Waarom is die 500-jarige Reformasie vandag nog belangrik?

Vir die meeste van ons is name soos Martin Luther en Johannes Calvyn nie te onbekend nie. Iewers in ons grootwordjare het ons tydens Sondagskool, ’n saalbyeenkoms of erediens van die Reformasie van 1517 gehoor en hoe mense soos Luther en Calvyn die kerk soos dit in hulle tyd daar uitgesien het, verander het.

Dit is egter gebeure van baie jare gelede en die geskiedenis daarvan het waarskynlik al vir die meeste van ons vervaag. In 2017 vier Protestantse kerke oor die hele wêreld heen die 500-jarige herdenking van die Reformasie en ons gemeente se kerkraad het besluit om dit in die komende jaar ook Stellenberg se fokuspunt te maak.

Wanneer ons die Reformasie herdenk, vier ons baie meer as ’n belangrike historiese gebeurtenis. Dit herinner ons aan die werklikheid dat God ons nie net iewers in tyd geskep het nie, maar dat ons ook voortdurend deur Hom herskep of gereformeer word. Dit is immers in wese die indentiteit van ons kerk se gereformeerde karakter.

Ons 2017-jaartema is Reformerend Vorentoe. Die skets deur Nico Simpson op die voorblad van ons gemeente-almanak, verwys na die verhaal in Lukas 4 toe Jesus in die sinagoge uit die ou Joodse geskrifte gelees en dit opnuut geïnterpreteer het. Met dié lering het Jesus gelowiges weer bewus gemaak van hoe God se hart klop en gelowiges gevra om Hom hierin na te volg.
Ons maak ’n fout as ons dink dat die Reformasie van 1517 net op die kerk van toepassing was. Dit het daartoe bygedra dat die samelewing van daardie tyd onherroeplik verander het. Die Reformasie, as deel van die Renaissance, het nuwe groei ook in onder andere musiek, geletterdheid, wetenskap, onderwys en regeringstelsels teweeggebring.

Ons sien met verwagting uit na die komende jaar se fokus en gepaardgaande program. Ons begin reeds in Februarie met ’n Bybelskoolkursus oor die Reformasie, wat deur verskeie predikante van ons omgewing aangebied word. Deur die loop van die jaar word programme, wat by die Reformasie-tema aansluit, aangebied. Bekyk die volledige program op www.stellenberg.co.za en hou ook die weeklikse bulletin dop.