Medemenslikheid in ’n tyd soos die

Deur: Ds. Callie Visagie

In ’n tyd soos dié, is dit ’n riem onder die hart om te sien hoe mense op ’n nuwe wyse na mekaar uitreik. In die straat waar ek bly, het een van ons gemeente se ouderlinge die inisiatief geneem om al die inwoners by ’n WhatsApp-straatgroep te betrek. (Slegs ongeveer 40% van die inwoners is lidmate van Stellenberg). Die mees interessante en besondere geleenthede vind deesdae soggens om negeuur plaas: Almal kom dan op hul grasperke uit (nog binne hulle eie erwe) en daar word oor en weer gesels en gekuier, soms met ’n verkyker in die hand om darem jou buurman doer onder ook soortvan in die oë te kyk!  Mense wat skuins oorkant mekaar woon, het mekaar na jare eers leer ken en aan die praat geraak. Onderlinge stories en verhale word gedeel . . . mense leer mekaar doodgewoon ken.

Oor die eeue heen het gelowiges in tye van nood en veral met groot epidemies, nie teruggedeins om te help en te ondersteun nie. Die kerk se dienswerk en betrokkenheid in noodsituasies was van die vroegste tye af een van die groot redes waarom die kerk gegroei het. God het deur sy Heilige Gees intrek geneem in mense se lewens.  Ook in myne en joune.

So gebeur dit dat God incognito in die strate van ons woonbuurtes en stad, in die gange van hospitale en in die tente en lokale waar toetse gedoen word, rondbeweeg . . . ’n ander onsigbare teenwoordigheid – in teenstelling met die kiem wat ons nie kan sien nie – incognito, omdat die mense nie vir God kan sien nie, maar wel vir ons raaksien.  God wil deur ons handelinge en teenwoordigheid (al is dit digitaal) vir diegene met wie ons kontak maak, iets van sy teenwoordigheid laat beleef.

In die voorafgaande dae tot die inperking het ons vanuit die kerkkantoor alle persone van 75 jaar en ouer (net nie diegene wat in Edelweiss is nie) geskakel om te hoor op watter manier ons hulle vanuit die gemeente kan ondersteun. Dit was wonderlik om te beleef met watter groot dankbaarheid almal reageer het, maar selfs beter om te hoor dat daar by al die persone wat ons kon bereik, géén bejaardes was wat nie getuig het van ondersteuning deur familielede, bure en kennisse nie!

Mag hierdie tyd ons weer baie meer bewus maak van ons afhanklikheid van mekaar. Mag ons sensitief wees om te luister na waar en hoe elkeen van ons gevra word om uit te reik.                                                                                                         Die Here plaas weerloses op elkeen van ons se pad . . .