Kan die welwaartgaping tussen ryk en arm

KAN DIE WELVAARTGAPING TUSSEN RYK EN ARM IN SUID-AFRIKA SUKSESVOL OORBRUG WORD?

deur: Nico Combrink, NG Kerk Hugenoot, Bloemfontein

Die meeste van ons het in mindere of meerdere mate vir onsself die saak uitgemaak dat die kapitalistiese markekonomie, ondanks sy tekortkominge, die enigste ekonomiese stelsel is wat ekonomiese groei, rykdom en welvaart kan skep. Die volgende beginsels lê ten grondslag van die kapitalistiese paradigma: die reg om privaateiendom te bekom, te gebruik, te verkoop, of te bemaak; bedryfsvryheid om ekonomiese hulpbronne te bekom en te gebruik of om enige goedere en dienste te produseer en dit op die mark van hul keuse te verkoop; vrye mededinging op die grondslag van vraag en aanbod; en innovering en die uitgebreide aanwending en snelle ontwikkeling van komplekse kapitaalgoedere vir berging, kommunikasie, vervoer en bemarking deur gevorderde tegnologie.

Die vryemarkekonomie het reeds sedert die laat 19de eeu bewys dat ekonomiese groei bykomende werksgeleenthede skep en dat die selfregulerende meganisme van die onsigbare hand van vraag en aanbod, tesame met die invordering en aanwending van belasting deur die staat, die meganisme bied waardeur die herverdeling van rykdom binne die kapitalistiese sisteem plaasvind.

Tog is dit duidelik dat die moderne kapitalisme nie bevredigend daarin slaag om sy sistemiese gebreke te oorbrug nie, en dat Karl Marx se kritiek teen die kapitalisme in sommige opsigte steek hou. Die dinamika van al hoe groter private kapitaal-akkumulasie en kapitaalkonsentrasie in die hande van ʼn al hoe kleinerwordende ekonomiese elite, is primêr verantwoordelik vir die groeiende gaping tussen ryk en arm, in veral ontwikkelende lande met ontluikende demokrasieë.

Die maatskaplike ongelykheid in Suid-Afrika en die oneweredige verdeling van rykdom is nie net ʼn vraagstuk vir die politici, ekonome en sosiaal-wetenskaplikes nie. Ons word elke dag gekonfronteer met die fisiese werklikheid van hierdie ongelykheid in ons samelewing: op die straathoeke en die sypaadjies van Bloemfontein, by ons werksplekke, in die omstandighede van ons huishulpe en tuinwerkers, en les bes, ook in die omstandighede van sommige van ons lidmate. En laat ons nie in ons misnoeë met die optrede van die anargistiese elemente in die studentegeledere, miskyk dat armoede en ongelykheid die primêre sneller vir die #FeesMustFall-veldtog was nie. Politieke omstandighede en ons uiteenlopende maatskaplike en ekonomiese agtergronde, laat ons deur verskillende lense na die ongelykheid in ons samelewing kyk en skerp, subjektiewe politieke oordele vel oor die (on)regverdigheid daarvan.

Op die twee pole van die spektrum is daar aan die eenkant diegene wat glo in geen staatsinmenging in die ekonomie nie, en dat die selfregulerende markkragte van vraag en aanbod, die verspreiding van kennis en tegnologiese vooruitgang, die ongelykheid uit die weg sal ruim en relatiewe welvaart vir almal sal meebring. Aan die anderkant is daar diegene soos die Economic Freedom Fighters wat glo dat die kapitalistiese stelsel inherent gebrekkig en onregverdig is en dat slegs ʼn sosialistiese staatsbestel met ʼn herverdeling van rykdom deur onteiening en nasionalisering deur die staat, armoede en ongelykheid kan oorbrug.

Om uitsluitlik vanuit enige een van hierdie twee pole van die spektrum te redeneer, is om die verkeerde vertrekpunt te neem en daarom by geen oplossing uit te kom nie. Beide benaderings is ewe eensydig omdat eersgenoemde die iron laws of economics verabsoluteer en laasgenoemde die verdeling van die bestaande koek en social justice sonder nuwe welvaartskepping, voorop stel. In die oë van ’n arm, verdienstelike student wat nie sy studiegeld kan betaal nie, terwyl die uitvoerende hoof van Shoprite-Checkers verlede jaar ’n salaris van R50 miljoen getrek het en ʼn bykomende bonus van R50 miljoen verdien het, en die staat miljarde rande oor die afgelope aantal jare spandeer het om die luukse van ’n eie Suid-Afrikaanse lugdiens aan die gang te hou, is die eis vir gratis tersiêre onderwys volkome geregverdig.

Moet ons egter nou daaruit aflei dat die maatstaf van prestasie (d.w.s. om werkers te beloon ooreenkomstig hul werksprestasie) ʼn nuttelose metinginstrument is? Sekerlik nie. Die Bybel het tog talle voorbeelde oor die arbeider wat sy loon werd moet wees, met o.m. die gelykenis van die goue muntstukke, as voorbeeld (Lukas 19).

Ekonomiese prestasie is egter nie ʼn doel op sigself nie. Ons roeping en bestemming omsluit veel meer as werksprestasie, en die generering van rykdom. Hulle wat nie in staat is om ʼn inkomste te verdien nie – hetsy hulle te jonk of te oud is, tydelik ongesteld of permanent werksongeskik is, of onder die 26% van die arbeidsmark ressorteer wat nie werk kan kry nie – het ook ʼn lewensdoel.  Finansiële inkomste is ʼn blinde en ontoereikende metinginstrument van ʼn persoon se waarde en sy bydrae tot die samelewing.

Ons gaan waarskynlik nooit die probleem van die welvaartgaping tussen ryk en arm in ons samelewing volledig kan uitwis nie, maar ons kán dit verklein deur ʼn progressiewe belastingstelsel (o.m. deur inkomste-glyskale)wat ook uitgebrei behoort te word na ʼn gedifferensieerde studentebelasting, ooreenkomstig studente en/of hul ouers se inkomste, om vir universiteitsopleiding te betaal. Net soos persone wat in die onderste inkomstepersentiel val en nie persoonlike belasting hoef te betaal nie, moet dit kan geld ten opsigte van universiteitsgeld. Ons kan nooit sê dat slegs hulle wat kan betaal, die voordele van studiegeleenthede behoort te geniet nie.

Ons het dus groot ongelykheid in ons samelewing en nie almal het dieselfde lewenskwaliteit nie. Sommige van ons het geld, goeie gesondheid en voorspoed, terwyl ander die las van armoede, siekte en teëspoed ervaar – in wisselende kombinasies van hierdie faktore, natuurlik. Nogtans het ons lewens almal gelyke waarde in die oë van die Here. Hierdie versekering vind ons in Joh. 3:16: God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

As ʼn mens na die grimmige statistiek oor die welvaartdifferensiaal tussen ryk en arm kyk – 10% van die rykes besit 85% van die wêreld se rykdomme en bates, terwyl 17% van die bevolkings in ontwikkelende lande elke dag ʼn karige bestaan op die randjie van hongersnood voer – doem een groot gevolgtrekking op: Baie meer van God se kinders, wat Hy álmal liefhet, leef in materiële armoede as in rykdom!

Een van die sentrale temas van die Bybel en van Jesus se bediening en lering, is om mense wat in nood verkeer, by te staan. Nêrens in die Bybel kom dit so duidelik na vore as in Jesus se profetiese rede oor die laaste oordeel nie:              “Ek was honger en julle het My niks gegee om te eet nie, … siek en in die tronk en julle het My nie versorg nie.” En op die verontskuldigende vraag, maar Here wanneer was ons ooit in ʼn posisie om dit vir U te doen, antwoord Jesus: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie” (Matt. 25: 31-46).

In ʼn sosiaal-demokratiese regsorde het die staat die verantwoordelikheid om na die regsbelange van al sy burgers om te sien, o.m. deur die skep van bekostigbare basiese onderwys en mediese dienste, die vasstelling van minimumlone en ander billike arbeidspraktyke, kindertoelaes en welsynspensioene, en sodoende by te dra tot die welvaart en die skep van beter lewensomstandighede vir al sy regsonderdane.

Ons as kinders van God het insgelyks ʼn persoonlike verantwoordelikheid om deur ons sosiale gewete aangedryf deur barmhartigheidswerk in nieregeringsinstansies, ons kerke en ons eie huise, by te dra tot die lewenskwaliteit van hulle wat nie het nie. Jesus leer ons dat ons voorspoed en ons rykdom ʼn geskenk is wat ons in sy diens en tot sy eer moet aanwend. Kom ons deel dit ruimhartig in die een of ander opwindende projek om ʼn verskil in iemand se lewe te maak – soos om die skoolgeld van jou behoeftige enkelmahuishulp se kind te help betaal en hom of haar dus dieselfde wegspring en kanse as vir jou eie kinders te bied.

God leer ons dat elke mens se lewe ʼn geskenk is, en daarom ons agting waardig is. Jesus het immers vir ons almal gesterf.