Reformerend vorentoe . . . deur die Skrif alleen

Reformerend vorentoe . . . deur die Skrif alleen

Die Reformasie waaruit ons eie kerk voortgespruit het, het sy beslag gekry na ‘n reeks gebeure aan die begin van die 16de eeu, waartydens gelowiges in opstand gekom het teen die rigting waarin die destydse Rooms-Katolieke Kerk ontwikkel het. Ons vier hierdie jaar die 500-jarige herdenking van ’n tradisie wat begin is toe Martin Luther op 31 Oktober 1517 ’n klagskrif teen die deur van die Katolieke kerk in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker het.

Die beginsels van die Reformasie, wat eers heelwat later in die 20ste eeu sistematies geformuleer is, word in die volgende vyf solismes vervat: Sola Scriptura (die Skrif alleen), Sola Fide (geloof alleen), Sola Gratia (genade alleen), Solus Christus (Christus alleen), Soli Deo Gloria (aan God al die eer). In die loop van die jaar sal elkeen van hierdie beginsels kwartaalliks in ‘n preekreeks behandel word.

Die proses van die Reformasie is aan die gang gesit deurdat Luther klem gelê het op die Bybel (Sola Scriptura).  Volgens die Rooms-Katolieke Kerk is alle gesag gesetel in die Pous, wat kragtens opvolgtradisie in die plek van die apostel Petrus deur God aangestel is om oor die kerk en sy mense te regeer. Aanvanklik kon en mag slegs die Pous en priesters die Skrif lees, verstaan en uitlê. Hierteen het Luther in opstand gekom en gesê dat gelowiges uit eie reg, deur die werking van die Heilige Gees, die Bybel moet kan lees en interpreteer. Omdat die Bybel voor die Reformasie slegs in Latyn beskikbaar was, moes dit egter eers vertaal word.  Die mees tasbare nalatenskap van die Reformasie is die vertaling van die Bybel in verskillende volkstale, sodat almal vrylik kon lees.

Die Reformasie se klem op gelowiges se reg om self die Bybel te lees en geloofswaarhede te ondersoek, het egter ook baie kritiek ontlok. Vandag bly hierdie ‘n kwessie waarmee ons steeds in die kerk worstel, want hoe rym die verskilllende, en soms teenstrydige vertolkings met die wil van een God?  Die Reformasie help ons hiermee, aangesien hervormers soos Luther en Calvyn nie net die klem op die Bybel geplaas het nie, maar ook op die wyse waarop ons die Bybel lees en verstaan.

Tydens ’n toerustingsgeleentheid op 7 Maart gaan veral aan dié twee kwessies aandag geskenk word.

Dinsdag 7 Maart om 19:00 in Stellenberg se Kleinsaal

Aanbieder: ds. Marius Breytenbach