Stellenberg maak harte oop vir brandslagoffers

Deur: ds. Why Duvenhage

Op Saterdag 11 Maart ontvang ek ’n oproep van die JAM-span: “Imizamo Yethu brand alweer, maar hierdie keer is dit die ergste ooit!”

Verskeie kere in die verlede het daar al woonplekke in hierdie informele nedersetting teen die hange van die berg bokant Houtbaai, afgebrand, maar die brand van Saterdag 11 Maart was die verwoestendste tot nog toe.   Duisende huise is deur die vuur verswelg en 15 000 mense is dakloos gelaat.

Stellenberg het oor die afgelope jare  deur middel van uitreike en kampe vir minderbevoorregte kinders in Imizamo Yethu betrokke geraak.  Die JAM-span lewer ook op ’n gereelde basis bedieninge in die gemeenskap.

In die media het ons foto’s van skrikwekkende tonele en van desperate en verwaarloosde mense gesien. ’n Gesin van drie het ook hulle lewens in die brand verloor.

Sondagoggend 12 Maart het ek van die kansel af ’n vinnige oproep op Stellenbergers gedoen  om waar moontlik dié getraumatiseerde brandslagoffers te help. Teen die Sondagaand was die verhoog van die grootsaal byna volgepak met kos, klere, komberse, babadoeke, babamelk, ens.  Maandagoggend het ’n span helpers die artikels sorteer en kon ons die ruim skenkking vir dakloses in Houtbaai gaan aflaai.

Dit was verblydend om te sien hoe Stellenbergers hulle harte oopmaak vir mense wat in nood verkeer  –  selfs aan die ander kant van die berg.  Baie dankie vir elkeen se bydrae.  Ons het betroubare verspreiders in Houtbaai wat sorg dat bydraes aan die regte persone besorg word.

Vir my sal Maandag 13 Maart altyd uitstaan as een van die hoogtepunte in Stellenberg-gemeente.  Die ware betekenis van kerkwees is om ’n hart te hê vir mense wat ly en swaarkry.   Jesus was tog vir ons as gelowiges die beste voorbeeld van barmhartigheid.  Dit is baie betekenisvol dat dit juis in lydenstyd gebeur het;  in dieselfde dae  waartydens ons identifiseer met die lyding wat Jesus ter wille van elkeen van ons verduur het.