My reis met Covid-19 – eiesoortig en gemeenskaplik

Deur: Rudolph van Schoor

My reis met Covid-19 is anders as joune, maar ook nie uniek nie.  Die virus sorg dat ek en jy ervarings deel wat simptome, die verlies aan vriende en familie en die herstelproses, insluit. Wanneer ons egter begin reflekteer oor wat met ons gebeur het,  word die reis persoonlik.

My aanvoeling is dat die meeste van ons hierdie spanning tussen die gedeelde en die eiesoortige ervarings probeer balanseer om sin daarvan te maak.  Die spanning lê dan opgesluit daarin of my optrede en ervaring van Covid-19 reg of verkeerd is.  Dit opper dan ook in die vraag of daar iets fout is met my  indien my ervaring verskil van ander s’n.

Ek het op 23 Desember 2020 positief getoets vir Covid-19.  Natuurlik was Kersfees- en Nuwejaarsvieringe toe neusie verby en my teleurstelling groot.  Die virus het my swaar getref en op ’n stadium was dit naelskraap of ek in die hospitaal sou beland, al dan nie.  Ek het die heeltyd positief probeer bly, maar in my agterkop was daar ’n gesprek aan die gang: Hoe erg gaan die simptome nog raak?  Wat gaan die uiteinde wees?  Gaan ek dit maak?  Ek was deeglik bewus daarvan dat ek nie die uiteinde sou kon voorspel nie.

In my praktyk as berader is dit my werk om mense te ondersteun wanneer hulle deur die impak van Covid-19 op hulle lewens probeer werk.  Skielik was die rolle omgeruil en ek was die ou met al die vrae wat in die stoel gesit het.  Met verloop van tyd het ek herstel en dit was ’n groot aanpassing vir my om te leer om na my liggaam te luister en nie te veel,  te vining te wil doen nie.  Net toe ek egter dink ek is op die herstelpad, word ek gediagnoseer met sogenaamde lang-Covid.

Lang-Covid verwys na die langtermyneffek wat die virus op jou liggaam kan hê en dit kan verskillende simptome insluit.  Pasiënte sukkel om te herstel van:

  • Swak kardiovaskulêre fiksheid
  • Liggaamskrag wat afgetakel is
  • Trauma en depressie
  • ’n Deurlopende tekort aan suurstof
  • Spier- en gewrigspyne
  • Swak slaappatrone
  • Angstigheid
  • Hartkloppings
  • Duiseligheid
  • Tinnitus – ’n konstante singende geluid in die ore
  • “Brain fog”– swak geheue, konsentrasie en aangetaste uitvoerende breinfunksie.

In my geval was dit die “brain fog” wat my getref het.   Ek het verskriklik gesukkel met my geheue en konsentrasie. Ek was voortdurend daarvan bewus dat ek nie so skerp soos voorheen is nie. In gesprekke met ander mense het ek gevoel asof ek een tree agter almal is en ek het gesukkel om die belangrikste goed wat mense sê, te onthou.  Gelukkig kon ek met die hulp van intensiewe arbeidsterapie ten volle herstel. Tussendeur het ek ook familie en vriende weens die virus verloor.

Ek skryf oor my persoonlike ervaring omdat ek besef hoeveel mense met lang-Covid-19 sukkel en nie verstaan wat met hulle verkeerd is nie.  ’n Mens is bang om aan jouself te erken dat Covid-19 nog nie met jou klaar is nie.  In baie gevalle is ’n mens onseker oor wat besig is om met jou te gebeur en bly jy dan eerder stil, veral wanneer kognitiewe of psigiatriese simptome ter sprake is.  Oor die algemeen is ’n mens meer gemaklik om oor fisieke simptome soos kortasem en verswakte liggaamskrag te praat.  Ek hoop dat my ervaring ook ander mense sal help om woorde te vind vir dit wat hulle ervaar en dat hulle die mense na aan hulle in hulle vertroue sal neem en daaroor sal begin praat.

Ek het die volgende geleer: Covid-19 en lang-Covid was die beker wat die Here vir my gegee het om te drink.  Eers het ek daarteen baklei, maar toe ek gewillig word om dit te drink, het ek besef dat ek die Here kan vetrou en loof, selfs wanneer dit baie sleg gaan – selfs wanneer ek nie weet hoe die prentjie aan die einde van hierdie tonnel gaan lyk nie.  Ek het nie noodwendig al die antwoorde nodig voordat ek vorentoe kan beweeg nie. Die Here wat alles ten goede laat meewerk, het vir my nuwe betekenis gekry.  Ek moes uit myself en my eie verwysingsraamwerk klim en begin groei en ontwikkel.  Op persoonlikheidsfaktore wat ek voorheen geïgnoreer het, het die Here sy vinger kom druk.  Ek moes groter word as my probleem.   Die Here het vir my gewys dat dit wat ek nodig het om die wa deur die drif te trek, reeds as ’n geskenk aan my gegee is.  Die vertrekpunt was om in kongruensie met myself te wees en vanuit die innerlike balans omstandighede te verwerk.  Die antwoord op die vraag wie is jy . . .  word dan skielik die gereedskap waarmee ’n mens die uitdagings moet aanpak.

Ten slotte: gee uitdrukking aan ervarings.  Práát met die mense na aan jou en kry die hulp wat jy nodig het.  Moenie skaam wees nie.  Geloof te midde van ’n mens se stryd om te bly vertrou en om  ooreenstemmend daarmee vol te hou,  was my  vertrekpunt om sin te kon maak oor wat met my gebeur het.  Dit het my ook gehelp om die spanning tussen my eie unieke ervaring met Covid-19 en my gedeelde ervaring met ander mense, te balanseer.

| Rudolph van Schoor is ’n lewensafrigter en berader verbonde aan die Stellenberg-terapiesentrum.