Medewerker – Christo Wooding

Ds. Christo en Deleste Wooding is nou al 25 jaar werksaam op Kokstad.  As jong afgestudeerde het hy op die Isilimela-sendingstasie begin werk en in 1993 na Kokstad verhuis, waar hy steeds in die bediening staan.

Sy bediening strek oor ’n wye geografiese area.  Christo verduidelik sy hoofgemeente is op Kokstad.  Daar is ook  nog ses buiteposte rondom die dorp, waarvan die verste een 40 km weg geleë is.  Verder is hy ook tans die enigste leraar in die ring, wat beteken dat hy ses ander gemeentes met buiteposte so ver as 180 km van Kokstad af moet bedien.  “Ek lê maandeliks ongeveer so 2 000 km af.  Die afstande in die Transkei is nie altyd so groot nie, maar die grondpaaie is baie sleg.  ’n Mens ry dikwels tot twee uur om 50 km af te lê,” sê Christo.

Volgens Christo is die voertaal in sy bediening meestal isiXhosa.  Sy 460 lidmate in die Kokstad-gemeente is almal Xhosasprekend en so ook die 810 lidmate in die gemeentes op Lusikisiki en Bambisana.  Dan bedien hy ook nog ongeveer 500 lidmate in Sipetu 290 lidmate in Maluti.

“Die groot geografiese area wat ek tans moet bedien, asook die groot aantal gemeentes, bemoeilik my werk en is vir my ’n groot uitdaging,” sê Christo.  “Ek kan net hoop dat ons eendag weer al die vakante poste in die omgewing gevul sal kry.  Van die poste is al meer as tien jaar vakant en dit raak moeilik om al die werk binne al die gemeentes te hanteer.  In elke gemeente is daar soveel potensiaal opgesluit en dit frustreer my eindeloos dat ek nie tyd het om dit werklik te ontgin en ontwikkel nie.  In dié verband help leiers van die plaaslike gemeenskappe my baie. Ons het ongelooflike leiers in die onderskeie gemeentes en die gereelde opleiding van die leiers is vir ons ’n groot prioriteit.  Die gemeentes wat nie sterk plaaslike leiers het nie, ondervind uiteraard die meeste probleme.”

Christo vertel dat sy droom vir Kokstad sou wees dat hy in die laaste jare van sy bediening die geleentheid sou kry om net Kokstad se dominee te wees.  Hy en Deleste sou graag al hulle tyd en energie aan Kokstad se gemeente met sy buiteposte wou wy.

“Vir ons lyk dit tans onmoontlik,” sê Christo, “maar vir die Here is alles moontlik.”