Nuwe dinge, nuwe tye

deur: ds. Peter Kotze

Nuwe dinge is op pad vir Stellenberg se jeug.  Vanaf Sondag 23 April 2017 begin die jeugdiens reeds om 18:00, met die kleingroepe wat net na die diens vergader.  In die verlede het die senior grade se kleingroepe om 18:00 bymekaargekom en het die jeugdiens dan om 18:45 gevolg.  Die senior kategesegroep was dus vanaf 18:00-20:00 by die kerk.

Dié twee-uur-tydgleuf verander nie – ons gaan steeds van 18:00 – 20:00 bymekaarkom, maar die volgorde van die jeugdiens en die kleingroepe swaai nou net om.

Ons jeugbediening word vanaf 2017 gebou op die pilare van Kennis, Ontmoeting, Intimiteit, Gemeenskap en Bemagtiging.  Die eerste drie hiervan vorm die fokus van die jeugdiens. Die klem word dan geplaas op kennis van God;  ’n ontmoeting met Jesus; en intimiteit met die Vader.  Aanbidding lê dus ten grondslag van die eerste drie pilare.  Tydens die kleingroepsessies direk daarna gaan ons dan konsentreer op gemeenskap,  asook die bemagtiging van ons jeuggroep.  Die bywoning van die jeugdiens word ’n geïntegreerde deel van die kleingroepe en sodoende vorm die   jeugdiens en kleingroepe ’n eenheid waarin al die pilare vervat word.

Alle lidmate is uiteraard baie welkom by die jeugdiens en wil ons graag veral ouers uitnooi om dié erediens gereeld by te woon.  Die jeugdiens is ’n volwaardige erediens waar ons saam Jesus leer ken, ons verhouding met Hom bou en dan saam ’n verskil gaan maak.

Ons is opgewonde oor die pad vorentoe.  Sien julle vanaf 23 April om 18:00 in die kerk vir die jeugdiens.