Lydenstyd in Stellenberg

Lydenstyd in Stellenberg

Rondom ons sien mense met verwagting uit na die reënseisoen wat moet kom. Seisoene verander en ons pas ons lewenstyl daarvolgens aan.  As kerk is ons in die seisoen van Lydenstyd wat opbou na die Groot Lydensweek en Paasnaweek.  Dit bring ons by die ware betekenis van Christus se lyding, sterwe en opstanding en die begeerte om dit saam te vier. Ongelukkig gaan dié seisoen dikwels by ons verby omdat dit aan die einde van ’n besige eerste kwartaal en ook in die  vakansie val.  Lydenstyd en Paasfees verg van ons as gelowiges om intens beleef te word. Daar is tog ’n paar maniere waarop ons die opbou na Paasfees deel kan maak van ons besige lewens.

  • Woon ons Sondageredienste by waarin ons lydenstyd en Paasfees vier.
  • Kies een van die Evangelies en ruim tyd in om in jou stiltetyd of as Bybelstudiegroep die opbou van gebeure tot Paasfees te lees. Die Markus-evangelie staan baie tyd daaraan af (lees die verhaal van Markus 8:31-16:20).
  • Volg die leesrooster van die Groot Lydensweek (10-15 April) op ons gemeente se webwerf waarin gefokus word op Jesus se laaste week in Jerusalem.
  • Vier hierdie seisoen saam met ander deur ’n rooi kruis op jou voordeur aan te bring.

Vir die kinders:

Ons doen in besonder moeite om ook lydenstyd vir die kinders ’n betekenisvolle ervaring te maak.

  • Elke kind vanaf graad 1 tot  6 ontvang ’n Paasfeesaktiwiteisboekie – STAP SAAM MET Jesus.  Die boekie begelei hulle in die lees en verstaan van die hele Paasvehaal. Daar is ook prettige saamdoenaktwiteite in die boekie. Ouers kan ook die boekie as riglyn gebruik om met hulle kinders oor Paasfees te gesels.  Indien jou kind nie by die kategese ‘n boekie ontvang het nie, kontak asb. vir Brenda Visser by brenda@stellenberg.co.za.

Volg die Groot Lydensweek:

In hierdie week herdenk ons die gebeure voor Jesus se kruisiging toe hy vir die viering van die Joodse Paasfees in Jerusalem arriveer het.  Die evangelies van Matteus, Markus en Lukas volg min of meer dieselfde storielyn, terwyl Johannes op plekke van hulle verskil.

Maandag 10 April:  Jesus arriveer in Jerusalem vir die Paasfees – Matteus 21:1-11.

Dinsdag 11 April:  Jesus vervloek die vyeboom – Matteus 21:18-22 en Jesus reinig die tempel – Matteus 21:12-17.

Woensdag 12 April:  Stil Woensdag. Die evangelies beskryf nie gebeure van die dag nie.

Donderdag 13 April:  Die paasmaal word voorberei en gevier – Matteus 26:1-35 en  Jesus word gevange geneem in Getsemane en na Kajafas se huis geneem – Matteus 26:36-75.

Vrydag 14 April: Jesus se verskyning voor Pilatus, sy kruisiging en sterwe – Matteus 27:1-61.

Saterdag 15 April:  Stil Saterdag. Die graf word bewaak – Matteus 27:62-66.

Paassondag 16 April: Jesus se opstanding – Matteus 28

Spesiale eredienste tydens Paasnaweek:

Donderdag 13 April – Nagmaal in die kerk om 19:00

Goeie Vrydag 14 April – Erediens in die kerk om 09:00

Paassondag 16 April – Paasnagmaal om 06:15 in die kerk en Paasdiens om 09:00 in die kerk