer dan sekere areas in die brein. Die DBS-neurostimulator, of pasaangeër, word gewoonlik naby die sleutelbeen ingeplant en is aan die brein gekoppel deur klein draadelektrodes wat weer elektriese seine vanaf die neurostimulator na die elektrodes in die brein stuur. Die impulse wat na die brein gestuur word, verlig die simptome van die siekte, wat beteken dat die pasiënt minder medikasie hoef te gebruik en dat die newe-effekte soos diskinese ook verminder.
Die dag van die operasie was vreesaanjaend. Eers het die dokter al my hare afgeskeer en toe het hulle ’n helm op my kop vasgeskroef wat my kop moes stilhou. Daarna is ek vir ’n CT scan om te bepaal of hulle wel kon boor tot waar die electrodes ingeplant sou word. Ek moes wakker wees vir ’n groot deel van die ses uur lange operasie sodat bepaal kon word of die elektrodes op die regte plek geplaas is, en of ek positief reageer op die stimulasie. Nadat die elektrodes suksesvol geplaas is, het hulle vir my narkose toegedien en die pasaangeër onder my vel geplaas. Tydens die hele prosedure moes my gesin gespanne sit en wag op die uitkoms, maar deur die genade het alles glad verloop en die operasie was ’n reusesukses. Ek is die Woensdag geopereer en die Saterdag was ek terug by my huis. Daarvoor loof ons die Here!
Na die operasie kon ek baie meer doen en my simptome was minder erg. Ons kan nou weer gaan fliek, uiteet en reis. Ek gebruik nog medikasie, maar minder. My linkervoet sleep kwaai, veral as ek begin moeg raak en ek ervaar ook steeds diskinese, maar dis meer beheersd. Elke dag bly maar steeds ’n uitdaging, maar ek besef ook dat alle mense hulle eie unieke uitdagings het. Daarom maak ek doelbewus elke dag ’n keuse en my keuse is: If I am not up , I am Getting up!
Die meeste van my simptome is sigbaar, maar gelukkig is ek ’n ekstrovert wat regtig nie kan stilsit en tob oor wat mense van my gaan dink nie. Om saam met die siekte te leef het my baie geleer en die een les wat boaan my lys van lewenslesse staan, is: Wees altyd dankbaar vir die Here se genade en leef elke dag voluit.
Daar het nou 21 jaar verloop vandat ek die eerste tremor gevoel het. Intussen is van my vriendinne, asook my geliefde suster, oorlede, maar ek beur nog voort. ’n Mens moet niks as vanselfspekends aanvaar nie. Wees lief vir die mense wat God oor jou pad stuur en laat God se lig deur jou skyn en laat Hy bepaal hoe jy na ander mense kyk – jou oë vertel presies hoe jy voel. Die Here het my geseën met ongelooflike vriendinne, wat my aanvaar en liefhet nes ek is en wat altyd bereid is om my te help. Niks is ooit te veel vir hulle nie en dit maak ’n groot verskil in my lewe.
Ek glo regtig dat elkeen van ons hier op aarde is om God se liefde uit te leef, want daar is geen groter liefde as dit nie. Ek sê elke dag vir Here dankie vir wonderlike ouers wat my met liefde grootgemaak het, vir my broers en suster en ook vir ’n fantastiese man wat my regtig baie goed verstaan, wat die Here dien en die hoof van ons huis is, vir drie ongelooflike seuns en ’n skoondogter – elkeen deur Hom met die hand uitgesoek.
| Karen en Nickey Cilliers is jare lange, gewaardeerde lidmate van Stellenberg-gemeente. Karen het in die 1990’s ook in die kerkkantoor gewerk. Haar positiewe lewensuitkyk, humorsin en gelate hantering van die lewe se uitdagings, maak op almal wat haar pad kruis, ’n blywende indruk.