Ons groet vir Braam

deur: ds. Callie Visagie

By bepaalde geleenthede in ’n gemeente se geskiedenis word bakens langs die pad opgerig, ’n klipstapel gepak waar ons almal ’n oomblik kan vertoef om as gemeente en geloofsgemeenskap aan die Here eer te bring.  Stellenberg kom op Sondag 19 Februarie voor so ’n geleentheid te staan, wanneer ons erkenning wil gee aan die gawes waarmee die Here die gemeente deur middel van Braam se bykans 24-jaar lange dienstyd geseën het.

Braam het in 1993 sy dienstydperk in die gemeente begin. Die Sinode van Wes-Kaapland het later 50% van sy diens bekom om hom in sinodale hoedanigheid aan te wend. Hy was toe onder meer verantwoordelik vir Gemeenteontwikkeling en Kerklike Samewerking. Daarna het hy verantwoordelikheid gedra vir die kerk se barmhartigheidstaak, Armoede en Sorg. In 2013 is Braam voltyds na die Sinode beroep en tans staan hy aan die hoof van die Sentrum vir Publieke Getuienis. Stellenberg gemeente het egter ’n ooreenkoms met die Wes-Kaapse Sinode aangegaan waarvolgens Braam 10% van sy tyd hoofsaaklik aan prediking in die gemeente sou bestee. Ons is nou aan die einde van dié ooreenkoms en Braam sal voortaan slegs in diens van die sinode as Predikant in Sinodale Diens wees.

In Stellenberg-gemeente het hy as wykspredikant, prediker, visionêr, voorsitter van die kerkraad en as leier in die algemeen ’n besondere bydrae gelewer. Braam se rol in die breë kerklike gemeenskap is wyd bekend. Vir ’n hele aantal termyne het hy in die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode asook in leierskapsrolle, los van sy werk as Predikant in Sinodale Diens, gedien.  Hy was etlike jare assessor (ondervoorsitter) van die moderatuur en ook ag jaar die moderator (voorsitter).  Die Here het vir Braam geseën met besondere gawes. As prediker en spreker is vele mense al geseën deur sy besondere insig en ’n hele aantal boeke het ook al vanuit sy pen verskyn.

Die Hanekom-familie word DV eersdaags uitgebrei met ’n seuntjie vir Niel en Marietjie Steyn (Braam en Mariette se dogter). Marietjie is predikant in Bloubergstrand en Chris, hul seun, werk in die finansiële sektor in Stellenbosch. Die leiding en lering wat Mariette as mede-aanbieder van die Bybelstudie vir vroue op ’n Maandae bied, is al die afgelope jare ’n kosbare bousteen in die gemeente.

Die Sinode moedig predikante wat in sinodale diens is, aan om aan gemeentes verbonde te bly om sodoende ook vir hulle toegang tot kerkvergaderings te gee. Braam woon nog in die gemeente in Stepping Stones en die kerkraad het met genoeë goedkeuring verleen dat hy steeds as predikant aan die gemeente gekoppel kan wees. Daar is reeds ooreengekom dat hy ten minste een preekbeurt per kwartaal sal waarneem en as lid van my wyk, sal hy beslis ook by gesellighede soos roosterkoek- of pannekoekverkope ingespan word.

Op Sondag 19 Februarie in die erediens om 09:00, vier ons Braam se dienstyd saam met die gemeente! U is baie welkom om die geleentheid by te woon en na afloop daarvan saam ’n koppie tee en verversings in die Markplein te geniet.

Ralph Waldo Emerson het gesê: The creation of a thousand forests is in one acorn. Iets hiervan is waar in die lewe van dié predikant waarmee Stellenberg en die breër kerk geseën is!