Braam sê totsiens

Einde Februarie kom my formele kontrak met die gemeente tot ’n einde en op 19 Februarie kon ons 24 jaar se diensjare in die gemeente vier. Mensdom, maar die tyd gaan vinnig verby! Daar is soveel herinneringe en soveel nostalgie wat ’n mens met jou saamdra. Ons kinders was hier in die                    preprimêr, laerskool en hoërskool. My seun kom nou die dag by die huis (hy is nou 26) en vertel vir my hoe hy gesien het hoe die pa’s en seuntjies regmaak vir hul uitkamp by die preprimêr. Ek en hy het ook saam daar gekampeer. Ek dink aan die basaars, maanligaandbraaie by Eversdal, MTBS saam met Stellenberg en sport op Saterdae. Die kerk, die skool en die gemeenskap hier was nog altyd met  mekaar verweef.

As ek terugkyk op 24 jaar in Stellenberg-gemeente,  dan kom daar ’n paar dinge by my op wat vir my baie kosbaar is en baie dankbaar laat:

  • Die gemeente se vermoë om te vernuwe en die bediening vars te hou.
  • Die gemeente se vermoë om diversiteit te hanteer.
  • Die gemeente se bereidwilligheid om uit te reik.
  • Die gemeente se vermoë om te kan kuier!
  • Die gemeente se vermoë om verantwoordelik te beplan en te bestuur.
  • Die gemeente se liefde vir die jeug en respek vir bejaardes.
  • Die lysie gaan net aan en aan . . .

Ek dink dat die wêreld ’n onseker tyd binnegaan. Die wêreld, asook die Kaapse Skiereiland en omstreke, het ’n vol plek geword,  met ongelooflike druk op ons ekologiese bronne. Die wêreld het ook ’n gevaarliker plek geword asook ’n plek waar geloof al meer na die buitewyke van ons bestaan verskuif.  Dit is in hierdie konteks dat Stellenberg geroepe is om as gemeente, deur geloof, ‘n volgehoue verskil op die markpleine te maak.

Mag die gemeente bly vernuwe en groei – veral in geloof!.

Nogmaals baie dankie vir die wyse waarop Stellenberg my en my gesin versorg het, ons lewens kleur gegee het en ons bestaan sinvol gemaak het.

Aan God al die eer!

Braam